Vier gevangenes moes Donderdag uit ʼn polisietrok gesny word na die trok met ʼn ander polisievoertuig gebots het.
Adjudant-offisier November Filander het gesê die vragmotor en voertuig was op die N1-snelweg onderweg na die Goodwood-tronk in Kaapstad. “ʼn Polisievoertuig wat die trok vergesel het, het teen 08:30 teen die kant van die polisievragmotor gebots. Die vragmotor het naby die Monte Vista-afrit omgeslaan en die gevangenes vasgekeer,” het Filander gesê.
Nooddienswerkers het die gevangenes vir ligte beserings behandel. Twee beamptes wat in die voertuig gery het, het rug- en nekbeserings opgedoen. ʼn Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
– Sapa