Die jong man wat wêreldbekend geword het toe TV-kameras gewys het hoe hy die voortvlugtige Libiese diktator, Muammar Ghaddafi, uit ‘n pyp getrek het, het In Frankryk aan sy wonde beswyk.
Omran Shaabans het duur vir sy bekendheid betaal. Hy is deur ondersteuners van Ghaddafi in die hande gekry en ontvoer. In die 50 dae wat hy deur sy ontvoerders aangehou is, is hy gemartel. Tydens ‘n mislukte ontsnappoging is hy in die nek en rug geskiet.
Shabaans se vrylating is onlangs deur die Libiese owerhede bemiddel, waarna hy na Frankryk geneem is vir mediese behandeling. Hy is egter oorlede, en sy liggaam is na Libië teruggebring waar dit deur ‘n skare ingewag is. Shabaans sal ook ‘n staatsbegrafnis kry.
Die verwagtinge is dat populêre druk die Libiese regering sal noop om ‘n aanslag op die ontvoerders te loods, wat hulle vermoedelik skuilhou in ‘n omgewing waar swaargewapende Ghaddafi-ondersteuners hulle bevind.