ʼn Geheime vergadering met ʼn joernalis het glo daartoe gelei dat die polisie vir ʼn tweede keer op Nico Henning, eksman van die vermoorde Chanelle Henning (26), se eiendomme toegeslaan het.
EWN berig dat die polisie Woensdagmiddag Henning se kantoor en sy huis in die Pecanwoord-gholflandgoed in Hartbeespoort vir ʼn tweede keer deursoek het. Chanelle is in November verlede jaar doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by ʼn kleuterskool in die ooste van Pretoria afgelaai het. Volgens EWN het ʼn joernalis in ʼn bloginskrywing beweer dat Henning ʼn vergadering met haar gereël het en dat hy inligting sou bekendmaak oor die moord op sy vrou. Dit het die ondersoekers in die saak glo agterdogtig gemaak en het hulle besluit om weer sy persele te deursoek. Die joernalis het glo verder geskryf dat Nico wel in Julie met haar ontmoet het maar glo net dokumente aan haar voorgelê het in ʼn poging om sy eksvrou se ouers in ʼn slegte lig te stel. Nico kon nie vir kommentaar bereik word nie. Lees meer hier.
In Mei vanjaar het die Valke op vyf van Nico se persele toegeslaan. Daar is vroeër tydens die hofverrigtinge van die beskuldigdes in die saak, aangevoer dat Nico die baasbrein agter die huurmoord op sy vrou was.