Eddie Jones wil geskiedenis teen Bokke maak

Eddie Jones. (Foto: Twitter)

Die Wallabies se afrigter, Eddie Jones, is vasbeslote om oor ʼn week geskiedenis teen die heersende Rugbywêreldkampioen te maak wanneer Australië teen Suid-Afrika meeding.

Die voormalige afrigter vir Engeland het by Dave Rennie oorgeneem wat in Januarie die trekpas gekry het. Sedertdien werk Jones meedoënloos om te verseker dat Australië se spelers ʼn groep is wat sake by die Wêreldbeker-toernooi op die kop kan keer.

Een van die maniere hoe Jones sy spelers brei, is om die wil om te wen by hulle te kweek. Dié deursettingsvermoë gaan op 8 Julie op Loftus Versfeld tydens die Rugbykampioenskap-kragmeting behoorlik getoets word.

Jones sê hy is deeglik bewus dat Australië oor sewe wedstryde wat tot 1963 terugdateer, nog nie ʼn oorwinning op Loftus kon behaal nie, maar hy sê ook dit is juis nou die kans om geskiedenis te maak.

“Ons wil die eerste [Australiese] span wees wat dit doen,” sê hy.

“Die belangrikste ding is die ingesteldheid wat jy moet hê. Jy moet dink jy kan wen en dan moet jy ʼn wedstrydplan uitvoer waar jy genoeg besit wen dat jy hulle na die ander kant van die veld kan stoot en onder druk hou.”

Die Wallabies by ‘n vorige wedstryd. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Oor die kwessie of Jones ʼn skopstrategie gaan volg, sê die breier hulle sal haas enigiets doen wat nodig is om aan die ander kant van die veld te kom.

“Of jy nou hardloop of aangee of skop; dit maak nie saak nie, solank jy net daar uitkom.”

Jones het altesame 34 spelers gekies vir die Rugbykampioenskapspan.

Met die span se vertrek na Suid-Afrika moes hy egter vier spelers agterlaat: Andrew Kellaway, Jordan Petaia, Matt Philip en Langi Gleeson wat almal steeds van beserings herstel.

“Dit is ʼn nuwe span, nuwe afrigters, nuwe spelers en nuwe kapteine,” sê hy.

“Ons gaan nie sake vooruitloop nie,” sê Jones.

“Daar is ʼn naelloop, ons wil vinnig by die hekke uit, maar soms wen die naelloop nie die marathon nie. Ons fokus nie op Suid-Afrika nie, ons fokus op onsself. Dít is ʼn wedstryd oor ons, ons wil ʼn nuwe standaard vir Wallabies-rugby stel.”

Die veteraan-skrumskakel Nic White sê Jones het deurentyd dissipline as ʼn prioriteit gestel en skeidsregters na elke oefensessie gebring.

“Hy laat niemand bloot net op die veld of van die veld af dwaal nie. Hy is gedurig op jou spoor,” sê White.

“Alles gaan oor ʼn wen-ingesteldheid, en dit is aansteeklik. Ons is tans op ʼn goeie plek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie Biebouw ·

EK dink die Engelse gaan nog laaaaang trane huil omdat hul hom voor RWB 23 laat gaan het.

duiweboer ·

Eddie Jy gaan dit doen. Ons Bokke gaan net agter uit by die dag. Jammer om te Se dat die kwota sisteem werk nie. Kyk maar na ons jong bokkies

etienne ·

Daar wen ou Eddie al weer die wereldbeker nog voor die toernooi begin het.

Anel ·

Hier by ons gaan niks meer oor wen nie, solank die hoeveelheid kwotas in die span is, is alles klopdisselboom. Absolute komunistiese siening. Niemand mag beter wees as ‘n ander nie. Hoekom ons dan nog aan enigiets deelneem weet nugter alleen!

Hennie Biebouw ·

Al wat vir my saakmaak, is hoe die Bokke in September speel…ek kan nie gepla wees oor hierdie SANZAR prul nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.