“Kom kyk self hoeveel mense steun Pretoria,” sê AfriForum aan Mashatile

AfriForum het die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, en die burgemeester van die Tshwane metroraad, Kgosientso Ramokgopa, amptelik genooi om AfriForum se musiekfees eerskomende Saterdag by te woon, sodat hulle hulself kan vergewis van die groot steun wat vir die behoud van die stadsnaam “Pretoria” bestaan.

AfriForum bied hierdie Afrikaanse musiekfees aan ter viering van Pretoria se 157ste verjaarsdag en die Solidariteit Beweging se 110de bestaansjaar. Duisende Pretorianers sal na verwagting opruk om die fees ter viering van hulle stad se naam by te woon. Dit vind van 07:00 tot 13:00 by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas.

Indien Mashatile en Ramokgopa nie die uitnodiging aanvaar nie, sal dit volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, ʼn duidelike aanduiding wees dat die minister nie eerlik was toe hy ʼn openbare deelnameproses oor die voorgestelde naamsverandering aangevra het nie. “Min mense het tydens die Tshwane metroraad se openbare deelnameproses hul steun aan ʼn naamsverandering vir Pretoria toegesê. AfriForum se fees bied nou die ideale geleentheid vir die minister en die burgemeester om self te kom kyk hoe groot die steun vir die behoud van Pretoria se naam regtig is,” sê Kriel.

Topsangers soos Steve Hofmeyr, Jay, Sorina (Flooze van 7de Laan), Jakkie Louw en Adam Tas tel onder die meer as 17 bekende Afrikaanse kunstenaars wat hul steun vir die behoud van Pretoria se naam gaan wys. Pieter Koen tree op as seremoniemeester. Toegang tot die fees is gratis en geen besprekings is nodig nie.

Kriel wys daarop dat geen toegangsfooie gevra word nie om aan soveel as moontlik mense, veral gesinne, die geleentheid te gee om hul steun vir Pretoria se naam te kom toon. “Van die bekendste kunstenaars gaan vanjaar vroeg in die oggend optree om te verseker dat die dag deurgaans propvol gesinsvermaak is”, sê Kriel. Hy nooi die publiek om hul vriende en familie saam te bring en die dag te kom geniet. Hulle word gevra om opvoustoele saam te bring om op te sit.

Die volgende kunstenaars gaan by die musiekfees optree: Steve Hofmeyr, Jay, Sorina, Jakkie Louw, Adam Tas, Gerrie Pretorius, Willem Botha, Fredi Nest, Monique, Dewald Wasserfall, DJ Ossewa, Ghapi, Beeskraal, Saarkie, Fatman, Brendon en twee boereorkeste.

Albei hekke van die Voortrekkermonument (Eeufeesweg en Smutslaan) sal oop wees om verkeersopeenhopings te voorkom. Eet- en drinkgoed sal op die terrein te koop aangebied word. Mense mag egter nie self alkohol saambring nie. Bel AfriForum by 086 10 200 30 vir enige navrae. Inligting oor die musiekfees is ook op die webwerf by www.afriforum.co.za beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.