Johannes Christiaan de Jager (48) wat van die moord op ʼn tienerjarige meisie, Charmaine Mare, verdink word en beskuldig word dat hy haar liggaam in stukke opgesny het, se saak is Maandag in die Blue Downs-streekshof uitgestel.
Staatsaanklaer M Holt het aan die hof gesê dat die Wes-Kaapse direktoraat vir openbare vervolging ʼn ekstra 14 dae vereis om die klagtes te finaliseer en te formuleer. Holt sê dit is moontlik dat daar nog aanklagte by die bestaande ses aanklagte teen De Jager gevoeg kan word.
Die landdros het die uitstel toegestaan, maar op versoek van die verdediging se prokureur David Mbazwana, gewaarsku dat dit die laaste uitstel sal wees om die klagtes te finaliseer. Dit is De Jager se sewende verskyning in die hof. Die saak is tot 12 Augustus uitgestel.
De Jager het Mare glo in Januarie vermoor terwyl hy by hul huis in Kraaifontein, in Kaapstad se noordelike voorstede, tuisgegaan het. Mare se ma en ander familielede was in daardie stadium glo met ʼn bootvakansie. Na bewering het hy Mare se gedeeltelik verkoolde borsgedeelte in ʼn afgeleë veld in Kraaifontein begrawe en het hy haar arms en bene in ʼn kartonboks in die motorhuis van hul huis weggesteek. Hy het haar glo ook valslik by die polisie as vermis aangemeld.
De Jager staar aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, dwarsboming van die gereg, verminking van ʼn lyk en bedrog in die gesig.
De Jager het glo ook ʼn prostituut, Hiltina Alexander, in Mei 2008 verkrag en vermoor. Hy het reeds vir Alexander se moord in die Atlantis-distrikshof verskyn.
Die twee sake sal aan mekaar gekoppel word.
Hoop hy word goed gestraf.
Ek dink Maroela verdraai ‘n bietjie die feite.
Charmaine se ouers woon in Gauteng, en sy het by ‘n vriendin en die se moeder in Kraaifontein gebly, nie by haar ouers nie.
Haar ouer bly in Kriel Mpumalanga
Haar ouer woon in Kriel Mpumalanga