ʼn Man is naby Durban in hegtenis geneem in verband met die moord op die sangoma wat glo rituele op stakende mynwerkers voor verlede jaar se Marikana-bloedblad uitgevoer het.
Makhsini Nkosi, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die verdagte is Dinsdagaand deur die Valke in hegtenis geneem by ʼn hostel in KwaMashu.
“Die verdagte word verbind met die sangoma, Alton Zikhuthele Joja (69) se moord. Die sangoma was beter bekend as Ndzabe,” het Nkosi gesê.
Die verdagte moet Vrydag in die Bizana-landdroshof verskyn.
Maroela Media het vroeër berig dat Joja vermoor is voor hy by die Farlam-kommissie van Ondersoek moes getuig oor die rol wat hy by Marikana gespeel het, en dat hy glo weens taxi-geweld doodgeskiet is.
Die Farlam-kommissie het in Maart aangehoor dat Joja glo rituele op stakende mynwerkers uitgevoer het voor die skermutseling op 16 Augustus waartydens 34 mynwerkers doodgeskiet is. Hy het na bewering muti aan van die stakers gegee wat hulle glo “onsterfbaar” teen die polisie sou maak.
Lees ook:
Marikana-sangoma glo weens taxi-geweld vermoor
Marikana-sangoma: Geweer het dalk aan polisie behoort
Lonmin-sangoma vermoor