‘n Duitse skatjagter wat met ‘n metaalverklikker ‘n skat aan ou Romeinse goue en silwer munte en juwele opgespoor en onwettig uitgegraaf het, is sy vonds kwyt, nadat argeoloë op die vonds beslag gelê het.
Die Duitse owerhede kla dat die honderde skatjagters wat woude en ander moontlike terreine met metaalverklikkers deurkruis, ‘n oorlas van hulself maak. Hulle rig soms enorme skade aan, soos die jongste geval waar die ongenoemde skatjagter ‘n silwer opvoustoel in die proses vernietig het. Die man het die vonds skynbaar op die swart mark begin verkwansel.
Die skat is na raming sowat 1 500 jaar oud, en dateer uit die tyd toe die Romeinse Ryk aan die verkrummel was. Germaanse stamme het deur die gebied getrek, en sowel die Romeine as mekaar se besittings geplunder. Dit is dus nie bekend of die skat deur die welgestelde Romeinse eienaar begrawe is nie, en of ‘n Germaanse “barbaar” sy buit begrawe het, maar nie weer kon kom uithaal nie.
Die vonds is sowat ‘n miljoen euro’s (sowat R15,1 miljoen) werd.
Sewe foto’s van die skat kan hier besigtig word.
Bron: The Local