Nuuskommentaar: O Bhuru, het die wêreld mal geword?

Robert McBride. Foto: Werner Beukes/SAPA

Robert McBride. Foto: Werner Beukes/SAPA

Dit sal nogal ‘n soektog deur die argiewe afgee om ‘n gekker dag in die wêreldkanale te vind as Dinsdag. Op plaaslike bodem ondersteun die kabinet die minister van Polisie se aanbeveling dat die moordenaar Robert McBride as hoof van Opod aangestel word, terwyl ‘n vol koker van die wêreld se menseregte-muishondlande soos Saoedi-Arabië, China, Rusland, Viëtnam en Kuba tot die VN se Menseregteraad verkies is.

Iets waarop Suid-Afrikaners normaalweg trots moes wees, naamlik dat Suid-Afrika ook tot nuwe lid van die Menseregteraad verkies is, word nie net bederf oor die ongure geselskap waarin hy hom in die proses bevind nie, maar ‘n hele paar gebeure op die plaaslike bodem laat die land se verbintenis tot menseregte erg pikant lyk:

–       Kon die ANC ‘n meer omstrede aanbeveling maak as McBride? Nie maklik nie. McBride se rekord vir moord na hy op die klante van ‘n vrouekroeg, McGoo’s losgebrand en die doodstraf gekry het, is deur politieke amnestie skoongevee. Dit is wyd gesien as ‘n soort politieke “ruiltransaksie” vir die sogenaamde Wit Wolf. Maar toe McBride ‘n koerant wat na hom as moordenaar verwys het vir laster probeer dagvaar het, het die howe beslis die amnestie beteken nie dat hy skielik nie meer ‘n moordenaar is nie. Hy was al in Mosambiek op aanklagte van wapensmokkelary aangekeer, is van aanranding beskuldig en vyf jaar tronk toe gestuur weens dronkbestuur en dwarsboming van die gereg. Onder appèl is die skuldigbevindings omgekeer. Dus ‘n leliewit skoon rekord, maar erg omstrede. Maar net die regte man vir die werk, soos wat minister Nathi Mthethwa te kenne gee?

–       Mnr. Cyril Ramaphosa se opmerking dat wegbly van die stembus kan beteken dat die Boere gaan terugkom om te regeer, was in al elf amptelike tale verkeerd, en plofbaar in ‘n erg gepolariseerde land. Maar sy, en die ANC se verduideliking dat die woord “Bhuru” wat hy gebruik het eintlik na apartheid verwys en as sodanig verstaan word, is ‘n belediging sonder weerga vir die Afrikaner. Dit herinner aan Lulu Xingwana se “verskoning” oor die wit Afrikanermans wat weens hul Calvinistiese agtergrond sleg met vroue werk. Dit wat Ramaphosa kwytgeraak het, en sy kleitrappery daarna, sou in verskeie wêrelddele waar minderheidsregte as ‘n integrale deel van menseregte beskou word, soos Wes-Europa, as ‘n erge menseregtevergryp beskou gewees het. Dit sou of meer dieselfde omvang aangeneem het as wat hier sou losbars sou ‘n senior wit DA-politkus gesê het as kiesers van die stembus wegbly, gaan die k*****’s bly regeer. Maak nie saak in watter party anders as die ANC so ‘n politikus sou wees nie, hy sou vandag reeds ‘n gewese politikus wees. In ‘n land waar die ANC in die bresse getree het vir die singery van “Kill the Boer, kill the farmer” (en die voorbok as held vereer), en “Skiet die Boere” is die angel al diep ingedruk. Wat sake vertroebel is dat Ramaphosa buite ANC-geledere ook heelwat meer aansien geniet (het) as byvoorbeeld pres. Jacob Zuma.

–       Onder aanvoering van die ANC is die omstrede snoerwet weer deur die Algemene vergadering goedgekeur. Dié wetsontwerp het die land al enorme skade berokken en byvoorbeeld baie bygedra dat die land erg op die persvryheidsindeks die kreeftegang gaan – en dis nog nie eens op die wetboek nie. Dit word wyd as ‘n liederlike klad op menseregte beskou, maar Suid-Afrika word met ‘n setel in die Menseregteraad beloon?

–       Hier te lande kook dit nog oor die opposisiepartye se steun, die Vryheidsfront Plus uitgesonderd, aan die ANC om rasverskerpte wetgewing deur die Algemene vergadering te voer, en wat bedoel word om teen minderhede te diskrimineer. Die DA het intussen sy steun onttrek, maar het in eie geledere weerstand daaroor.

