Lions wen dramatiese stryd op Kingspark

Die Lions het die Sharks met 20 – 18 in Durban geklop. (Foto: X/URC)

ʼn Suid-Afrikaanse derby het vir hope drama gesorg toe die Lions die Sharks met 20–18 in Durban geklop het.

Die Sharks was verreweg die beter span in die eerste helfte en hulle het ʼn rustydvoorsprong van 18–3 opgebou. Maar, soos wat die storie van haas en skilpad ʼn mens leer: Dit is nie hoe jy begin wat belangrik is nie, maar eerder hoe jy dinge afrond.

ʼn Strafdrie en ʼn suksesvolle strafskop het die besoekers binne trefafstand gebring en hulle het waarskynlik gedink dat daar nog genoeg tyd is om die wedstryd met die skopvoet te beklink toe Sanele Nohamba in die 75ste minuut agter die skopkelkie aangetree het.

Hoewel sy stelskoppoging onsuksesvol was, verloor dié Lions-span nie sommer moed nie.

Die einste Nohamba – wat ʼn hele paar wedstryde vir die Sharks gespeel het voordat hy die skuif na Johannesburg gemaak het – het ʼn kort rukkie later ʼn strafskop komkommerkoel oor die kantlyn gejaag en kaptein Marius Louw het saam met die voorspelers oor die Durbaniete se doellyn gestoomroller.

Nohamba het vir die bykomende punte gesorg en skielik was die telling 20–18 in die Lions se guns!

Maar dit was nog nie die einde van dié aksiebelaaide rugbydraaiboek nie en ʼn briljante Eben Etzebeth – die Sharks se Springbok-slot is as die speler van die wedstryd aangewys – het die Lions onverhoeds betrap en ʼn strafskop afgedwing.

Terwyl die sekondes op die stadionhorlosie aftik, het Boeta Chamberlain nadergestap om die wedstryd vir die tuisspan te beklink, maar sy stelkoppoging het verby die pale geseil.

Dit is die Lions se eerste sege in Durban sedert 2017, terwyl die Sharks maar net nie ʼn wedstryd in die jongste weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap kan wen nie.

Arme afrigter John Plumtree weet seker teen dié tyd nie meer wat om te sê ná ʼn nederlaag nie.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Strafdrie en Marius Louw. Doelskop: Sanele Nohamba. Strafskoppe: Nohamba (2).

Sharks: Drieë: Makazole Mapimpi en Grant Williams. Doelskop: Curwin Bosch. Strafskop: Bosch. Skepskop: Bosch.

  • Die Lions beklee nou die 11de plek op die amptelike VRK-punteleer met 23 punte ná agt wedstryde. Daarteenoor geniet die Sharks steeds houtlepelstatus met net een oorwinning in nege probeerslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.