Nuuskommentaar: Gaan Mandela vir Zuma pos?

Nkandla

Dit is nie heeltemal so vergesog nie, meen die bekende dr. Piet Croucamp, dat die ANC na afloop van die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla, pres. Jacob Zuma as president kan herroep. Dié verslag word binnekort verwag.

Croucamp het gisteraand aan RSG se program, Kommentaar, deelgeneem, en verskeie kere verwys na hoe bekommerd Zuma gelyk het tydens die nuuskonferensie toe hy sy mees onlangse, en steeds omstrede, kabinetskommeling bekend gemaak het.

Daar kan geen twyfel wees dat die OB-verslag oor Nkandla Zuma baie sleg kan tref nie. Dit wat reeds bekend geword het oor die landgoed, is immers reeds baie skadelik vir die land. Verskeie analiste het egter al daarop gewys dat dit wat as skandale vir die land ontvou, nie noodwendig deur die ANC as skandale ervaar word nie. Met die skrywe hiervan is daar kriminele verhore teen twee provinsiale LUR’e in proses – met meer as R100 miljoen in een geval ter sprake – sonder selfs die vaagste aanduiding dat hulle tot die afhandeling van die verhore op die ys geplaas sal word.

Daar is egter ‘n paar faktore wat die ANC kan dwing om tog van Zuma as president ontslae te raak. Die opkoms van Agang SA en selfs Julius Malema se party, dreig om die feitlik outomatiese keuse vir die ANC deur ‘n groot aantal swart kiesers te versteur, waaruit verskeie partye soos die DA en Cope ook baat kan vind.

Daar is egter ook ‘n ander faktor wat momentum kry – die nalatenskap van oud-president Nelson Mandela. Dit is lank reeds klokhelder duidelik dat die ANC – of Zuma altans – hard probeer om die oud-president wat volgens emeritus aartsbiskop Desmond Tutu al meer as ‘n jaar lank nie meer ten volle bewus is van wat aangaan nie, as verkiesingsfoefie in te span. Die poging om Zuma en die ANC se toplui saam met die duidelik onbewustelike Mandela voor die TV-kameras te paradeer, het internasionaal sleg geboemerang. Hierna, tydens ‘n amptelike nuuskonferensie saam met die besoekende pres. Barack Obama, het Zuma protokol verbreek deur ‘n stukkie ANC-propaganda in te sleep deur te sê Mandela het meermale aan hom, Zuma, gesê dat hy in sy skik is moet hoe Zuma die land en die ANC lei.

Ook ander partye probeer die nalatenskap van Mandela kaap.

Maar hoekom is die pogings van Zuma om Mandela se nalatenskap tot voordeel van hom en die ANC te kaap dan sleg vir die ANC?

Mandela se lang siekbed, en die wete dat die dood enige oomblik kan intree, en die afgelope tyd die media-aanloop tot Mandela se 95ste verjaarsdag Donderdag, het die fokus soos selde geplaas op die nalatenskap van Mandela. Dit wat as nalatenskap opgedis word, is uiteraard gestroop van die negatiewe, en fokus baie sterk op aspekte soos nie-rassigheid, versoening, die konsep van die reënboognasie, en vele meer.

Trouens, enigiets negatiefs, soos die jongste verslag van Transparency International wat wys hoe omkopery in Suid-Afrika ‘n ernstige probleem is, word onvermydelik gevolg deur ‘n joernalis wat iewers sal opdiep waar Mandela hom teen korrupsie uitgespreek het.

Toe die burgemeester van Tshwane voor die hospitaal waar Mandela siek lê sê dat hy “ter ere van Mandela” die straatname se verandering wil deurdruk, was dit so maklik soos van die bed afval om te wys dat wat hy aanvang regstreeks indruis teen Mandela se talle uitsprake en gebare van versoening.

Die ANC se huidige aanslag teen die professionaliteit en onafhanklikheid van die howe, word ook maklik as ‘n skending van Mandela se nalatenskap uitgewys.

‘n Interessante manifestasie was gister in ‘n artikel in Rapport, deur prof Otto Terblanche,‘n navorsingsgenoot in geskiedenis, onder die opskrif, “Mandela se riglyne nie meer toegepas.” Onder die tien punte wat hy uitwys, tel verskeie waar Mandela hom positief oor Afrikaans en die Afrikaner uitgelaat het. Daar word ook klem gelê op Mandela se versoeningsboodskap. Hierteenoor skryf Tim du Plessis, ook in Rapport, onder die opskrif:Tyd vir afskeid van versoening.” Hoewel Du Plessis nie in die rubriek die vinger in die oog van Zuma druk nie, maar eerder op die komplekse aard van versoening, adem dit tog iets van Terblanche se inleidende sinne: “Die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika word gekenmerk deur toenemende polarisasie en antagonisme tussen wit en swart. Politieke kommentators is dit redelik eens dat die ANC van vandag afgewyk het van die pad wat Nelson Mandela in sy termyn as president van Suid-Afrika aangedui het. Wanneer Mandela se toesprake en uitsprake ontleed word, kan tien riglyne uitgehaal word wat hy vir nasiebou en versoening neergelê het.”

Van nie-rassigheid is daar lank nie meer sprake nie, met onder meer die Solidariteit-DKD-hofsaak wat die situasie duidelik uitwys. Dit is gister ook weer duidelik gedemonstreer met die terugkeer na Suid-Afrika van die Sweeds-gebore arbeidsaktivis, Liv Shange. Shange is met ‘n swart Suid-Afrikaner getroud, en het haar kinders na ‘n vakansie na die land gebring om hul tweede skooltermyn te hervat, maar het visumprobleme ondervind. Die ANC maak geen geheim daarvan nie dat hulle haar as ‘n groot opstoker in die mynbedryf beskou wat tot die onrus daar bydra.

Gwede Mantashe, se sekretaris-generaal van die ANC, se kommentaar is egter skokkend. Volgens hom is dit nog een ding as iemand van ‘n land soos Nigerië hier in ons myne kom moles maak, maar gans ‘n ander ding as die persoon van ‘n land soos Swede kom. Iemand se ras bepaal dus die “reg” van die persoon om in Suid-Afrika betrokke te wees.

Dieselfde sentimente het ook reeds tydens die wêreldbeker-sokkertoernooi geblyk, toe die regering Suid-Afrikaners aangemoedig het om na die BafanaBafana uitgeskakel is, ‘n span uit swart Afrika te ondersteun, en nie ‘n Afrikaland uit die Arabiese noorde nie.

Onlangs het hoofregter Mogoeng Mogoeng oor ‘n wye spektrum kritiek ontlok weens sy ras-uitlatings op die regbank.

Oor ‘n wye spektrum word dié soort rasbeheptheid as “transformasie” voorgehou en dan op ‘n manier geargumenteer dat dit nié op rassisme neerkom nie. Of die toenemende herinneringe aan Mandela se uitsprake en gebare oor versoening en nie-rassigheid uiteindelik genoeg momentum gaan kry om die ANC in die algemeen en Zuma in die besonder op die droë grond te laat uitspoel, sal nog gesien moet word. Maar hierdie soort herinneringe dra wel daartoe by dat Zuma al meer en meer soos ‘n lomp bokser in die kryt vertoon, en die ANC se statuur aantas.

Uiteindelik kan die OB se Nkandla-verslag net die finale spyker in Zuma se politieke doodskis wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae