Downsindroom-swemsensasie ryg medaljes in

(Foto: Verskaf)

Minke Janse van Rensburg (18), Suid-Afrika se downsindroom-swemsensasie en die nasionale gestremde sportvrou van 2023, het die afgelope week wéér die een medalje ná die ander by die Trisome Games wêreld-swemkampioenskap by Antalya in Turkye ingeryg.

Hennie Janse van Rensburg, Minke se trotse pa, het Maandag breëbors aan Maroela Media vertel dat dié koersvaste swemmer – ten spyte van uiters strawwe kompetisie – tans die wêreld se vinnigste downsindroom-swemmer in die 50 m- sowel as die 100 m-vryslagitem is.

“Minke het op die vyfde dag van die kompetisie reeds twee goue en twee silwermedaljes ingeryg. Sy het in die 100 m-vryslag haar titel as wêreldrekordhouer gestand gedoen deur met ʼn meter te triomfeer.

“Sy het ons ook aangenaam verras deur die 200 m-vryslag-wêreldrekordhouer, Camino Martinez de la Riva van Spanje, in dié item te klop, en nog ʼn goue medalje te verower,” sê Hennie.

Sy het tydens dié item besluit om teen haar 100 m-pas te swem en volgens haar pa het haar harde werk en fiksheid haar gehelp om die pas “end uit vol te hou”.

“Martinez de la Riva het ná die eerste 100 m besef dat die gaping tussen haar en Minke te groot is en het vreesloos voluit gegaan om Minke in te haal – dit het egter tot gevolg gehad dat sy moeg geraak het en nie haar sterk eindpoging gestand kon doen nie.”

Minke het ook silwermedaljes in die 50 m- sowel as die 100 m-vlinderslagitem verower.

(Foto: Verskaf)

“Sy het tot dusver aan agt items deelgeneem en het – buiten die 50 m-borsslag – na elke finaal deurgedring. Sy het ook in elke item op die wêreldranglys verbeter. In rugslag het sy van die sewende posisie tot die vierde posisie op die ranglys opgeskuif en in die individuele wisselslag het sy van agste posisie tot die vierde posisie verbeter.

“Haar borsslag kelder haar egter in die wisselslag, maar ons sal hard daaraan werk,” sê Hennie.

Minke sal vanaand aan die 50 m-vryslagfinaal deelneem. Sy het tans die vinnigste kwalifiserende tyd en hou ook die wêreldrekord in hierdie item.

“Ons is optimisties dat sy nog ʼn goue medalje vanaand vir ons kan huis toe bring, maar ons besef ook dat enigiets kan gebeur. Van die deelnemers wat kort op haar hakke was – wat rekordtye aanbetref – het uitgeval. Dit wys jou net hoe sterk die kompetisie en opkomende kompetisie hier is,” sê hy.

(Foto: Verskaf)

Afgesien van die uitmuntende prestasies, sê Hennie en Aletta, Minke se ma, dat hulle verheug is om te sien hoe Minke tussen die 1 300 downsindroom-deelnemers tydens haar aftye kuier.

“Hier is atletiek-atlete, swemmers, tennisspelers, sokkerspelers, tafeltennisspelers, gimnastiek en nóg meer. Dit is ʼn fantastiese geleentheid, ek het in my lewe nóg nie so iets beleef nie. Die kompetisie in al die sportsoorte is ontsettend sterk, almal is so geoefen, jy sal nie glo hoe hierdie deelnemers presteer nie – dit is uit ʼn ander wêreld uit.”

Minke sal op 27 Maart na Suid-Afrika terugkeer en omstreeks 16:45 by die George-lughawe land.

Haar ouers is in hul noppies oor Minke se prestasies en het die Fish Eagle Aquatics-span en veral haar afrigter, Franna Vorster van die Garden Route Swemskool, “vir al die ure wat hy ingesit het om haar vir dié byeenkoms voor te berei”, bedank.

“Dit sal wonderlik wees as spanmaats en ondersteuners hul weg sal oopsien om Minke by die lughawe te verwelkom. Dit is hierdie tipe erkenning wat haar motiveer om so hard te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skappie ·

Baie geluk, Minke Jou ouers kan baie tros op jou wees. Mooi, hoor.

africangrey ·

Liewe Minke,

Ek volg jou hier in Nederland,
Baie baie geluk met al jou uitmuntende prestaties, as ek kon het ek jou ingewag by die lughawe op George!!!! Ek hoop daar gaan sommer baie mense wees om jou te verwelkom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.