Identikits van jong ma se beweerde moordenaars uitgereik

Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Die polisie het identikits uitgereik van die twee mans wat glo verlede week Chanelle Henning in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet het.

ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Duane Lightfoot, sê niemand het nog na vore gekom met nuwe inligting na die identikits uitgereik is nie. Lightfoot het egter bevestig dat die Valke en ander spesialis ondersoekeenhede by die saak betrokke is. Henning (26) is Dinsdagoggend doodgeskiet kort nadat sy haar seuntjie, Benjamin (5), by die Moring Star Montessori-kleuterskool afgelaai het. Twee mans op ʼn motorfiets het Henning glo agtervolg en haar deur die venster van haar motor doodgeskiet. Henning het glo vroeër vir haar ouers gesê sy vermoed sy word agtervolg. Die motorfietsryers is glo Dinsdagoggend voor die moord in die omgewing opgemerk. Henning se ouers het intussen volgens berigte toesig verkry oor Benjamin nadat hy eers in ʼn plek van veiligheid geplaas is na die moord op sy ma. Rapport het Sondag berig dat Benjamin glo sy ouma en oupa vertel het dat hy die moord aanskou het. ʼn Roudiens word Maandagmiddag vir Henning in Hartbeespoort gehou.

Volgens die polisie is een van die verdagtes ʼn wit man tussen 35 en 40 jaar oud en sowat 1,7m lank. Hy is maer, het ʼn ligte vel en ʼn snor.

Die ander verdagte is ʼn wit man tussen 50 en 55 jaar oud en sowat 1,86m lank. Hy het ʼn ligte vel en is middelmatig gebou met ʼn boepens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae