Weermag se ontplooiing in DRK des te meer rampspoedig

(Foto: Verskaf deur kykNET)

Die departement van verdediging het ʼn bodemlose put geword waarin belastingbetalers se geld doodeenvoudig verdwyn.

“Dit is dus nie verbasend nie dat die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) nie vir voorraad kan betaal nie,” sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder vir verdediging en militêre veterane, nadat dié departement se ouditkomitee gewys het dat slegs R800 van die R430 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes herwin kon word.

“Dit verteenwoordig ʼn herstelkoers van slegs 0,002%.”

Marais sê die DA het die voorsitters van die gesamentlike staande komitee oor verdediging versoek om die komitee weer dringend byeen te roep. By hierdie vergadering moet kommerwekkende berigte oor die operasionele krisis wat tans met die ontplooiing van Suid-Afrikaanse weermaglede in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) ontvou, bespreek word.

Volgens Marais word die weermag se ontplooiing in die DRK teen ʼn ernstige operasionele risiko gedoen.

“Dit sluit in die gebrek aan veldkombuise, geen dokters of verpleegsters om noodgevalle te hanteer nie, geen verkoelde vraghouers nie, ʼn gebrek aan ablusiegeriewe en geen geld om vir voorraad te betaal nie.

“Slegs ses toilette is glo beskikbaar vir ʼn kontingent van 600 soldate.”

Marais sê met hierdie haglike situasie behoort die komitee:

  • Die weermag se bevelstruktuur byeen te roep om te verduidelik waarom die ontplooiing gemagtig is, terwyl dit duidelik was dat die weermag se logistieke afdeling nie die kapasiteit het om operasionele infrastruktuur soos ablusiefasiliteite, mediese ondersteuning en kosvoorbereidingtoerusting te ontplooi nie;
  • In ag te neem dat die voortgesette ontplooiing van die SANW in die DRK talle weermaglede se lewe in gevaar stel, óf ʼn aanbeveling aan die parlement doen dat pres. Cyril Ramaphosa se ontplooiing-kennisgewing herroep word.

“In Februarie vanjaar was die DA die enigste party wat ʼn streng waarskuwing teen die DRK-ontplooiing gerig het.

“Ons het dit duidelik gemaak dat dit roekeloos is om troepe te ontplooi sonder voldoende steun of die nodige toerusting om doeltreffend in ʼn vyandige terrein soos die oostelike DRK te funksioneer.”

Hy sê die werklikheid is dat die weermag weens sy verswakte toestand van gevegsgereedheid nie aan die vereistes van buitelandse ontplooiing voldoen nie.

“Die ouditkomitee het die vreeslike bevinding gemaak dat ‘die departement ʼn baie hoë risikoprofiel het, risiko’s bly vir jare onbeperk”, wat deur die ouditeur-generaal se verslag gestaaf is.”

Hy sê om dit kortliks te stel: “Die ANC-regering het die land se weermag gebreek.

“Tensy die sistemiese uitdagings gepak word, hou die voortgesette buitelandse ontplooiing van die weermag ʼn wesenlike bedreiging vir die land se langtermynvermoë in om na ons eie nasionale veiligheid om te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jasmyn ·

Hoekom gaan veg ramaphosa nie self nie…. hys mos die dapperste van die dapperstes en die slimste van die slimstes wêreldwyd. Hy wil mos juis sy eie volk ook beskerm, nie waar nie?

Manie ·

Het enige van die soldate hulself laasweek oorgegee aan die M23 rebelle?

Cassie Carstens ·

Manie, ek weet nie met watter doel jy hierdie vraag vra nie. Maar Ramaphosa se besluit moet herroep word, voordat nog onskuldige soldate doodgemaak word. Sal ek en jydaar gaan veg? Nee, beslis nie.

Fubar ·

Wat sal gebeur as die poskantoor, weermag en polisie toemaak, en ontbind word? Kom ek sê jou: NIKS! Niemand sal hulle mis nie.

Hennie ·

@Manie, ja SA soldate het hulself oorgegee aan M23. Die Amerikaners het daarop berig, ANC is stil.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gerugte wil dit hê dat M23 word deur Rwanda bewapen met wapens afkomstig van Israel. Insluitend lugafweer missiele.

Di ·

Ons weermag kan nie eers ons eie grensposte beveilig nie, wat nog van gaan oorlog voer in ander lande. Ons weermag bestaan LANKAL nie meer nie.

koos10 ·

Sonder om die regering of enige koruptes se optredes te regverdig, wil ek graag net iets verduidelik.
Vrugtelose en verkwistende uitgawes is eintlik ‘n foutiewe Afrikaanse vertaling. In Engels is dit “Irregular Expenditure” wat beteken dat dit uigawes is wat nie behoorlik gemagtig is nie. Nie alle “Irregular Expenditure” is vrugteloos nie. Daar mag administatiewe foute by sommige aankope plaasgevind het, wat die Ouditeur Generaal dan dadelik as Irregular Expenditure” aanteken. ‘n Voorbeeld (let wel ‘n voorbeeld) kan wees dat ‘n voertuig twee bande bars op ‘n grond pad waar geen selfoon ontvangs is nie. ‘n Privaat sleep voertuig kom toevallig daar verby en kan die voertuig sleep tot by die naaste dorp teen R10000.00. Volgens voorskrifte moet uitgawes vooraf goedgekeur word, maar geen goedkeuring kan verkry word nie, want selfone werk nie. Die bestuurder laat die voetuig sleep en kry eers goedkeuring nadat die naaste dorp bereik is. Dit is dadelik ‘n Irregular Expenditure”, maar nie ‘n vrugtelose uitgawe nie.

Manie ·

Ek vra die vraag omrede dit verswyg word in SA Cassie. Dis ‘n absolute skande op ons regering se naam, maar dit word gerieflik onder die mat gevee.

Danie ·

Se wat jy wil die sogenaamde weermag kan hulle self nie eers help nie wat nog van ander.Dis n vernedering vir SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.