Droogte nie al wat Karoo-boere op hul knieë bring

Die abattoir.

Karoo-boere wat reeds jare lank onder knellende droogte gebuk gaan, word nou ook lamgelê deur die hoë vastekoste wat Eskom hef om krag aan plase te voorsien.

Die gevolg is dat baie boere deesdae sonder elektrisiteit moet klaarkom omdat Eskom die krag weens agterstallige rekenings afgesny het.

“Ons kon nog altyd vir ons verbruik betaal, maar ons kan nie meer Eskom se vaste tariewe bekostig nie,” sê Amanda Theunissen wat saam met haar man, John, op die plaas Scheurfontein tussen Beaufort-Wes en Klaarstroom boer.

Eskom se heffings is sowat R3 000 per maand vir elke toevoerpunt op ʼn plaas en dié bedrag is dikwels aansienlik meer as die boer se rekening vir kragverbruik.

Op Scheurfontein is daar ʼn aansluiting by ʼn spilpunt, ʼn plaasstal en ʼn abattoir, maar alle bedrywighede het nou tot stilstand gekom omdat die Theunissens nie meer die vastekoste kan bybring nie.  Hulle kan ook nie water pomp nie en hulle hoofbron van inkomste, vrylopende Karoolam, is dus ook daarmee heen.

Die hamermeul staan sonder krag.

“Alles het krag nodig, so die abattoir het sy deure gesluit en die spilpunt staan terwyl die lusern verdroog op die lande,” sê John moedeloos.

Getroue plaasarbeiders het ook een vir een weggetrek omdat daar nie meer werk of geld is nie. Die Theunissens het selfs later hulle padstal aan twee jong vroulike werknemers oorgegee sodat hulle self ʼn inkomste kon genereer, maar sonder elektrisiteit moes die twee ook onlangs die handdoek ingooi.

John en Amanda was albei voorheen onderwysers, maar woon reeds meer as dertig jaar op Scheurfontein en het soos verskeie ander boere in die omgewing in 1995 vir die eerste keer elektrisiteit op die plaas gekry. Destyds het Eskom ʼn kontrak met die boere gesluit waarvolgens die energieverskaffer ʼn bedrag van R72 per maand vir elk van die aansluitingspunte sou hef vir die volgende 25 jaar. Daarna sou die boer slegs vir elektrisiteitverbruik betaal. In die laaste paar jaar het die vaste heffing egter tot so ʼn mate gestyg dat dit nou onbekostigbaar is.

John beweer dat baie meer Karoo-boere en klein nedersettings soos Rietbron, Klaarstroom en Seekoeigat sedert 1995 ook elektrisiteit van die hoofleiding tap. Die lyn eindig 100 kilometer van Beaufort-Wes af by Dysselsdorp naby Oudtshoorn en feitlik almal wat aftap het voorafbetaalde meters. Dit beteken hulle betaal slegs vir die eenhede wat hulle gebruik en nie vir enige lynkoste nie.

‘n Swemdan met nog bietjie water in wat vir die diere geskep word.

“Die hoë vastekoste is nie tot die Karoo beperk nie,” sê Louis Meintjes, die president van TLU SA. Hy sê hy boer self en betaal ook swaar aan die vastekoste wat Eskom maandeliks hef.

Meintjes het ook ʼn kontrak wat woordeliks dieselfde is as die een wat die Theunissens met Eskom aangegaan het en hy moes ook hoor dat dit eintlik niks positiefs vir die boer beteken nie.

Maroela Media het die twee identiese kontrakte onder oë gehad en daar word wel gesê dat dit volgens die Eskomwet van 1987 eensydig verander kan word. Daar word ook gemeld dat die kragreus die pryse vir die voorsiening van elektrisiteit van tyd tot tyd mag wysig en dat die maandelikse huurgeld verhoog mag word indien ʼn klant om ʼn groter toevoer aansoek doen.

Die kontrak sê verder dat die maandelikse huurgeld “nie van toepassing gemaak sal word vir ʼn tydperk langer as 25 jaar nie”.  Hierdie bewoording is egter misleidend en die bedoeling daarvan onduidelik want direk daarna sê die kontrak dat “die bedrag waarmee die maandelikse huurgeld verhoog word, betaalbaar sal bly totdat 25 jaar verloop het van die datum waarop die maandelikse huurgeld verhoog is”.

‘n Skermskoot van die brief wat die tatief bevestig.

Die vraag wat nou ontstaan, is of die 25 jaar ooit tot ʼn einde sal kom?

AgriSA het ʼn brosjure saamgestel waarin al Eskom se heffings uiteengesit word. Daarin word gesê dat Eskom se ontbondelde netwerkheffings niks te make het met die lyn se verhuringskoste nie. Die aansluitingsheffing word nie langer as 25 jaar gehef nie, terwyl die gewone netwerkheffings vir die bedryf van die stelsel soos tevore aanhou betaal moet word vir solank die toevoerpunt bestaan.

John sê indien die kontrak wel so maklik verander kan word, wil hy ook veranderings aanbring.  “Dan moet Eskom hulle kragdrade en transformators binne dertig dae van my plaas af verwyder sodat ek kan begin beplan om sonkrag te installeer.”

Eskom het by navraag gesê dat hy bewus is van Theunissen se navrae oor die kontrak en dat die situasie reeds verskeie kere aan hom verduidelik is.

Die energieverskaffer se mediakantoor sê die Nasionale Energiereguleerder (NERSA) bepaal al die gelde wat gehef word en dat Eskom nie daaraan kan verander of tariewe kan hef wat nie deur NERSA goedgekeur is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Ja nee met ‘n Eskom vaste koste van ‘n R1600, voor kragverbruik bygetel word, het my ook die rede gegee om Solar te gaan. Die ouens op die plase wat pompe en besighede het is solar gans te duur om Eskom te vervang. Eskom bestuur is ‘n PROBLEEM!

Spiekeries

Die arme boere wat krag (elektrisiteit) benodig om noodsaaklike produksievlakke te handhaaf en kos op die tafel te sit, word drooggemelk terwyl munisipaliteite miljarde aan Eskom skuld? Die onwettige “tap” van krag in “townships” is waarskynlik meer as die totale elektrisiteitsverbruik van al die boere saam? Net ‘n metode om die voedselvoorsieners te marginaliseer? Skokkend!!

Chantell

So as ek nou die storie so lees stop die ANC vir eskom vol geld, sal hulle dra met geld wat die land nie het en dan vir dit HELP Eskom die ANC REGERING om die boer van sy plaas af te kry, want niks kan werk op n plaas as daar nie geld en krag is nie. So die boer is so gebuk onder sukkel dat hulle nie kan aangaan nie. Dit sal lui na geen kos ens maar o ja het vergeet die kos kom nie van boere af nie mense…… DIS VAN CHECKERS AF

Pieter

In 1986 het ons eskomkrag gekry. Die ooreenkoms was dat ons vir 10 jaar die uitbreidingsfooi moes betaal en daarna slegs die verbruik. Ons 10 jaar het ook nog nie verstryk nie….Eskom is belaglik. Punt

Jacques

Dan kla almal oor die hoe kospryse . Wie moet ons bedank , Eskom . “skop n hond as hy le “.
Die boere kry reeds swaar soos dit is , maar die mense in Soweto betaal ook niks nie maar het krag , ek wonder wie betaal daarvoor Eskom ?