Nuuskommentaar: Guptas en Internasionale Persvryheidsdag

Terwyl die hele Guptasgate hom afspeel, ontstaan die vraag in hoe ‘n mate die publiek so ingelig sou kon word as snoerwet reeds geteken en van krag sou wees. Vandag, ‘n week na die wetsontwerp deur die parlement gestoomroller is, is dit Internasionale Persvryheidsdag.

Vir dié geleentheid stel die internasionale mediavryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense (VSG), ‘n nuwe lys van mediaroofdiere (press predators) bekend. Gegewe die deurlopende kritiek van VSG teen die snoerwet en ander aksies van die regering oor mediavryheid, is dit eintlik vreemd dat pres. Jacob Zuma nie soos sy eweknieë van Zimbabwe en Swaziland ook nou as ‘n mediaroofdier gelys is nie. Teken hy die wet is die “uitgelese lysie” egter heel moontlik sy voorland.

Intussen het die proses van hierdie wetsontwerp daartoe bygedra dat Suid-Afrika jaarliks op die persvryheidsindenks getuimel het, en van die 21ste mees persvrye land, en die mees persvrye land in Afrika, tot die 52ste posisie teruggetuimel het. ‘n Hele rits Afrikalande soos Namibië, Botswana, Ghana en die Kaap Verde is nou meer persvry as Suid-Afrika.

Om ‘n idee te vorm oor hoe die Gupta-affêre gesnoer kon wees sou dit die regering te behaag, kan ‘n vergelyking getref word.

Die Waterkloof-lugmagbasis is ‘n nasionale sleutelpunt, soos Nkandla. En dit is geen geheim nie hoe die regering die feit dat Nkandla ‘n nasionale sleutelpunt is, selfs sonder die snoerwet ingespan het om ‘n sluier te trek oor vele aspekte van die saak wat onder ernstige verdenking staan.

Presies wat alles sleutelpunte is, word geheim gehou, maar dit is bekend dat die parlement en alle internasionale lughawens op hierdie lys van sowat 200 is. Heel moontlik sou nog n sleutelpunt uit die lysie opgediep kon word om die sluier te trek.

En hoewel die regering en die drieparty-alliansie krities oor die hele Gupta-kwessie staan, en dit plek-plek veroordeel, is dit amper ongeëwenaard oor hoe die een weergawe wat van die vorige verskil oor wat gebeur het, opgedis is. Een amptenaar se kop is reeds op die ys geplaas.

Pres. Zuma se hegte bande met die Guptas is goed bekend, en dat Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma na bewering hieruit aansienlike voordeel put is ook algemene kennis. Heelwat bewerings oor die mutualisme van die Guptas se koerant, The New Age, en die ANC is in omloop.

Pres. Zuma was self na die troue genooi, en sou die hoofseremonie na wat berig is, as eregas bywoon. Na ‘n noodvergadering van die regering het sy planne om dit by te woon egter deur die mat geval.

Trouens, ‘n hele situasie ontplooi waar dit as “tipies” beskou sou kon word dat die ANC eerder die sluier oor die gebeure sou wou trek, en die kwessie in die doofpot sou probeer hou het. Maar die teenoorgestelde gebeur, met die gevolg dat politieke wetenskaplikes ook hieruit sinvolle afleidings probeer maak.

Dr. Piet Croucamp, wat gewoonlik goed ingelig is oor die binnewerking van die ANC, het op RSG aangedui dat Zuma tot ‘n mate geïsoleerd geraak het van die ANC se top vyf. Sou dit dalk kon verklaar hoekom Zuma skielik, en baie ongewoon vir hom, so stil geraak het soos ‘n pantoffelmuis, en spesifiek oor hierdie aangeleentheid?

Zuma se onlangse poging om oud-president Nelson Mandela as politieke kanonvoer in te span het liederlik geboemerang, en hoewel dit miskien nie sy eie breinkind was nie, moes hy dit minstens die uitvoering goedgekeur het. Hiermee het hy skynbaar ‘n paar lede van die top vyf wat eenvoudig aan die sirkus moes meedoen verkeerd opgevryf.

Hoewel dit onwaarskynlik is dat ‘n statutêre staatsgreep plaasgevind het, is dit heel waarskynlik dat Zuma ‘n min of meer eenparige boodskap gekry het dat hy nou minstens oor hierdie kwessie uit die kollig moet tree terwyl skadebeheer toegepas word.

Dit was opvallend dat van die ergste kritiek uit die drieparty-alliansie van Zuma se nouste bondgenote gekom het.

En as Zuma nou onder die knie gekry kon word, kan dit weer gebeur, en is dit nie vergesog dat Zuma na ‘n toekomstige blaps ge-PW kan word nie. Die jongste lys van Zuma se 50 grootste flaters wat in omloop gekom het, is genoeg om enige regdenkende mens nagmerries te gee. Die wapenskandaal se hantering, Nkandlagate, die e-tolsage, Suid-Afrika se tuimeling op die korrupsie-persepsie-indeks, die “vertoning” van die rand, voorvalle van polisiewreedhede, die snoerwet, Eskom se vertoning, vlakke van misdaad …om maar ‘n paar te noem.

Wat die jongste sage betref, moet daar vir die media ‘n pluimpie gegee word. Die media het die goedkeuring van die snoerwet “gevier” deur deeglik toe te slaan op hierdie en ander kwessies, wat dit vir die regering onmoontlik gemaak het om sy ou styl te volg waar Mac Maharaj uiteindelik die finale afronding aan die wegpraat van die probleem moes doen.

Daar is nie ‘n beter manier waarop die media internasionale persvryheidsdag sou kon vier nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae