Geskiedenis en polemiek: Hulle speel die media en nie die bal nie

As my geskiedenis ander vervreem

Pas het die hoofredakteur van die Nederlandse koerant, Trouw, in ’n ongewone stap self ’n brief gepubliseer waarin hy meen die kritiek waaronder een van die koerant se rubriekskrywers, Sylvain Ephimenco, nou deurloop soms te erg is. Hy verduidelik dat Sylvain ‘n polemiekskrywer is.

Die afgelope week het ‘n rubriek van Henry Jeffreys, ‘n oud-redakteur van Die Burger, eers in Die Burger verskyn, en daarna in Volksblad en Beeld. Jeffreys haal die lang messe vir dr. Pieter Mulder uit oor wat nou reeds ‘n afgesaagde sage is oor wie waar eerste die land beset het. Word Mulder se toespraak langs Jeffreys se artikel geplaas, is dit duidelik dat Jeffreys, soos baie van die histerieblasers, vir Mulder kap oor iets wat Mulder nie gesê het nie. Onder diegene wat Jeffreys vir onverantwoordelike rubriekskrywing uitlooi, tel oudminister André Fourie en prof. Hermann Giliomee.

Dat ‘n groot deel van die media die wolhaarstorie oor wat Mulder gesê het as die waarheid bly verkwansel is ‘n feit. Dat sommiges moedswillig is, is heel duidelik so. Dat sommiges egter self verleë is oor die donkie-ore wat hulle aangesit is, is ook duidelik soos die haas waarmee Volksblad Fourie se brief en Gillomee se artikel geplaas het. Om hierdie koerante met dieselfde oordeel te beoordeel is om die media en nie die bal te speel nie.

So ver vasgestel kan word was die herkoms van die gekonkelde weergawe ‘n mediaverklaring van Mmusi Maimane, DA woorvoerder, onder die opskrif “Dr Mulder needs a history lesson.” Tot in daardie stadium was die beriggewing, soos dié van Sapa oor Mulder se toespraak suiwer. Wat Jeffreys so laat deurloop is dat hy as rubriekskrywers die wolhaarstorie steeds as anker gebruik na die waarheid al lank wyd bekend was.

Dis egter nie al nie. In die Maxipers (die naweekpers met Max du Preez) seil Max onder AfriForum in oor sy “Ons was daar”-veldtog wat ten doel het om die geskiedenis reg te trek. Dit volg na pres. Jacob Zuma weer tydens die ANC se eeufeesvieringe die revolusionêre magte se fiktiewe oorwinning by Cuito Cuanavale opgehemel het. Die werklike historiese gebeure is kompleks en historici sal nog seker ‘n ruk presies agter die kap van die byl probeer kom. Wat egter duideliker is dat Max meen AfriForum verhard net houdings en stimuleer verdere onverdraagsaamheid teenoor die Afrikaner.

Eietydse negrofiliste verskil nie veel van die dié van die berugte sendelinge, Reid, Van der Kemp en Phillips nie. In sy manifes het Piet Retief reeds na die verskynsel verwys:  “Ons kla oor die onregverdige blaam wat op ons gewerp is deur betrokke en oneerlike persone, onder die mantel van godsdiens, wie se verklarings in Engeland geglo word met die uitsluiting van alle getuienis in ons guns; en ons kan as ‘n gevolg van hierdie vooroordeel, niks anders as die algehele ondergang van die land voorsien nie.”

Wanneer die Afrikaner vir sy regte baklei, word dit deur vyfdekolonners veroordeel, soos met AfriForum se haatspraakverhoor teen Julius Malema. Nou, so blyk dit, mag ook nie op korrekte geskiedkundige feite aangedring word nie, omdat dit aanstoot sou gee.

Bevorder die grondwet regte of versoening of beide?

Die ironie is dat die einste vyfdekolonners die hardste voorpraters is oor hoe ‘n goeie grondwet die land nou het. So lank, so lyk dit, die Afrikaner tog net nie aanstoot gee om hierdie grondwet in te span nie. AfriForum se saak was immers primêr op die Handves van Menseregte in die grondwet geskoei.

Die regte van kultuurgemeenskappe word op verskeie plekke in die grondwet gewaarborg. Trouens, in die betitteling van die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe blyk dit dat daar ook ander regte moet wees as bloot die kulturele regte van daardie gemeenskappe. Definisies van die term “volk” loop wyd maar gewoonlik is die deel van ‘n gemeenskaplike historiese ontwikkeling aanwesig.

Kortom, vir die Afrikaner is dit belangrik dat sy identiteit nie deur historiese verdraaiings verongeluk word nie. Daarom is daar ook verskeie Afrikaanse inisiatiewe om Suid-Afrika se geskiedenis suiwer te probeer opteken.

En ja, daar is ook in die verlede gefouteer. Presies hoeveel, het enkele jare gelede geblyk in ‘n kerkblad wat ‘n afgetrede teologiese professor se artikel oor die Geloftefees gedra het. Hy spandeer baie tyd in die artikel daaraan om die lesers uit te trap oor hulle nie meer hul geskiedenis ken nie. Net om dan self in die strik te trap en te skryf van die vroue en kinders in die laer van Bloedrivier – iets wat Andries Pretorius ten sterkste belet het. Hy meld niks van die swart en bruin mense in die laer, soos Alexander Biggar se kontingent swart soldate uit Port Natal nie.

Rubriekskrywers, of hulle polemiekskrywers of hekelskrywers is, is egter nie vrygestel van feitlike suiwerheid nie. Trouens, hul bydraes kan uiteindelik ‘n waardevolle bron vir geskiedkundiges in die toekoms wees om die vertolkingsvleis aan die feite-gebeente te heg. Vir die huidige is rubriekskrywers egter daar om mense se gedagtes te prikkel, om as denkende mense te ontwikkel. Om te help sog dat die demokrasie nie vervlak tot stemme wat deur oningeligte stemvee uitgebring word nie.

Danksy die ANC se rassebenepenheid is die gemeenskap in ‘n groot mate rasbehep, en stereotipering ontwikkel so maklik. Jeffreys se verantwoordelikheid vir akkuraatheid is dus nie net vir sy eie sak belangrik nie, maar as ‘n mens in gedagte hou dat sy eertydse adjunk-redakteur by Die Burger, Zelda Jongbloed, oor die Reitz-4 se saak, na die afhandeling, in ‘n rubriek nog onder die indruk was dat die aksies met die swart skoonmakers skelm afgeneem is. Slegs die geringste medianavorsing sou aan die lig bring hulle het nie net geweet die video word geneem nie, maar dat hulle vriende gevra het om saam te kyk toe dit aan hulle vertoon is.

Kortom, daar moet gewaak vir ‘n stereotipering dat bruin rubriekskrywers se feite maar met ‘n knippie sout geneem word.

Rhoda Kadalie, Solomon Hussein en baie ander verdien nie om deel van hierdie soort stereotipering te word nie.

Net te veel versoeningspogings in die land is al deur leuens gerysmier. Versoening behels egter nie net wat een kant wil hê nie, soos die ANC leierskap in die Tshwane-metro in ‘n stadium aangevoer het – hulle verander Pretoria se naam ter wille van versoening. Nou nie sodat mens dit sou agterkom nie.

As almal dit erns maak daarmee om die geskiedenis suiwer te hou – met die soet en suur vir almal – is daar minstens een twispunt minder wat versoening in die wiele kan ry.

Verskeie instansies het die Media Monotoring Africa se inisiatief vir die sestiende herdenking van die grondwet met ‘n grondwetweek aangegryp. Die FW de Klerkstigting skryf hieroor onder meer: “Die Grondwet is ‘n versigtig gebalanseerde dokument wat ‘n historiese kompromis tussen al die belangrike sektore van ons samelewing verteenwoordig. Dit verteenwoordig die vreedsame resultaat van dekades van politieke stryd en is gegrond op die beginsels van gelykheid, menswaardigheid en gelyke genieting van alle regte. Dit is gegrond op nie-rassigheid en die oppergesag van die reg.”

Maar hierdie grondwet, soos alle ander ter wêreld, moet wérklik in die harte van almal ingebrand wees om suksesvol te kan wees, en solank versoening afwesig is, solank een of meer minderhede volgens die VN se definisie aan volksmoord onderwerp word, sal dit nie werk nie. Dit geld ook enige ander alternatief wat meer afgestem is om die land se diversiteit staatkundig te ondervang. Dat Zuma en kie nou reeds by herhaling die “historiese kompromis”, soos die Stigting dit noem, as ‘n oorwinning vir die ANC voorhou, is dit die ANC, en nie AfriForum nie, wat polarisasie aanblaas.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae