Maroela Media amptelik bekendgestel met debat oor protesmusiek

Foto geneem tydens Maroela Media se bekendstelling in Julie 2011 V.l.n.r. Steve Hofmeyr, Burgert Senekal, Johann Botha

Foto geneem tydens Maroela Media se bekendstelling in Julie 2011 V.l.n.r. Steve Hofmeyr, Burgert Senekal, Johann Botha

“Protes is jou uitroep vir hulp voor jy iets radikaal doen” – Steve Hofmeyr

Kunstenaars het verantwoordelikheid om leierskap in protes te neem.

Protes is alles wat jy doen voordat jy in Stellenbosch in ʼn kantoor instap en iemand slaan. Protes is jou laaste uitroep vir hulp voordat jy jou geweer uitpluk en ʼn klomp mense op ʼn eiland doodskiet.

Dit is die oortuiging wat die sanger Steve Hofmeyr tydens die bekendstelling van Maroela Media, die nuwe Afrikaanse kuierplek op die internet, se eerste amptelike debat oor protesmusiek. Die debat het ondersoek ingestel na die plek en waarde van protesmusiek in die hedendaagse Suid-Afrika.

Die sanger Steve Hofmeyr, wat onlangs opspraak verwek het met sy proteslied “Ons sal dit oorleef” en die dramaturg Deon Opperman, wat veral bekend is vir sy merkwaardige musiekblyspele Ons was daar en Tree Aan! waarin verskeie bekende protesliedere gebruik is, het saam met Burgert Senekal en Salmon de Jager van die groep Klopjag aan die debat deelgeneem. Senekal is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat en ʼn kenner op die gebied van oorlogsliteratuur en protesmusiek. Daarbenewens het Klopjag ook reeds sy merk in Afrikaanse protesmusiekkringe gemaak met veral sy lied “Nie langer” wat kritiek uitspreek teen die verdrukking van wit Suid-Afrikaners. Die televisie- en radio-aanbieder Johann Botha het die debat gelei.

Opperman het op sy beurt beklemtoon dat protesmusiek nie noodwendig opsigself ʼn beweging kan veroorsaak nie, maar dat dit ʼn gemeenskap se gevoelens kan verwoord. Hy het daarbenewens gesê dat hy juis sy jongste opspraakwekkende verhoogstuk Tree Aan geskryf het in reaksie op die miskenning van soldate van die SAW wat hul lewens in die Grensoorlog opgeoffer het. Hy reken dat protesmusiek ʼn spreekwoordelike “veldbrand” kan begin. “Jy kan ʼn veldbrand begin met een vuurhoutjie, mits die gras reeds droog is,” het hy tydens die debat gesê.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van Maroela Media en adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, het kunstenaars daarvan beskuldig dat hulle nie hulle verantwoordelikhede ten volle nakom nie. Volgens Hermann, sien die Afrikaanse gemeenskappe op na kunstenaars. “Mense sien julle as leiers en spreekbuise om die minderheid ʼn stem te gee.”

In reaksie hierop het De Jager gesê dat baie wel nog gedoen moet word om op internasionale vlak ook die protes van Afrikaners te laat hoor. Volgens hom is film die ideale platform waarop protesmusiek tesame met die plaaslike protesverhale aan die wêreld bekend gestel kan word.

‘n Gedig waarmee die dramaturg Deon Opperman mee afgesluit het:

[soundcloud url=”http://api.soundcloud.com/tracks/20351780″]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.