Navorsers gebruik klank om dolfyne te tel

‘n Bottelneusdolfyn aan die Namibiese kuslyn. (Foto: Verskaf)

ʼn Internasionale span van wetenskaplikes het vir die eerste keer eiesoortige fluitgeluide van bottelneusdolfyne gebruik om die bevolkingsgroottes en bewegings van dié dolfyne langs die Namibiese kuslyn na te spoor.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Plymouth in Brittanje het akoestiese monitering gebruik om die getalskattings te maak in plaas van die tradisionele metode waar foto’s gebruik word vir die uitkenning en tel van die dolfyne.

Sasha Dines, PhD-student aan die US, werk nou aan die verfyning van die klanktegniek in die hoop om die bedreigde boggelrugdolfyne in Suid-Afrika beter te verstaan. Dié tegniek kan belangrike inligting oor individuele diere genereer en sal veral nuttig wees vir klein, bedreigde bevolkings waarin elke individu belangrik is.

“Die waarneming en herwaarneming van eiesoortige fluitgeluide is nog nooit vantevore aangepak nie,” sê dr. Tess Gridley, nadoktorale genoot by die Departement Plant- en Dierkunde aan die US asook mededirekteur van Sea Search en die Namibiese Dolfynprojek.

“Die dolfyne gebruik hierdie geluide regdeur hulle lewe en elkeen het sy of haar unieke fluit. Deur die opneem van eiesoortige fluite oor ʼn tydperk en in verskillende plekke kon ons uitwerk hoe diere rondbeweeg en hoeveel daar van hulle is.”

Volgens die span wetenskaplikes het die gebruik van klank byna dieselfde resultaat gelewer as die geskatte getal wat deur tradisionele metodes bepaal word. Dit lyk dus of die aantal dolfyne dieselfde gebly het.

Altesaam 204 akoestiese gebeurtenisse is geïdentifiseer, waarvan 53 eiesoortige fluittipes. ʼn Katalogus met meer as 55 eiesoortige fluitgeluide is sedert 2009 deur die Namibiese Dolfynprojek, in samewerking met dr. Simon Elwen, nadoktorale genoot by die Departement Plant- en Dierkunde aan die US asook mededirekteur van Sea Search en die Namibiese Dolfynprojek, opgebou. Dié katalogus is deur tradisionele metodes saamgestel.

Vanuit die 53 fluittipes wat die span geïdentifiseer het, is 40 reeds in die bestaande katalogus en 13 nuwes is geïdentifiseer. Altesaam 43% van die fluittipes is tydens die studie slegs een maal teëgekom, terwyl die meerderheid (57%) wéér twee of meer keer teëgekom is.

Emma Longden, BSc-gegradueerde in mariene biologie aan die Universiteit Plymouth, het onder die studieleiding van dr. Clare Embling, medeprofessor in mariene biologie aan die Universiteit van Plymouth, die studie gelei. Longden het in 2016 ʼn internskap by die Namibiese Dolfynprojek voltooi en in 2018 teruggekeer om haar werk met die waarneming-herwaarnemingsprojek te voltooi.

Sy het meer as 400 uur lange akoestiese data ontleed wat verkry is van vier hidrofone wat gedurende die eerste ses maande van 2016 langs die kus, noord en suid van Walvisbaai, in Namibië geplaas is.

“Een van die wonderlike dinge van bio-akoestiek is dat jy ʼn hidrofoon vir weke op ʼn slag in die water kan los en só baie data kan insamel sonder om met die lewe van die diere wat jy bestudeer, in te meng,” sê Longden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.