‘Lekka!’ ‘Coach’ Rassie deesdae Dok Rassie!

Die Noordwes-Universiteit het vandag ’n eredoktorsgraad aan Rassie Erasmus toegeken. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Springbok, rugbymeesterbrein, direkteur van rugby, tweemalige Wêreldbeker-wenner, waterdraer en nou ook ʼn eredoktor!

Terwyl die Webb Ellis-trofee op sy ereplek – daar links, sommer héél voor op die verhoog – toesig oor verrigtinge hou, het die Noordwes-Universiteit (NWU) vandag ʼn eredoktorsgraad in Potchefstroom aan Rassie Erasmus toegeken.

Daar was gʼn teken van die 51-jarige nasionale rugbyhoofafrigter se fluitjie toe hy vanoggend net ná 10:00 die Sanlam-ouditorium binnegestap het nie.

Hy was gebaadjie en gedas in sy amptelike Springbokdrag, terwyl die universiteit se akademiese regalia die prentjie verder ingekleur het.

Erasmus het sy plek op die verhoog ingeneem, terwyl ʼn trotse Siya Kolisi (Springbok-kaptein) saam met ander sportbekendes soos dr. Jacques Faul (uitvoerende hoof van die Titans) en dr. Eugene Hare (uitvoerende hoof van die Bulls) in die gehoor gesit het.

“Ek het die voorreg om mnr. Johan ‘Rassie’ Erasmus aan u bekend te stel,” het prof. Awie Kotzé,
dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskap, gesê terwyl hy die Despatch-boorling se indrukwekkende rugbygetuigskrif voorhou.

Rassie Erasmus. (Foto: X/NWU)

Die universiteit sê die eredoktorsgraad word aan Erasmus toegeken ter erkenning van sy innoverende en buitengewone bestuur van die Springbokke tydens hul oorwinnings in 2019 en 2023 in die Wêreldbeker-toernooi, sy besondere posisie in die internasionale rugby-afrigtersarena, sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit, en sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid.

“Hy verpersoonlik die beginsels van veerkragtigheid, vasberadenheid en spanwerk wat ons by die NWU onderskraag. Sy bydraes tot Suid-Afrika – as ʼn rugbystrateeg en nasiebouer, dien as ʼn blink voorbeeld van wat bereik kan word wanneer passie, toewyding en visie saamgevoeg word,” het Kotzé voortgegaan.

Erasmus het ná afloop van die verrigtinge geskerts dat hy aanvanklik gedink het dat iemand sy been trek, maar hy het blitsig besef dat ʼn reuse-eer hom te beurt geval het.

“En dan word ʼn mens emosioneel – veral wanneer jy al die studente sien en die koor hoor sing. Ek is nie eintlik ʼn ou wat maklik huil nie, maar daar gebeur baie emosionele dinge op ʼn rugbyveld en veral wanneer jy deel is van ʼn Suid-Afrikaanse span.”

Rassie Erasmus is ongetwyfeld ʼn sportmeesterbrein wat eredoktorsgraadkry met Wêreldbeker-lekkerkry kan klaarkry.

Maar vir sy spelers, en vir elke liewe Suid-Afrikaner, sal hy coach Rassie bly.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leon ·

Wat van Jacques Nienaber ? Of het Rassie alles alleen gedoen ?

Lettie ·

Baie geluk Rassie. Welgedaan. Jac Nienaber en Siya sal in jou voetspore volg. Jy is ‘n uitstekende afrigter.

Euodia ·

Hy is nie ‘n regte dr nie. Het nie gewerk daarvoor en tesisse gedien nie.

Bostoe ·

Ai. Die negatiwiteit van sommige mense is verbysterend. Well done Rassie. Jy her beslis buite die boks gedink met jou span

Casper ·

Euodia,gee erkenning aan dit wat Rassie vermag het.Hy is uitstekend in sy werk en gebruik skokkende suksesvolle tegnieke.Hy glo nie aan 100,-0 oorwinniings nie,hy glo aan wen.Baie geluk Rassie jy verdien dit.

Ore ·

@Eudia, jy is korrek maar verstaan verkeerd. Hy het ‘n eredoktorsgraad ontvang. Die ander negatiewe kommentaar verdien nie reaksie nie. Kry ‘n lewe mense!

Hannelie ·

ek is seker maar ‘n leek of net dom. Maar moet mens nie leer om ‘n doktorsgraad te hê nie? Vra maar net, want dan is hier baie mense wat dit ook verdien.

Rudolph ·

Did is baie goed hy verdien die erkenning. Geluk Dr Erasmus

KB ·

Wie van julle (insluitend Johann Gresse) was self (in persoon) daar? Wie het eerstehands die grade-plegtigheid bygewoon, die ete vir al die PhD-graduandi daarna bygewoon? Na Rassie se toespraak (uit die vuis uit) geluister? Gesien hoe hy na die tyd van tafel tot tafel geloop het en met die gaste gesels het? Hoe ʼn opreg/plat-op-die-aarde/nederige mens hy werklik is? Dat die man trane afgevee het toe die NWU-koor ʼn christelike lied, onder andere aan hom, opgedra het?
Ek het.

KB ·

Hier is baie mense wat nie die verskil ken tussen ʼn doktorsgraad (PhD) en ʼn ere-doktorsgraad nie, dis duidelik.
Ek gun dit vir Rassie (en ek is nie eers regtig ʼn rugby-aanhanger nie!). Maar is is ʼn harde werker, toegewyd, en ʼn opregte mens.
(Klim gerus af van julle leunstoele, sit af die TV/radio, en word net mens).

Elmarie ·

ERE DOKTORSGRAAD mense! Lees tog reg en gebruik Google as julle nie verstaan hoe werk ere grade nie. Baie geluk en welverdiend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.