Is SA se eiendomsmark in ’n groef?

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

Foto: Mastersenaiper/Pixabay.com

Het die Suid-Afrikaanse eiendomsmark in ʼn groef verval? Gegewens wat deur eiedomskenners en banke uitgereik is, toon ʼn wisselvallige prentjie vir die sektor. Tog is daar rede vir optimisme.

Een feit staan egter soos ʼn paal bo water uit. Dit is dat die Wes-Kaap vanjaar swakker vaar in die eiendomsmark vanweë die knellende droogte in die provinsie. En dit blyk dat Gauteng die land se beste eiendomsmark tans het.

Dit word vervat in ABSA se Huiseienaarsindeks. Volgens dié indeks het eiendomsmark-sentiment in die Wes-Kaap met 11 persentasiepunte van die vierde kwartaal van verlede jaar in vergelyking met die eerste kwartaal van vanjaar verswak.

In Gauteng en KwaZulu-Natal het sentiment ook ietwat verswak, maar stewiger as die Wes-Kaap gevaar.

Intussen het die huismark nog positiewe nuus ontvang. Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se toonaangewende aanwyser, wat gister vrygestel is, was die grootste positiewe ontwikkelinge in Februarie die aantal huisplanne wat goedgekeur was.

ʼn Eiendomskenner by First National Bank (FNB), John Loos, het op sy blog geskryf dat hy vanjaar steeds goeie groei in die huismark verwag. Hy skryf dit toe aan verskeie bydraende faktore. Dit sluit die sterker rand, laer inflasie, stabilisering van kospryse en ʼn verlaging in rentekoerse in.

Volgens Loos was verlede jaar gekenmerk deur swakker vraag en aanbod op die eiendomsmark. Hy se dit het gevolglik daartoe gelei dat 95% van huisverkopers hul pryse verlaag het.

Nog ʼn ekonoom by FNB, Dawie Maree, sê die droogte in die Wes-Kaap het ʼn kritiese punt bereik. Hy sê dat die dalende watervlakke in die provinsie ʼn groot kommer is.

Volgens Maree het die droogte nie net ʼn uitwerking op die huismark nie, maar ook op die landbousektor. Hy sê dit kombineer om die vooruitsigte vir die provinsie te knou.

Intussen is Loos van mening dat die huismark se herstel vanjaar, ofskoon matig, ook ondersteun word deur verslae van die Reserwebank en die aanstelling van Cyril Ramaphosa as president.

Hy voeg by dat, indien die rand verder verstewig, dit die eiendomsmark ʼn verdere hupstoot kan gee. Die rand, wat gedurende November teen R14,47 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel het, kos tans gemiddeld R12,30 teenoor die Amerikaanse eenheid.

Loos voeg by dat ʼn verbetering in ekonomiese aktiwiteite onder Ramaphosa verwag word. Hy meen dat dit ook die sektor kan steun.

Intussen sê die eiedomsagentskap Etchells & Young dat eiendomsagente hoopvol is dat sake vanjaar beter sal verloop. Die groep sê dat die huismark vanjaar ook kan verbeter omdat politieke en ekonomiese risiko afgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Andre ·

Wat van die sprake van beslaglegging op eiendom sonder vergoeding ?

Kannaland ·

Nee, dis die groot olifant in die kamer waaroor geen ekonoom wil praat nie. Geen manier dat ek eiendom in die land sal koop nie. Skuif eerder geld buiteland toe.

JoeV ·

Vreemd dat die mark nie heeltemal in duie stort nie. Banke loop uiters groot risiko om huidige verbande te verloor wat nog van verdere verbande uitneem!

Reguit ·

Almal weet goed wat met die eiendomsmark (en ekonomie) gaan gebeur. Dit is net ‘n kwessie van tyd. So dankbaar ek kon alles betyds verkoop.

AMMIE ·

Ek kan getuig dat daar nie werklik iets aangaan in die eiendoms mark nie. Ons verskaf aluminium vensters en deure aan bouers in Pretoria, Gauteng en ons was eers genoodsaak om personeel op kort tyd te sit en toe afleggings te doen vanaf Februarie maand. Die meeste van ons bouers kry ook nie werk nie. Die werklike rede is dat witmense nie meer huise bou nie. Ons doen klein werkies om aan die gang te bly en bid en vertrou dat dit spoedig beter sal gaan in ons land. Kyk net op die straathoeke in die oggende op pad werk toe hoeveel mense sit en hoop dat iemand vir hulle ‘n werkie het vir die dag en elke oggend is die getalle meer wat sit en hoop! In die konstruksie bedryf is daar baie besighede en sub kontrakteurs wat nou swaar kry. Ons beleef tans en is nie baie hoopvol dat dit die jaar sal verbeter nie as mens kyk hoe dit gaan in ons land nie.

