Nuuskommentaar: Dollar as kop af met Zuma – maar soek die positiewe

pres. Jacob Zuma Foto: GCIS/SAPA

Kort na pres. Jacob Zuma ‘n ongeskeduleerde nuuskonferensie gehou het met die doel om persepsies van vrees oor die ekonomie te besweer, het die rand deur die vlak van R10 teenoor die dollar getuimel. Dit word as ‘n sielkundige vlak beskou.

Al was die verloop bloot toeval, en die afloop onvermydelik, weerspieël dit tog die persepsies wat wyd in die land posgevat het: Die land kan Zuma nie net nie bekostig nie, maar hy is ‘n ramp.

Dié persepsie, geregverdig of nie, het soveel momentum gekry dat dit nou lustig op eie stoom voortsnel. Selfs RSG het soos volg op die nuus gereageer: “‘n Poging deur president Jacob Zuma op ‘n nuuskonferensie in Pretoria om beleggers se vrese te besweer, het die Rand tot sy laagste vlak in vier jaar afgedruk.”

Of die gees van pessimisme en selfs vrees wat onder meer in internetkommentare gereflekteer word geregverdig is of nie, dié pessimisme word self deel van die probleem omdat die ekonomie ook daarop reageer. Van meer onmiddellike belang is dat mense wat andersins van selfs die geringste geleentheid deur innovasie ‘n groot geleentheid sou maak, nou so deur pessimisme verlam word dat daardie geleenthede ot nadeel van die land verlore gaan. Natuurlik help minister Rob Davis se beoogde smouswet niks omdat dit die optimisme oor die nasionale ontwikkelingsplan tot ‘n groot mate neutraliseer.

Die onmiddellike krisis is arbeidsonvrede, onder meer in die mynsektor, waar die politieke magspel tussen Cosatu, hoofsaaklik in die gedaante van NUM, teen AMCU stelling inneem. Eerder as om die probleme aan te spreek wat tot die situasie gelei het, het die ANC oorlog teen AMCU verklaar. Dit is soos om met vuurhoutjies by die lekkende kruitvat te speel.

NUM, om sy steunbasis by die werkers te beredder, stel nou heeltemal onrealistiese salariseise, en met die persepsie dat die regering ‘n knieval voor die NUM doen, is daar rede vir kommer.

Toe word die troef gespeel om Zuma in te span. In tipiese vaaghede is die geleentheid egter verpas.

Teen die middel van verlede jaar het ‘n Ipsos-peiling aangetoon dat sowat 62 persent van alle Suid-Afrikaners geglo het Zuma vaar goed as president. Teen die einde van die jaar het die prentjie anders gelyk. Toe het 62 van die plattelandse respondente gemeen Zuma vaar goed, maar net 47 persent stedelinge was dié mening toegedaan.

‘n Deel van die probleem is dat Zuma minder steun onder die middelklas geniet, en aangesien die swart middelklas meer word, neem sy steun vinniger af hoe vinniger hierdie groep meer word.

As ‘n regeringsleier werklik in algemene, in plaas van sektorale belang, sy regeerfunksies verrig en so statuur as staatshoof verwerf, kan hy ‘n belangrike rol speel om met daadkragtige aankondigings vertroue in die ekonomie te herstel.

Daar is interessante ooreenkomste, maar belangrik verskille tussen Suid-Afrika en die VSA as vertroue in leiers gemeet word.

Volgens die jongste Rasmussenpeiling staan die vertroue in pres. Barack Obama nou op 51 persent, na die pas weens ‘n klompie skandale tot 47 persent gedaal het. Tog het dieselfde peiling getoon dat net 30 persent meen die land is op die regte koers. In November verlede jaar het dit nog op 42 persent gepiek.

Die vertrouensprobleme wat Suid-Afrika in die gesig staar is dus nie heeltemal so uniek soos wat die persepsies dui nie. Die groot verskil is dat Obama buite die VSA baie hoog aangeslaan word, en daar in Wes-Europa ‘n groot Obama-euforie bestaan. Dit word dikwels in die koerante weerspieël…maar dieselfde koerante wat Obama se lof met ‘n goue trompet bespeel, beskou Zuma as ‘n ramp.

In een so ‘n geval het die gematigde Nederlandse koerant Trouw na Zuma se herverkiesing tot ANC-president ‘n spesiale hoofartikel geskryf waarin dit as fout ten koste van die land uitgespel is.

Trouens, Trouw het op ‘n kinkel gewys – Suid-Afrika het ‘n lang grasie gekry weens die Madiba-euforie. Na Mandela se aftrede kon sy opvolgers ‘n tyd lank van hierdie kapitaal verdiskonteer. ‘n Paar VN-blapse en ‘n gevryery met Kuba en Mugabe tel onder die aspekte wat vinnig hierdie kapitaal weggeteer het.

Toe Zuma die leisels oorgeneem het was dié kapitaal opgebruik. Die enigste wittebrood wat Zuma gekry het was dit wat verdere huwelike aan hom besorg het – op die wêreldtoneel is sy eie, en die optrede van sy kabinetslede vanuit die staanspoor in eie meriete beoordeel. ‘n Paar werklike swak ministers en insidente soos Marikana, Nkandlagate en nou Guptagate, saam met bisarre opmerkings wat internasionale mediadekking geniet het – onder meer juis een by Davos dat die stakings en proteste in Suid-Afrika doodnormale verskynsels van die demokrasie is, en dat die media bloot elders in die wêreld daaroor swyg, het Zuma se beeld in die buiteland enorme skade besorg – tot nadeel van Suid-Afrika.
Terwyl nuwe skandale bykom, word die oues soos die wapenskandaal wat skynbaar baie stadig na nêrens op koers is nie opgelos nie. Intussen daal die land vinnig op indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks, die persvryheidsindeks, die indeks vir mislukte state en die innovasie-indeks.

Hierop is die ANC se allerantwoord klaarblyklik, om ‘n bekende drankadvertensie te verfonkfaai: “You can stay as you are, or you can change to Zuma.” Of in Afrikaans: “Kop wen ek, stert verloor jy.”

Die land se innoveerders en wikkelaars kan egter nie bekostig om pessimisties in dop (safe mode) te kruip om bloot Zuma se tweede termyn so ongeskonde as moontlik te oorleef nie. Die land verdien beter.

Al is dit net om Zuma te oortuig om hom met beter adviseurs en ministers te omring (en na hulle te luister), die kaderbeleid op te skort en werklik in algemene belang te regeer.

Maar dit is ook belangrik om positief ingestel te wees, die geleenthede te soek en struikelblokke te oorkom – en in die proses soveel moontlik mense wat nié oor hierdie eienskappe beskik nie saam te neem.

Jy, jou gesin en die land verdien dat alle geleenthede ontgin word. Burgerlike instellings soos AfriForum en Solidariteit is uiters belangrik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Gemsbok ·

Dit wil vir my voorkom asof ‘n deel van die bevolking maar swaar aanpas by ‘n Suid-Afrika wat besig is om te doen wat hy moet, te wete om die waardes, drome en aspirasies van die meerderheid van sy burgers te weerspieel.

Die verafrikanisering van Suid-Afrika is so noodwendig en ontstuitbaar as die afwaartse beweging van ‘n gletser.

As jy jou daarteen verset, sal dit jou eenvoudig onderploeg en vergruis soos met advokaat Breytenbach. Soos met renosters wat gestroop word of geïsoleerde, bejaarde boere op plase wat die een na die ander afgemaai word.

Om van Zuma ontslae te raak is nie ‘n antwoord nie, want dit sal slegs nuwe familielede en ‘n volgende orde kaders na vore laat tree wat tot kitsmiljoenêrs uit die dalende staatskas gehelp moet word. En as ons dink dinge gaan rof onder Zuma, dan moet julle op julle tande byt vir wanneer die “liberation before education” geslag die leisels begin oorneem.

Moenie dat die heimwee vir dit wat Suid-Afrika was (of kon wees) jou soos Lot se vrou laat betrap in die rimpels van verandering nie.

Glo dit of nie, maar hoor my lied: ons is nog in ‘n oorgangsfase, al is dit een wat vinning besig is om tot ‘n einde te loop.

Die geleentheid is nou, nie om Suid-Afrika te red nie want hy is waar hy wil wees, maar om ons volk op vaste grondslag te plaas met beheer oor ons eie grond, deur ons eie instellings en met ons eie arbeid. Solidariteit en Afriforum se huidige strategie sal hou totdat die howe getransformeer is en hul hofsake nie meer wenbaar is nie. Moenie tot dan wag om te besef dat Orania se strategie toe al die tyd die regte een was nie.

Ja, gebruik Afriforum en Solidariteit om die oorgangsfase so lank as moontlik te laat hou sodat die bouwerk vir ‘n beter toekoms kan vorder, maar raak betrokke by die bouwerk. Raak by die Orania Beweging betrokke.

Google dit.

herrie ·

Dankie vir reaksie Gemsbok, en soos altyd hoogsgewaardeerde reakie.
Ek dink jou reaksie sluit goed aan by wat ek probeer tuisbring het – dit help nie om op ‘n hoop te gaan sit en vergaan nie.
Doen iets.
As niemand iets doen nie, is daar n aderhand niks oor om weer te kan opstaan nie.
Herman

Pieter ·

As die persepsies die Rand tot so mate gestraf het, dink daaraan wat gaan gebeur as die nuwe wetgewing oor grondhervorming die lig sien. Dit grens aan Zanufikasie en die resultate gaan dieselfde wees as wat met Zimbabwe gebeur het. Maak solank Dolars bymekaar terwyl julle kan.

Gemsbok ·

Indiwidualisme kan nie die risiko’s wat ons as kollektief bedreig, versag nie.

Wat sal jou welvaart op sy eie jou help as die land rondom jou brand? Dit sal eerder ‘n groot teiken op jou rug verf

As jy net op geldmaak wil fokus, sal jy genoeg moet maak om die land te kan verlaat en om jou gewete te sus oor die familie en volksgenote wat jy aan die genade van ander oorlaat.

Ons benodig ‘n kollektiewe aksie, en ja as dit slaag kan rykdom vir indiwidue binne die kollektief baie beteken, maar sonder ‘n omgewing en omstanders wat jou bates respekteer, is jy uigelewer aan die politieke aasvoëls van die dag.

Orania wys die pad. Saam kan ons dit groot genoeg vir almal maak. En sterk genoeg om enige aanslag te weerstaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.