Die aanbod is Donderdagaand gemaak nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), Lonmin-bestuur, staakleiers en vakbonde ure lank vergader het. Dit is die eerste salarisaanpassingsvoorstel wat gemaak is sedert die sowat 3 000 rotsbooroperateurs vyf weke gelede begin staak het.
Die voorgestelde bedrag is nie bekend gemaak nie, aangesien dit eers aan die stakende mynwerkers voorgelê moet word en die aanbod onderteken moet word. Na verwagting sal die mynwerkers teen Vrydagmiddag ‘n besluit gemaak het, wanneer die onderhandelingskomitee weer sal vergader.
Myners het vroeër die week gesê dat hulle onmiddellik sal terugkeer werk toe indien die aanbod ‘n maandelikse salaris van R12 500 beloop. Indien die voorgestelde bedrag minder is, sal slegs ‘n meerderheidstem deur die mynwerkers bepaal of die ooreenkoms onderteken sal word.
Die staking by die myn het reeds ‘n invloed op die produksie by die myn gehad, en ten minste 45 mense het reeds weens die gewelddadige aksie gesterf.