Nuuskommentaar: Korrupsie, toesmeerdery en gekonkel

Sedert pres. Jacob Zuma regeringshoof geword het, het Suid-Afrika met 15 plekke op die korrupsiepersepsieindeks van Transparency International teruggesak.

Volgens die jongste indeks beklee Suid-Afrika nou die 69ste posisie, na die land die afgelope jaar met nog vyf plekke teruggesak het. Tussen 2008 en 2010 het Suid-Afrika se posisie tussen die 54ste en 55ste posisie gewissel.

Lande wat minder as 50 persent haal, word as korrup beskou. Suid-Afrika behaal 43 persent. Onder die Afrikalande wat beter as Suid-Afrika vaar tel Lesotho, Ghana en Namibië, met Botswana in die 30ste posisie en wat met 65 persent wys dat ‘n Afrikaland nie noodwendig korrup hoef te wees nie.

Daar is ‘n erkende band tussen korrupsiepersepsie en persvryheid, wat in Suid-Afrika se geval ook baie waar is. Kort voor die jongste persvryheidsindeks verwag word, beklee Suid-Afrika die 42ste plek op Verslaggewers sonder Grense se indeks, terwyl die land in 2003 nog die 21ste plek beklee het, en die mees persvrye land op die kontinent was. Nou deel Suid-Afrika die 42ste posisie met Botswana, terwyl Ghana, Tanzanië, en Namibië (20) onder die Afrikalande tel wat beter as Suid-Afrika vaar.

Vir Suid-Afrika is daar slegte nuus. Dit is onwaarskynlik dat Transparency International reeds die impak van Nkandlagate, die SASSA-tender aan CPS  wat nou deur die FBI, maar nie Suid-Afrika nie, ondersoek word en ander onthullings sou ingereken het, terwyl die proses om die snoerwet deurgevoer te kry en dr. Blade Nzimande se oproep vir wetgewing om die “belediging” van die president ‘n strafbare oortreding te maak, ook Suid-Afrika se posisie  vorentoe op die presvryheidsindeks verder sal rysmier. Verslaggewers Sonder Grense het immers die ANC oor die snoerwet per brief “op terme geplaas.”

Suid-Afrika het waarskynlik weens die tydsberekening van die geval John Block, wat ‘n derde maal hof toe gesleep is, skade op die korrupsie-indeks vrygespring. In plaas daarvan dat hy vir die ANC ‘n Block aan die been word, bly hy ongestoord as ANC-voorsitter in die Noord-Kaap en LUR vir finansies aan. Gert Coetzee, hoofredaksielid van Volksblad skryf dat Block die arm kiesers na die ANC moet trek.

Ongelukkig boer Suid-Afrika op bykans alle belangrike indekse, soos die mededingsindeks, die vredesindeks, en die indeks vir mislukte state (piesangrepubliekindeks) agteruit. Voeg hierby die rewolusionêre klimaat wat ontstaan as gevolg van die feit dat Suid-Afrika volgens die wêreldbank se ginikoëffisiënt die hoogste inkomstegaping  ter wêreld het. In Suid-Afrika word daar twee mense in net meer as ‘n uur vermoor, terwyl daar in Nederland ‘n moord in net meer as elke tweede dag plaasvind.

Een van die redes hoekom Suid-Afrika so effentjies op die persvryheidsindeks vaar, is weens nie-institusionele sensuur. Dit sluit redaksionele voorkeure in wat nie die politieke spektrum behoorlik belig nie, politieke korrektheid, redaksionele druk onder dit wat adverteerders verlang – byvoorbeeld die Woollies-sage – en onregstreekse druk van die regerende party. Veral die SAUK is nou geweldig in die spervuur, soos met opdragte oor hoe oor Nkandlagate berig mag word, of nie berig mag word nie, en die omstrede  kansellasie van ‘n besprekingsprogram op Metro FM oor die komende Mangaungkongres. Die vyeblaar, dat die paneel ongebalanseerd sou wees, is klaaglik laf. Hoeveel sentrum-, en veral regs van sentrumdeelnemers is daar op ander SAUK-ontledingspanele?

Trouens, die nuusbulletins van SABC-TV verskil nou so drasties van dié van e-TV dat dit moeilik is om te glo daar word oor dieselfde land verslag gedoen. Die SABC-TV-nuusinhoud herinner nou weer aan die dae toe die SAUK sy buitekantore opdrag gegee het om minder nuusdekking aan plaasaanvalle te skenk. ‘n Mens kan maar net hoop dat dit tydelik van aard is en dat die politieke kommissarisse na die Mangaung-kongres weer dormant sal wees, anders moet die SAUK nie verbaas wees as daar weer ‘n lisensieboikotaksie kom nie.

Ongelukkig moet ook in die algemeen gevra word hoeveel nuusdekking die huidige Afrikaanse “diplomatieke” sending na die buiteland gekry het, en waartydens die UNPO diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika veroordeel het?

Intussen is ‘n poging deur Ikosa om Radio Pretoria ‘n groot aantal van sy senders te laat afskakel, ook in die hof gestuit.

Persvryheid word dikwels as die vierde, maar informele been van demokrasie beskryf. Persvryheid verseker dat die publiek ingeligte besluite kan neem wanner hulle hul kruisies gaan trek. Korrupsie word deur die wêreldbank as die diefstal van ‘n land se toekoms beskryf, en daarom word die doeltreffendheid van ‘n  vrye media in sy rol as waghond as barometer vir korrupsie gebruik.

Dit is bykans ondenkbaar dat ‘n president op wie se wagbeurt die land so agteruit op indekse, veral die korrupsieperspsie-indeks en die piesangrepubliekindeks geboer het vir ‘n tweede termyn verkiesbaar sou wees. Maar as die persoon se ondersteuners ook aan ‘n belangrike segment van die media wat ‘n groot deel van die bevolking se enigste nuusbron is kan voorskryf om ‘n ander werklikheid as die werklike realiteit voor te hou, is die ongelooflike wat nou gebeur stellig moontlik.

Die indekse voed mekaar, en wat op die oog af nou gebeur is dat iemand besig is om die land van sy toekoms te beroof, én die media probeer snoer sodat die lig nie oor die korrupsie kan skyn nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae