Dis ‘propaganda’; géén SA soldate in DRK gee oor

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Die weermag verwerp “met minagting” berigte dat twee Suid-Afrikaanse soldate wat as deel van die SAOG-sending in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) ontplooi is, aan M23-rebelle oorgegee het.

Die webwerf National Security News het berig verskeie van Suid-Afrika se soldate wat in dié land ontplooi is, het oorgegee en word nou glo deur M23-rebelle as gyselaars aangehou. “Die afgelope week het die krisis met die Suid-Afrikaanse weermag se ontplooiing in die oostelike DRK vererger. Die Suid-Afrikaanse weermag het meer verliese gely toe hulle M23-formasies aangeval het. Tydens die geveg het verskeie soldate aan M23 oorgegee en is hulle saam met soldate van Malawi as gyselaar geneem,” het die berig aangevoer.

Die Suid-Afrikaanse weermag het dit onomwonde ontken.

“Die berig wat gepubliseer is deur ʼn naamlose Washington-korrespondent word verwerp met die minagting wat dit verdien. Dit is nie die eerste keer sedert sy ontplooiing na die DRK onder SAMIDRC dat sulke ongegronde nuusberigte oor die weermag  verskyn nie,” sê Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement van verdediging.

SAMIDRC is die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending in die DRK.

“Die weermag beskou sulke pogings deur naamlose mense om die weermag te diskrediteer in ʼn bitter ernstige lig en sal nie toekyk terwyl die weermag se goeie naam in oneer gebring word nie,” sê Dlamini.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het die berig in ʼn plasing op X as “propaganda” en fopnuus bestempel.

“Suid-Afrikaners moet altyd deur die weermag, wat in beheer is van die ontplooide soldate, ingelig word oor die veiligheid en welstand van sy lede in die DRK,” sê Monyela.

Maroela Media het vroeër berig daar is wel ernstige kommer oor die Suid-Afrikaanse weermag se ontplooiing in die DRK en dat dit teen “ernstige operasionele risiko” gedoen word.

Suid-Afrika het sedert Desember sowat 2 900 troepe in die ooste van die DRK ontplooi as deel van pogings om die M23-rebellegroep te beveg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Oor ‘n paar dae hoor ons twee SANDF lede is dood en vyf vermis. ‘n Paar dae later is vier dood en twee vermis.

Janine ·

“sal nie toekyk terwyl die weermag se goeie naam in oneer gebring word nie”….. Bwahahahahahahahahahahahahahahahaha! Dit kan net ‘n April grappie wees…

Marthinus W ·

National Security News is pro-Amerika, anti-Brics, en Andre Pienaar het so rukkie gelede iets vir hulle geskryf wat hier op Maroela geplaas is. Ons moet besef dat dit deel van Amerika se hibriede oorlog teen die Bricslande is. Dis sielkundige oorlogvoering, om ons weerstand af te breek.

Theo ·

Way se goeie ma’am hey die weer mag. Dat hulle niks beteken. O eksuus tog

koos ·

Die lesotho rebelle het die nuwe sandf se boude geskop so tydjie gelede, hoekom die DRC rebelle ook nie? Ek lag myself ‘n papie, oraloor is dit net onbevoegdheid.

Nie Verbaas ·

Die weermag se goeie naam sê hulle? Ek kan nie ophou lag nie.

trotsNAMSA ·

Hoe kan ‘n Regering soldate stuur vir “hulp” ? Die Weermag kan nie eers SA se grense beveilig nie.

Cassie Carstens ·

Hierdie is net nog ‘n politieke katastrofe wat deur die ANC geskep is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.