Ná nog loongesprekke tussen die mynmaatskappy, Northam Platinum en die NUM by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), is die loongeskil steeds nie opgelos nie.
Lede van die vakbond het verlede Sondag by die mynmaatskappy se Zondereinde-myn begin staak. Hulle eis ’n loonverhoging van R2 100 vir kernwerknemers soos rotsbooroperateurs en R2 000 vir ander werknemers. Die vakbond het reeds die werkgewer se verhoogde loonaanbod van ’n loonverhoging van tussen 7,5% en 8,5% as deel van ’n tweejaarloonooreenkoms verwerp.
Northam het in ’n verklaring aangedui dat hy steeds bereid is om verdere gesprekke met die vakbond onder leiding van die KVBA te voer, maar het ook gesê dat die vakbond se looneise op loonverhogings van tussen 22% en 43% neerkom met bykomende verhogings vir werknemers se uitleeftoelaag van 69%. Indien dié verhogings ingestel sou word, sou dit die maatskappy se salarisrekening met 61% laat verhoog.