Goud, silwer en brons vir Chelize in Turkye

Chelize Henry saam met haar ma, Elize. Die jong sportster het omtrent die medaljes in Turkye ingeryg. (Foto: Verskaf)

Soms kan jy ’n storie met net een sin opsom; in hierdie geval is dit ʼn eenvoudige stelsin: Chelize Henry kan nog diep in Suid-Afrikaanse sportliefhebbers se harte kruip.

Maar jy koop mos nie ʼn storieboek net om die kort beskrywing op die omslag te lees nie, of hoe? Aikôna. Jy lees daardie boek van voor tot agter en as daar ʼn paar lekker hoofstukke is, lees jy dit sommer vinnig vir ʼn tweede keer deur.

Hierdie jong sportster van Pretoria se verhaal beloof dan immers om binnekort ʼn topverkoper te word.

Chelize is 18 jaar oud en ʼn downsindroom-swemmer en -atleet (Mosaïek) wat by die afgelope Trisome-Wêreldspele in Turkye omtrent die medaljes ingeryg het.

Sy het op die podium vir haar rugslagvernuf in die swembad gestaan, terwyl sy ook goud (spiesgooi) en silwer (verspring) op die atletiekveld gesmaak het. In geheel het sy met agt medaljes huis toe gekom.

Chelize is ʼn lid van die Club21-sentrum in Centurion, waar sy saam met haar Tukkies-afrigters oefen. By die huis word daar ook saam met ma (Elize) en oupa (Willie Pieterse) aan haar vaardighede gewerk.

Sy is omtrent in haar noppies met haar spiesgooiprestasie in Turkye.

“Ek het ʼn goue medalje gewen om al my mense trots te maak. Soos my oupa altyd vir my sê – die Here het my stérk gemaak,” het Chelize Woensdag in ʼn spesiale boodskap aan Maroela Media gesê.

Chelize is oorgehaal om Suid-Afrika trots te maak. (Foto: Verskaf)

Sy erken dat sy ʼn sagte plekkie vir swem het, maar terselfdertyd word daar ook hard gewerk om ʼn sterker atleet te word.

“Ek oefen elke dag, behalwe Sondae, want dan rus ek. Wanneer ek nie lus is om te oefen nie, herinner Mamma my altyd dat dit lekker is om medaljes te wen en om my talente vir liewe Jesus te wys. Ek wil eendag nog baie vinniger swem.”

Volgens Chelize is sport en oefening belangrik vir haar.

“Ek is ʼn goeie sportvrou en so sterk soos ʼn regte bees.”

“Ag, ʼn leeu, bedoel ek!” korrigeer sy haarself laggend.

“Ek hou van oefening sodat ek elke dag fiks kan wees. En ook om gewig te verloor!” voeg sy vinnig by.

Minke Janse van Rensburg is haar groot sportheldin. Die twee het juis saam na Turkye getoer waar die wêreldrekordhouer van George ook ʼn klomp medaljes losgeswem het.

“Sy is ʼn baie vinnige swemmer en sy is my maatjie.”

Chelize geniet tans ʼn welverdiende blaaskans, maar van Mei is dit weer skouer aan die wiel om gereed te wees vir volgende jaar se kampioenskap in Praag.

“Oor vier jaar wil ek ook graag in Mexiko deelneem. Dan wil ek medaljes wen – alles goud – om my vriende, my ouers en almal van julle trots te maak,” sluit sy af.

  • Luister hier hoe Chelize Henry in haar eie woorde van haar liefde vir sport praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andriette ·

Pragtig Chelize!!!! Suid Afrika is trots op jou. Hou so aan. Jy is ‘n inspirasie vir ons almal.

Lettie ·

Baie geluk Chelize. Jy maak ons trots. Strewe jou doel voluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.