Casper Labuschagne ·

Luister iemand hoegenaamd? Ek twyfel.

Wie gaan ‘n plaas of huis of fabriek koop as daar nie net sprake nie, maar besliste beloftes en selfs ‘n aanvaarding in die nasionale wetgewer is om onteiening sonder vergoeding in te stel? Watter bank gaan aan enige wit persoon ‘n verband toestaan as die uitsluitlike doelstelling van onteiening sonder vergoeding sal wees om die eiendomme van witmense af te neem? Dus het eiendomsagente baie verkopers en min kopers en verkoop tans amper net eiendomme aan swart kopers wat wel verbande kan kry.

En sou alle eiendom in die toekoms aan die staat behoort, en sou daar ‘n langtermyn huurpag bestaan wat verhandelbaar is, hoe gaan eiendomsagente daaruit kan geldmaak as die staat self die verhurings hanteer?

Eiendomsagente en prokureurs wat in aktes spesialiseer sal noodgedwonge nou al ander loopbane moet oorweeg want die skrif is aan die muur – en dit is nie ek wat so sê nie, dit is die staatspresident, die regerende party, die leiers van die EFF en die parlementslede in die nasionale wetgewer wat reeds met die nodige 66.6% meerderheid ten gunste van OSV gestem het.

Maar moet my nie glo nie, droom voort.

Casper Labuschagne ·

Hoop op die beste en beplan vir die ergste.

Uit ‘n suiwer ekonomiese oogpunt is John Loos dalk reg, die eiendomsmark gaan verbeter en daar is redes hoekom. Soos in ander sosialistiese lande sal slegs die staat en die 1% super rykes nuwe huise aanbou. Gevolglik sal die aanbod van huise vorentoe grootliks vasgestel bly op die beskikbare hoeveelheid huise wat tans bestaan.

Niemand weet nog watter vorm onteining sal inneem nie, maar die huidige gevoel is dat dit sal wees in die vorm van ‘n langtermyn huurpag wat eiendomsreg sal vervang. So ‘n huurpag sal dan verhandelbaar wees en sal ook aan banke sekuriteit bied vir lenings. Die pryse van sulke huurpagte sal in die hoogte in skiet want die aanvraag sal aanhoudend groei namate die bevolking vermeerder terwyl slegs die staat nuwe huise sal aanbou en dan slegs huise op ‘n intreevlak.

Die slegte nuus vir huidige wit eienaars van eiendomme is dat daar slegs twee faktore is wat verseker sal gebeur:
* Onteiening SONDER vergoeding
* Ontmeming van eiendomme vanaf wit persone ten gunste van die meerderheid oorspronklike swart inwoners

Gevolglik moet die aanname gemaak word dat wit persone nie vir hul bestaande eindomme vergoed sal word nie, dat die meeste wit persone se eiendomme oorgedra sal word aan oorspronklike inwoners en gevolglik dat meeste wit persone geensins sal baat vind in die komende beduidende verhoging in eiendomspryse sou ‘n huurpagstelsel ingestel word nie.

Maar niemand weet regtig nie, ons kan net bespiegel.

Willie ·

Geen nugter denkende mens sal op hierdie stadium in enige eiendom belê nie, behalwe as jy ‘n voorheen benadeelde is met stewige konneksies in die ANC. Ons het altyd nog die idee gehad dat dit goed sal wees om so gou moontlik jou verband af te los, dan het jy ten minste die sekerheid van ‘n dak oor jou kop. Toe nogal nie! Ek as grond eienaar sien myself vorentoe slegs as ‘n huurder en die dag dat die onteiening kom, sal ek my debiet order verander na die nuwe landlord toe. Jammer vir die wat reeds opbetaalde eiendom het. Is ek negatief? Beslis, maar ook realisties, slegs ‘n jaar voor my aftrede!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.