Menslike oorskot is in twee afsonderlike gevalle in Noordwes gevind, het die polisie Sondag gesê.
Kapt. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê die oorskot van Samuel Kgang (51) is in Lotlhakana naby Mahikeng gevind. Funani sê Kgang se oorskot is op sy bed in sy huis gevind. Kgang het glo alleen gebly en was sieklik. Die oorsaak van sy dood moet nog bepaal word. Funani sê menslike oorskot is intussen ook langs die Deelpanpad buite Lichtenburg gevind. Funani sê die oorskot is deur ʼn verbyganger gevind wat die polisie in kennis gestel het. Funani sê die identiteit van die slagoffer is nog nie bekend nie maar die polisie vermoed dit is moontlik die oorskot van ʼn 40-jarige man wat aan die begin van die jaar as vermis aangemeld is. Die polisie ondersoek beide sake.