Nuuskommentaar: Grondonteiening – San tussen die proteas

President Jacob Zuma

Wat het Zuma gesê, en wat het hy bedoel?

Uit die uiteenlopendheid van die inhoud van berigte oor wat pres. Jacob Zuma die naweek oor grondhervorming gesê het, is dit duidelik hoe kompleks die kwessie is, en hoe verskillend mense se persepsies is oor wat die werklikheid en werklike geskiedenis oor grondbesit in Suid-Afrika is.

Zuma het in sy hoedanigheid as president van die ANC gepraat, en eie aan Zuma het hy waarskynlik sy toespraak vir die gehoor gekleur, sonder inagneming dat die media die inhoud ook aan ander gehore bring, soos sy onlangse honde-uitspraak wat elders anders vertolk is. Dit het tot in die buiteland opslae gemaak.

Ook sy oproep op ‘n nasionale reinigingseremonie het buite die kring gaan draai waarvoor dit bedoel is en opslae gemaak, voor die politieke korrekte gordyn skynbaar daaroor getrek is. Dit is immers onmoontlik dat emeritus aartsbiskop Desmond Tutu, wat versoek sou word om die verrigtinge te lei, nog nie vir kommentaar opgespoor kon word nie.

Die SABC-TV-nuus, wat veral naby die ANC se Mangaungkongres in Bloemfontein skandelik blatant as ‘n Zuma-imbongi na vore getree het, berig oor Zuma se jongste uitsprake dat grondhervorming handel oor die “teruggee” van wit grond aan swart mense, en dat Zuma sou gesê het swart grond is veral in die droë dele van die land geleë. Vrywillige verkoper, vrywillige koper is nou ook iets van die verlede.

Die vermelding van die droogheid van swart grond maak van Zuma iemand wat kluitjies bak. Wanneer ‘n kaart van die voormalige tuislande oor ‘n reënvalisotoopkaart geplaas word, val dit feitlik volkome met die hoë reënvalgebied ooreen. Hierdie hoë reënvalgebied se gemiddelde reënval is min of meer dieselfde as die wêreld se reënvalgemiddeld, wat beteken dat die res van die land se reënval laer is as die wêreldgemiddeld, en as marginale tot baie moeilike landbougebiede beskou behoort te word.

Volgens die berigte beskou Zuma die swart bevolking wat so benadeel is as die inheemse bevolking van Suid-Afrika. Hierdie persepsie loop wyd, soos om die swart tale as inheemse beskou, maar Afrikaans as inheemse taal uit te sluit.

Zuma het wel die grondeisekwessie weer oopgestel en dié keer die Koisan ingesluit, wie se historiese grondbesit lank voor die vorige afsnypunt van 1913 strek. Ontleders meen die president was nog te vaag in wat hy hiermee bedoel het, en dat dit waarskynlik bloot ‘n politieke uitspraak was om die vervreemding van die bruin bevolking van die ANC te probeer omkeer. Dit word gekoppel aan die feit dat die plaaswerkersprotes (tot dusver) tot die Wes-Kaap beperk is.

Wie is inheems in Suid-Afrika?

Deur die grondeisekwessie so oop te stel, veral as dit “bodemloos” oopgestel word, word die kwessie van werklike inheemsheid op die tafel geplaas. Die San en hul voorouers se teenwoordigheid in Suid-Afrika word tienduisende jare teruggevoer, en daar is kwalik ‘n gebied in Suid-Afrika waar die San nie gevestig was nie. Prof. Peter Raper van Bloemfontein, wat internasionaal as deskundige oor inheemse plekname beskou word, toon hoe selfs sommige Afrikaanse en Zoeloe-plekname landswyd, en tot by Swakopmund in Namibië, na Koisanname vir die gebiede teruggevoer kan word.  Die Koisan het bepaald nie net in die droë westelike deel van die land gewoon nie. Waar daar proteas gegroei het, van die Wes-Kaap, al langs die ooskus tot in die Drakensberge en via Pretoria tot die Soutpansberge, is daar steeds tekens dat die San eens daar gewoon het.

Genetiese toetse toon dat die Koi later uit hierdie groep ontwikkel het, skynbaar weens blootstelling aan mense uit Oos-Afrika wat veeteelt bemeester het.

Histories het swart mense dit wat vandag as Suid-Afrika bekend staan, eers sowat ‘n duisend jaar gelede begin bewoon, en KwaZulu-Natal sowat 500 jaar gelede bereik. Die blankes se permanente teenwoordigheid kan 361 jaar teruggevoer word.

Die Koisan is ongetwyfeld die land se inheemse mense.

Indien daar ‘n bevolkingsgroep is wat kan kla oor hul erfdeel aan droë grond, is dit die afstammelinge van hierdie groep. Benewens ‘n aantal kleinerige bruin landelike gebiede in die Overberg is die grootste bruin landelike gebiede in droë gebiede geleë soos by Mier, die Richtersveld in die Noord-Kaap en Oppermans in die Wes-Vrystaat.

Inwoners van hierdie gebiede het ook grondeise op omringende grond ingestel, wat soms geslaag het. Dikwels is eerder geldelike kompensasie verkies. In enkele gevalle het inwoners gekla dat eise skynbaar geslaag het, maar dat die plase, in plaas van oorgedra is, skielik deur ministers of hul familielede besit is. Soms het eise gedupliseer, soos by Wurrasoord (Bethanië vir die Korannas) in die Vrystaat tussen die Griekwas en Korannas.

Grondeise deur die inheemse bevolking is wêreldwyd ‘n netelige kwessie, veral waar die inheemse bevolking klein en grootliks verdring of geassimileer is. In Kanada is die gesamentlike grondeise van die Indiane en die Inuit (Eskimo’s) ‘n hele paar die oppervlak van Kanada. Sou die inheemse grondeise in Indië slaag, sou die latere inwoners, die miljard Indiërs, almal in ander lande moet gaan blyplek vind.

Anders gestel, in Suid-Afrika sou die swart mense met suksesvolle grondeise waarskynlik elke vierkante sentimeter grond wat nou as swart stamgrond bekend staan, insluitend Inkandla, moet prysgee. Dat dit onrealisties is, maak dit in beginsel nie minder geldig nie.

Persepsies oor grondbesit

Maar oor min kwessies is die persepsies so uiteenlopend soos oor die grondkwessie. Uit die Matie Charl Swart se meestersverhandeling in Politieke Wetenskap blyk dit volgens opnames dat meer as tagtig persent van die swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. By blankes geld min of meer die teenoorgestelde persepsie.

‘n Kwessie uit Zuma se toespraak wat hom minder vir vertolking ooplaat is die verklaarde doelwit om die beginsel van vrywillige koper, vrywillige verkoper met die konsep van “billike onteiening” te vervang. Onteiening was egter reeds juridies in gebruik in gevalle van grondeise, hoewel gewone grondhervorming daarvan uitgesluit was. In die praktyk waarborg die grondwet steeds dat die howe as finale arbiter dien, en die voorgestelde nuwe plan se toepassing kan steeds lank in die howe draai, wat dit onduidelik maak hoe dit enige proses kan versnel. Wat wel duidelik was, was dat grondeise – gedig of nie – dikwels die boerdery tot die afhandeling lamgelê het.

Suid-Afrika se jongste daling op die Vryemarkindeks word toegeskryf aan korrupsie en oormatige regulering.

Die Burger maan vanoggend in sy hoofartikel, soos die landbousektor al lank doen, dat die probleme met die pas van grondhervorming nie net op die stelsel van vrywillige koper, vrywillige verkoper geplaas moet word nie. In die hoofartikel verwys Die Burger na die “erkenning van Lechesa Tsenoli, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, dat ook sy departement – nie net die beginsel van vrywillige koper/verkoper nie – skuldig is aan swak vordering met grondhervorming. Dié erkenning verlede Februarie is in skrille kontras met Zuma, wat die vrywillige-koper/verkoper-beginsel alleen die skuld gee.”

Die pad vorentoe

So lank as wat die rolspelers, veral die regering, meer geïnteresseerd in persepsies van die werklikheid is as die werklikheid self, so lank sal die kwessie van billikheid wat die proses noodsaak en onbillikheid wat die proses vergesel, die proses in konflik hul. Die Burger soms dit goed op: “Die afgelope 18 jaar was grondhervorming ’n groot mislukking – onder meer weens korrupsie, ’n gebrek aan staatshulp aan opkomende boere, en veral onbevoegde amptenare. Dié onbevoegdheid kan die grondhervormingsproses kelder en voedselsekerheid in die land in die gedrang bring. Die kommersiële boere, wat ’n groot rol in die grondhervormingsproses moet speel, vertrou eenvoudig nie meer die departement nie. Intussen word gesloer met ’n deeglike grondoudit wat die onderbou van ordelike grondhervorming moet vorm. Terwyl daar nie duidelikheid is oor hoeveel grond in staatsbesit is of deur tra­di­sio­ne­le leiers en owerhede bestuur word nie, gaan die proses aanhou stotter. Om dan in hierdie stadium die beginsel van vrywillige koper/verkoper met die badwater uit te gooi, is moeilikheid soek.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.