Nuuskommentaar: Hofpolitiek in Noordwes

China Dodovu, LUR vir plaaslik regering in Noordwes.

Die inhegtenisneming van Noordwes se LUR vir plaaslik regering, China Dodovu, plaas die soeklig weer op die praktyk binne die ANC om begunstigdes nié te skors wanneer hulle van ernstige misdade aangekla word nie. Dodovu word van sameswering verdink in verband met die moord op ‘n ander ANC-ampsdraer.

In die buurprovinsie, die Noord-Kaap, staan die provinsiale voorsitter en LUR vir finansies, John Block reeds op verskeie aanklagte van finansiële misdrywe tereg. Hoewel hy al lank vir die ANC ‘n Block aan die been is, is sy openbare ampte nie in gedrang nie.

Die ANC beroep hom op die regsreël van iemand is onskuldig tot die hof bevind dat die teendeel bewys is.

Baie dubbelsinnighede rondom die betekenis van die  woord “skors”, of die beter beskrywende Engelse woord “suspend” veroorsaak verwarring. Aan die een kant word skorsing as die uiteindelike straf na ‘n skuldigbevinding beskou, soos wanneer ‘n rugbyspeler vir ‘n steelhou uitgevang is en na ‘n tugverhoor vir ‘n paar wedstryde geskors word. Aan die ander kant beteken skorsing bloot dat ‘n persoon in ‘n toestand van “suspensie” gelaat word terwyl die regsproses sy verloop neem en die skuld vasgestel en straf bepaal word.

Een van die hoofredes hoekom iemand wat ondersoek word geskors of op spesiale verlof geplaas word, is om inmenging in die ondersoek en selfs verhoor te voorkom. Dit is ook om te keer dat fluitjieblasers geïntimideer of geviktimiseer word.

Dié kwessie is ook nou ter sprake in die Suid-Afrikaanse sokker-beheerliggaam, SAFA, waar verskeie ampsdraers deur ‘n lywige verslag van Fifa by beweerde wedstrydknoeiery betrek word. Hier is die skorsings op dieselfde beginsel tersyde gestel, met die gevolg dat SAFA die gevaar loop om internasionale borgskappe te verbeur. Dit is ook onseker hoe lank Fifa dié optrede sal duld. Ook krieket en atletiek is deur sages waar ampsdraers soos nete bly klou het.

In die politiek geld “suspensie” of spesiale verlof waar die persoon in die spervuur nie self die eerbare ding doen en sy goed vat en loop nie. In Duitsland het twee ministers betreklik kort na mekaar hul tassies gevat en geloop na hul doktorsgrade weens beweerde plagiaat in gedrang gekom het. Veral in die jongste geval ontken die persoon dat sy gekierang het, en het aangedui dat sy die universiteit se bevindinge gaan beveg. Ook die vorige Duitse president, ‘n simboliese amp, het self sy goed gevat en geloop, weliswaar onder druk.

Dit is hierdie konvensie wat heeltemal vreemd aan die ANC is, veral as die bekleër in die heersende faksie se guns is.

Dit sal byvoorbeeld baie vreemd wees as Tony Eherenreich, Wes-Kaapse leier van Cosatu, in sy politieke swaard val sou die staat besluit om hom te vervolg oor beweerde intimidasie na aanleiding van TLU SA se kriminele klag wat teen hom by die SAPD ingedien is.

Deur nié die konvensie van demokrasie toe te pas nie, is daar ook geen sprake van openbare verantwoordbaarheid nie.

Die naaste wat die Suid-Afrikaanse  ANC-politiek daaraan gekom het, was toe oud-president Thabo Mbeki vir Jacob Zuma as adjunkpresident in die pad gesteek het. Die volle geskiedenis hieroor moet nog geskryf word.

Dit staan egter teen die agtergrond dat, in die ANC, ernstiger teenspoed te wagte kan wees as jy as teenstander van die leier beskou word, as oor wat jy gedoen het, of na bewering gedoen het. a

In die geval van Dodovu is iemand wel as waarnemende LUR aangestel. Hy is die LUR vir finansies, Paul Sebego, wat in verband met ‘n beweerde verkrygingskandaal van R15 miljoen ondersoek word.

Chris Hattingh, DA-leier, het die situasie volgend Beeld soos volg opgesom: Die moord op Chika en die Rustenburgse ANC-raadslid Moss Phakoe dui op politieke onverdraagsaamheid en binnegevegte in die ANC, het Hattingh gesê. Hy hoop premier Thandi Modise skors verskeie LUR’e teen wie daar ondersoeke is.

Of is dit ook ‘n geval van ‘n kritieke tekort aan vaardige kaders? In 1995 is ‘n provinsiale premier in ‘n radio-onderhoud die verweer geopper dat, sou die ANC almal skors wat korrup is, hoe gaan regstellende optrede ooit toegepas kan word?

‘n Ander premier het weer baie aandag getrek oor ‘n stelling dat dit in die haak is vir politici om die waarheid geweld aan te doen.

Die faksiegevegte in die ANC in Noordwes het reeds tot gevolg gehad dat ‘n mosie van wantroue teen die ANC-burgemeester van Tlokwe-munisipaliteit in Potchefstroom aanvaar is, en hy tydelik deur prof. Annette Combrinck vervang is. Die DA het die geleentheid benut on sake te begin regruk, en ook met ‘n forensiese ondersoek na bedrog en korrupsie te begin. Dié ondersoek is volgens Hattingh byna voltooi, en die ANC is op die oog af haastig om Combrinck  tot ‘n val te bring.

Die ironie is dat die ANC se nasionale leierskap doodeenvoudig aandring dat die afgesette burgemeester in ere herstel word, ongeag sy persoonlike ongewildheid onder die plaaslike inwoners.

Dit raak ‘n interessante speletjie om sekere munisipale bestuurders se loopbane deur die elektroniese argiewe te volg. Word die water op een plek te warm, word die persoon na ‘n ander munisipaliteit gehersirkuleer, tot sake daar weer te warm word. ‘n Spoor verdoemende verslae van die ouditeur-generaal en selfs die openbare beskermer versier die agtergelate voetpaadjie. Het die persoon die regte politieke bande, is die paadjie boonop die heel pad boontoe.

Sekere ministers se sake lyk kwalik anders. Die Burger publiseer vandag die inhoudelike van ‘n geheime verslag in die departement van vroue, gestremdes en kinders, waarin die vinger ook mildelik in minister Lulu Xingwana se oog gedruk word. Min mense buite die ANC het verwag dat dieselfde persoon wat as minister van landbou soveel omstredenheid veroorsaak het dat sy die bynaam Lawwe Lulu gekry het, vandag nog ‘n kabinetslid sou wees.

In ‘n normale demokrasie, veral met Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel, is dit byna ondenkbaar dat een party so lank aan bewind sou kon bly, selfs as deel van ‘n koalisie, dat die party sy belange en politieke kultuur so vasgemessel sou kry. Selfs die mees optimistiese projeksies dui steeds nie daarop dat die situasie binnekort kan verander nie, tensy Mamphela Ramphele baie vinnig ‘n baie groot haas uit ‘n Xhosa-kopdoek pluk.

Maar sake is nie so swart nie – as burgerlike instellings soos Solidariteit en AfriForum genoegsame steun kry om hulle selfs nog meer te bemagtig as wat nou die geval is, kan die water vir korrupsie en wanadministrasie baie warm gemaak word. Daar is reeds ‘n lang lys suksesse.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae