Lisa met die Rooi Hare vind haar boer

Rudolph van Niekerk vra Lisa van Rooyen om te trou. (Foto: Lisa Van Rooyen/Instagram)

Die internet-pretpersoonlikheid Lisa met die Rooi Hare, oftewel Lisa van Rooyen, het die naweek haar eie boeresprokie beleef toe haar kêrel van byna twee jaar, Rudolph van Niekerk, haar op Sedgefield se strand gevra het om te trou.

“Ek het so gebewe dat hy gesukkel het om die ring aan my vinger te kry,” het Van Rooyen skertsend aan Maroela Media vertel.

Die paartjie het die plaas net buite Pretoria, waar hulle nou woon, vir ’n kort wyle vaarwel geroep om haar pa se verjaardag op Saterdag 11 Junie in Sedgefield te vier.

“Ek het ’n gevoel gehad dat dit gaan gebeur, ek het net nie verwag dat dit dié naweek sou wees nie,” het Van Rooyen aan Maroela Media vertel.

Die familie het heerlik deur ’n markie gewandel, waarna hulle strand toe is om familiefoto’s te gaan neem.

“Ek het gewonder hoekom hulle op die warmste tyd van die dag foto’s op die strand wou gaan neem. Dit was 30 ˚C!”

Van Rooyen vertel laggend hoe sy haar hond gedra het, en dat Van Niekerk eintlik net wou hê dat sy die hond moes neersit.

“Toe dit ons beurt was om afgeneem te word, kon ek sien dat my boetie iets vreemd met die foon doen – dit het gelyk asof hy ’n video neem. Ek het omgedraai en Rudolph was op sy knie. Ek kan nie eers behoorlik onthou wat hy gesê het nie!”

Na afloop van die romantiese verlowing het Van Rooyen ’n paar video-oproepe na familie en vriende gemaak om die groot nuus te deel.

“Ek het skoon van voor af gebewe. Ek het met elke oproep my hare of iets uit my gesig gevat, dit het almal ’n oomblik gevat om agter te kom dat daar nou ’n ring aan my vinger is. Almal was baie bly en opgewonde.”

Van Rooyen en Van Niekerk het mekaar op 14 Februarie 2020 in ’n kuierplek in Potchefstroom ontmoet.

(Foto: Lisa van Rooyen/Instagram)

“Kort daarna het die grendeltydperk begin. Ons het ʼn bietjie kontak verloor.”

Dit het die paartjie egter nie lank geneem om die vlammetjie van liefde aan te vuur nie.

“Hy was in Oos-Londen en ek in Potchefstroom. Ons het op Zoom-afsprake gegaan en ure lank so met mekaar gesels. Toe hy uiteindelik weer in Potchefstroom aankom, het dit nie lank gevat voordat hy my uitgevra het nie.”

Die paartjie het onlangs ’n paar familielede ryker geword toe hulle nie een nie, nie twee nie, maar ses eende gekry het om die plaas saam met hulle te bewoon.

“Ons het eers vir Dop en Tjop gekry, toe die vier sangers.”

Sy vertel skertsend dat hulle nie regtig die vier sangers, wat almal na Afrikaanse sangers vernoem is, van mekaar kan onderskei nie, dus verwys hulle steeds na die eendjies met hul versamelnaam.

“Hulle is baie oulik. Hulle kom as ek hulle roep, skree op ons as hulle honger is en raak aan die slaap wanneer ek hulle vryf.”

Van Rooyen, wat aanvanklik bekendheid verwerf het vir haar YouTube-video’s waar sy die jongste episode van die gewilde maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou opsom en tong-in-die-kies resenseer, is tans besig met soortgelyke video’s oor die reeks Op my eish!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hugo ·

Lisa…jy is pragtig en baie snaaks. Baie geluk aan julle twee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.