Taxi-dienste is onder erge druk vandat busbestuurders landswyd sedert Vrydag begin staak het.
Duisende pendelaars moet steeds van alternatiewe vervoer gebruik maak om by hul werkgewers uit te kom.
Lede van vervoerwerkersvakbond Satawu en geaffilieerde vakbonde het Vrydag ophou werk nadat salaris-onderhandelings vasgeval het. Meer vakbonde het sedert Vrydag by die staking aangesluit en langafstandbusdienste, waaronder Springbok Atlas, Greyhound en Citiliner, word van Woensdag af by die staking betrek. Intercape word nie geraak nie.
Die betrokke unies, vakbonde en werkgewers gaan Woensdag besprekings by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) voortsit. Volgens Satawu sal die staking voortduur totdat daar aan hul eise vir ‘n 18% verhoging voldoen word. Werkgewers bied tans ʼn 6.5% verhoging aan.