E-tol: Paaie gesluit vir optog

Sekere paaie in Pretoria en Johannesburg gaan Vrydag gesluit word weens die Cosatu-optog teen die e-tolstelsel.

“Betogers ontmoet mekaar om 09:30 op die hoek van Sophie de Bruyn (Schubart) en Johannes Ramokhoasestraat (Proesstraat) in Pretoria. Die groep sal na die departement van vervoer en die departement van finansies stap om memoranda teen die e-tolstelsel in Gauteng te oorhandig,” het Console Tleane, woordvoerder vir die stad Tshwane, gesê.

Die optog sal omstreeks 14:00 by die stadsaal eindig.

“In Johannesburg ontmoet betogers mekaar vanaf 09:00 by Mary Fitzgerald-plein in Newtown,” het Wayne Minnaar, hoofsuperintendent van die metropolisie, gesê. Dié groep sal na Nomvula Mokonyane, premier van Gauteng, se kantoor in Simmondsstraat stap, die departement van vervoer in Pritchardstraat en die departement van behuising in Sauerstraat, om memoranda te oorhandig.

Cosatu het die optog gereël met die doel om die e-tolprojek te skrap. Die betogers sal ook hul misnoeë oor die sloping van onwettige geboude huise in Lenasia, vroeër hierdie maand, uitspreek.

“Die regering doen ʼn beroep op betogers om hul reg om te betoog binne die wet uit te oefen,” het Thabo Masebe, woordvoerder vir die regering, gesê.

Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris van die vakbondfederasie Cosatu, het gedreig dat sy lede die tolhekke sal sloop indien die regering nie die stelsel skrap nie. Dakile het egter Donderdagoggend aan EWN gesê hy het bedoel die regeringsbeamptes wat die huise in Lenasia gesloop het, moet ook die tolhekke sloop.

Zwelinzima Vavi, uitvoerende hoof van Cosatu, het gesê Vrydag se betogings is maar net die begin. “Ons gaan op 6 Desember nie net ʼn optog hou nie, maar die regering ʼn smakie gee van dit wat hulle in Maartmaand kan verwag indien die wet goedgekeur word en hulle probeer om e-tol op ons af te dwing,” het hy gesê.

Die Pretoriase hooggeregshof het Woensdag uitspraak op die toekoms van die e-tolstelsel voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.