ʼn Man is Maandag op borg vrygelaat nadat hy glo ʼn verkeersbeampte in Mpumalanga omgery het.
Kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê Mduduzi Meshack Nkosi (40) het in die Standerton-landdroshof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. “Hy is aangekla van bestuur onder die invloed van alkohol, roekelose of nalatige bestuur en versuim om stil te hou by ʼn ongelukstoneel.” Nkosi moet weer op 23 Augustus in die hof verskyn. Nkosi het glo Vrydagaand die verkeersbeampte omgery toe laasgenoemde hom van die pad wou aftrek tydens ʼn padblokkade op die R23 naby Standerton. Nkosi het glo weggejaag en ʼn ander verkeersbeampte het hom agternagesit. Hy is voorgekeer en terug na die toneel gebring waar hy in hegtenis geneem is.