Nuuskommentaar: IRS-skandaal: Hoe demokrasie van SA verskil

President Barack Obama Foto: Pete Souza, whitehouse.gov

Woeste storms woed in die VSA. In die dorpie Granbury noord van Dallas in Texas is ‘n aantal mense dood en meer as ‘n honderd deur ‘n tornado beseer. Maar die Amerikaanse en wêreldmedia fokus op ‘n ander storm – onthullings dat die Amerikaanse Jan Taks (IRS) sy ondersoeke en fokus op konserwatiewe groeperings soos die Tea Party gefokus het.

Hoewel die bevooroordeeldheid nog net positief met Cincinnati verbind word, het die hoof van die IRS reeds bedank onder druk van die minister van finansies. Die vinnige druk op bedanking is waarskynlik om politieke skadebeheer toe te pas, maar is kenmerkend van ‘n demokrasie… maar nie in Suid-Afrika nie.

Hier kan persone soos departementshoofde en ministers wat elders ter wêreld lankal geskiedenis sou wees, hardnekkig vasklou en dan nog goue sterretjies aan hulself in hul huiswerkboeke toeken… as die huiswerkboeke ooit by die betrokke politieke skool afgelewer was.

Daar is egter ‘n ander rede hoekom dit nodig is dat Suid-Afrika die plaaslike Obama-euforie tersyde moet laat, en objektief lesse uit die Amerikaanse skandaal moet neem.

Ontleders is dit min of meer eens dat die tradisionele politieke volwassenheid van Jan Publiek se onderlinge verdraagsaamheid van Republikein versus Demokraat plek begin maak het vir iets wat eerder aan vyandskap herinner. Dit was veral rondom die verkiesing duidelik toe Obama sy tweede, en laaste, presidensiële termyn verseker het. ‘n Soortgelyke politieke polarisasie is in Suid-Afrika aanwesig.

‘n Rasmussen-peiling toon die politieke kloof in die VSA duidelik. Al is dit die Demokratiese administrasie wat die IRS hoof laat bedank het, en al lui berigte dat Obama self woedend is, meen 68% van die Republikeinse ondersteuners, en net 13% van die Demokrate dat dit baie waarskynlik is dat Obama van die gekonkel bewus moes gewees het. Altesaam 86% van die Republikeinse ondersteuners en 33% van die Demokrate meen die IRS se optrede was politiek-gemotiveerd.

Dit in ‘n land wat veel meer homogeen is as Suid-Afrika. Die jongste peiling toon onder meer dat 84% Amerikaners Engels as enigste landstaal steun, én nie meen dat so ‘n houding op vooroordeel of rassisme neerkom nie.

Politieke onverdraagsaamheid is nie heeltemal nuut in Suid-Afrika nie. Daar was dae toe die Natte en Sappe mekaar te lekker met die skousaal se stoele gemoker het, en daar was dae toe die “Vorster-honde” en die “Hertzogiete” mekaar met vrot eiers toegetakel het. En dit min of meer binne dieselfde groep. In die groter konteks was daar bomme in die strate, landmyne op plaaspaaie, sarsies in ‘n dameskroeg, die Steve Biko-geval en ander om maar ‘n paar te noem.

Daar was ‘n Waarheids- en Versoeningskommissie, maar sommige mense gaan skynbaar tot hulle die laaste asem uitblaas agter tralies sit, onder andere omdat naasbestaandes (nog) nie kan vergewe nie, soms skynbaar onder aansienlike gemeenskapsdruk.

Die politieke polarisasie in Suid-Afrika kan met ‘n stok aangevoel word. Omdat die ANC so politiek oorheers en selfs doelbewus al hoe meer soos ‘n eenparty-regering optree wat eerder vanuit Letuli-huis as die parlement en Uniegebou regeer, is dit natuurlik dat daar ‘n kollektiewe begrip van die ANC teen die res sal wees.

Hoewel daar pogings is om samewerking van die een of ander aard tussen opposisiepartye te bewerkstellig, juis as teenvoeter vir die ANC se oorheersing, moet daar klaarblyklik nog baie water in die see loop.

Die ANC het egter nie net met die gesamentlike opposisie te kampe nie, maar die tipiese magspel van ‘n eenparty-“demokrasie”. Dit manifesteer hom in onder meer die volgende:

–       Standpunt-inname vir of teen die Nasionale Ontwikkelingsplan. By die Mangaung-konferensie is besluit om die plan te steun, en is een van die hoofargietekte daarvan Cyril  Ramaphosa, tot adjunkpresident van die ANC verkies. Dit het ook die steun van die SAKP gekry. Maar veral sekere vakbonde soos NUMSA wou gewoon nie die knie voor hierdie besluit buig nie, en nou het die SAKP ‘n kritiese  verslag  hieroor die lig laat sien, en dit is deur Numsa – een van Cosatu se groot filiale, dit verwelkom. Die opsteller, Jeremy Cronin, een selfs minister Trevor Manuel moet die trekpas kry.

–       Al ontken die ANC dit, word berig dat daar ‘n groot uitval tussen pres. Jacob Zuma en Gwede Mantashe was oor die Gupta-geval, waarna Mantashe soos Cosatu en die SAKP, fel op die insident losgetrek het. Analiste wys egter daarop dat ten spyte van aanduidings dat die ANC se ringkoppe al hoe meer tot die besef kom dat die ANC en die land Zuma nie kan bekostig nie, Zuma se posisie nie in gevaar is nie weens die enorme onkritiese steun wat hy op voetsoolvlak het.

–       Hoewel nie binne die ANC nie, is dit duidelik dat die geleidelike openlike identifikasie van prominente swart elite met Agang vir die ANC ‘n klip in die maag word.

–       Die Solidariteit – DKD-hofsaak dui ook nou op ‘n interne probleem vir die ANC. Dit skep ‘n probleem met die behoud van die steun van minderhede, terwyl die hoofstroom nie in die korrektiewe stappe vervreem word nie. Eerder as om die DKD-saak deur politieke ingryping te ontlont word ander politieke foefies ingespan om minderhede op te vorder – die dramatiese en SAUK-TV-georkestreerde optrede in Eldoradopark, en die aanry (skynbaar op owerheidskoste volgens die berigte) van arm wittes na die ANC se Vrystaatse provinsiale kongres – met beloftes van kospakkies.

–       Die steunverlies van die NUM – Cosatu se ruggraat – aan die AMCU. Die aanvanklike taktiek om AMU as irrelevant af te maak het liederlik geboemerang, en die politieke klappe wat AMCU by die ANC gekry het, het ook die gevaar ingehou dat hierdie werkers en hul families nie uiters begerig sou wees om weer hul kruisies by die ANC te trek nie. Met die verkiesing wat nader kom, is daar meer versoenende stemme.

–       Daar is ‘n groeiende frustrasie met onbevoegde ministers en ontplooide kaders wie se kumulatiewe impak op die land by die dag sigbaarder word. Politieke rugdekking speel ‘n groter rol as landsbelang en die kan se is beter dat ‘n harde, getroue, eerlike werker sy pos kwyt sal wees as die mees onbekwame minister.

Hierdie politieke – eintlik staatkundige – Wilde Weste kom teen ‘n prys. Moody’s het pas weer gewaarsku dat Suid-Afrika opnuut afwaarts op sy kredietgradering aangepas kan word.

In ‘n demokrasie, so lui die spreekwoord, kry die kiesers die regering wat hulle verdien. Net jammer ook ander moet daaronder ly, en solank verkiesings grootliks rasse-sensusse is, dit uiters belangrik dat minderhede hul posisies in burgerlike organisasies soos AfriForum en Solidariteit versterk. Dit word wel in sekere kringe as politiek-inkorrek beskou, en die lewe wat die DKD-saak in die Bruin Belange-beweging geblaas het, word selfs vanuit gematigde kringe as laertrekkery verdag gemaak, eerder as dat die oorsaak vir die behoefte aan sulke instansies aangespreek word. Burgerlike instellings word egter in ‘n grondwetlike demokrasie as net sulke integrale dele van die demokrasie beskou as die vrye pers.

Die fisiologie van versoening moet ver staan en gestroop van politieke gedienstigheid aangepreek word, anders bly sit die land op ‘n kruitvat.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae