Lewenslank vir reeksverkragter

Dudu Simelane, ‘n reeksverkragter van Hammanskraal, is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria lewenslange tronkstraf opgelê.

Regter Jody Kollapen het die 29-jarige pa van vier kinders twee lewenslange vonnise opgelê nadat hy twee van sy slagoffers herhaaldelik verkrag het, en 15 jaar tronkstraf vir elk van die vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede.
Simelane is vir die 25 aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, ontvoering, roof, diefstal en afpersing ‘n totaal van 122 jaar en ses maande tronkstraf opgelê wat gesamentlik met sy lewenslange vonnis uitgedien sal word. Die hof het vroeër Simelane se bewerings dat hy, buiten ‘n verkoopsdame, nie een van die slagoffers ooit ontmoet het nie, afgemaak.

Simelane hou vol dat hy onskuldig is en dat hy nou regshulp wil inwin om sy vonnis te hersien. Kollapen het geweier om die hofsaak uit te stel en het aan Simelane gesê dat hy appèl kan aanteken.
Hy het die vroue gelok onder die voorwendsel dat hy vir hulle werk het, en hulle dan verkrag of onsedelik aangerand, beroof of lospryse vir hulle geëis. Van die misdade het tot drie dae lank geduur.

Talle van die slagoffers en hul families het gesê hulle voel tevrede dat geregtigheid nou geskied het. “Ek is baie bly dis nou verby,” het een van die slagoffers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.