As daar ooit ‘n persepsie by iemand was dat Mthethwa die regte persoon vir die pos van minister van polisie was, is dit na dese moeilik om te dink dat dit nog die geval kan wees. ‘n Gewese minister het die wêreld laat gons toe hy gesê het Steve Biko se dood laat hom koud. Mthethwa se eie weergawe was dat die veldtog om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar ‘n goedkoop publisiteitsfoefie is. Hoe kan hy steeds minister wees na Marikana? Iemand het waarskynlik die antwoord in ‘n kommentaar in die sosiale media beetgehad deur ‘n lysie te plaas van hoë koppe uit Zuma se tuisprovinsie, KwaZulu-Natal:

  1. President (Jacob Zuma) – KZN
  2. Minister van Justisie (Jeff Radebe) – KZN
  3. Minister van Polisie (Nathi Mthethwa) – KZN
  4. Minister van Staatsveiligheid (Dr Siyabonga Cwele) – KZN
  5. Minister Kommunikasie (Yunus Carrim) – KZN
  6. Minister Openbare Werke (Malusi Gigaba) – KZN
  7. Minister van Korrektiewe Dienste (Sibusiso Ndebele) – KZN
  8. Minister van Hoër Onderwys (Dr Blade Ndzimande) – KZN
  9. Minister van Finansies (Pravin Gordhan) – KZN
  10. Minister van Arbeid (Mildred Nelisiwe Oliphant) -KZN
  11. Minister Binnelandse Sake (Naledi Grace Pandor) – KZN
  12. Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (Mxolisi Nxasana) – KZN
  13. Hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid (Vasantrai Soni) – KZN
  14. Cosatu-president (Sdumo Dlamini) – KZN
  15. ANC-tesourier-generaal (Dr Zweli Mkhize) – KZN

Mthethwa bevind hom dus onder die kaders wie se loopbane slegs kortgeknip sal word as hulle Zuma die rug toekeer.

Die lys verklap ook maklik waarom die kabinet se veiligheidsgroepering so hard probeer om die waarheid oor Nkandla uit die openbare domein te hou.

McBride kom ook oorspronklik uit die provinsie, soos toe hy die mense in die dameskroeg afgemaai het, maar dit kan beswaarlik nog punte tel om hom as die mees geskikte kandidaat te beskou. Hou dit dalk verband met die feit dat die ANC maniere soek om die bruin stemme wat die NNP eens saam met die Wes-Kaap op ‘n skinkbord aan hom besorg het, terug te wen?

Onder bruin meningsvormers bestaan die persepsie juis wyd dat die bruin leiersfigure binne die ANC – ook in die Wes-Kaap – maar lig in die broek is. Die ANC gaan die verkiesing tegemoet met ‘n NUK wat na die kongres in Bloemfontein op enkele lede na van veral bruin, maar ook wit en Indiër gestroop is.

Die ANC se bruin pyle in sy koker is inderdaad min, en die punte van ‘n  stewige proporsie hiervan soos Marius Fransman en Tina Joemat-Pettersson is maar stomp. Trevor Manuel word bietjie uit die openbare oog gehou terwyl die storm oor die Nasionale Ontwikkelingsplan nog binne die ANC woed. Jesse Duarte is te midde van groot mediafanfare op ‘n Wes-Kaapse stemwerwingsveldtog gestuur, maar sy het nie werklik beïndruk nie.

Maar die kabinet kan tog nie ernstig glo dat McBride die aller-oplossing vir dié probleem gaan bied nie.  Maar dis ook nie maklik om ‘n ander logika te vind nie.  Binne bruin geledere is daar immers baie duisende beter kandidate vir die pos.

Wat die ANC binne enkele dae reggekry het, was om die bal wat die DA laat val het, op te pik en weer aan die DA te besorg.

Geen wonder mevrou sê gisteraand na die nuus bekend geword het dat Saoedi-Arabië, China, Rusland en Kuba saam met Suid-Afrika tot die VN se Menseregteraad verkies is, dat die wêreld mal geword het nie.

Eintlik is daar wêreldwyd hier en oorsee belangriker kwessies wat dringend die aandag van analiste nodig het. Plaaslik is dit onder meer Vrydag se hofaansoek om die Nkandla-verslag (langer) te snoer. Internasionaal ‘n uitgelekte verslag van die VN se klimaatstaakgroep dat klimaatsverandering gaan veroorsaak dat die produksie van mielies, koring en rys teen twee persent per dekade gaan afneem terwyl die bevolkingsontploffing die aanvraag teen 14 persent per jaar gaan opstoot. Meer ekstreme weerstoestande soos droogtes, en storms soos Sandy en Haiyan gaan voorkom. Die VN se uiters belangrike beraad oor klimaatsverandering in Warskou, Pole, haal kwalik die nuus.

Maar die politici sorg eenvoudig dat die kollig op hulle bly val.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Henry Oltman ·

Ek kan nie verstaan hoe die ANC enigsens iemand met ‘n rekord se naam kan noem vir die pos nie, met al die slegte publisiteit oor korrupsie ens ens. Is hulle mal? Hoekom benoem ons nie sommer Schabir Shaik as die nuwe Minister van Finansies nie?

Trippie ·

Jy is onregverdig, Shabir gaan nie tyd hê om die pos te vul nie – gaan rêrig inmeng met sy golf- en inkopie-sentrum besoeke.

Trippie ·

Hy hoort NIE in die pos nie – PUNT – soos baie kriminele in die regering en ‘n aansienlike hoeveelheid SAPD-lede.

Chris ·

By die lees van sulke feite roep dit die gedig op waarin staan “Nader kruip die Zoeloe mag” Mens kan kwalik die oordeelsvermoe van die ANC met die van kinders vergelyk; bid jou aan om Macbride bo ‘n man soos Dr. Mark Shaw te wil aanstel is lagwekkend en sieklik.

leon ·

More Trippie , Justi en almal, janee kyk ons moet maar liewer stil bly anders sit ons almal in een sel opgesluit.

Hein ·

Ag nee wat; hierdie is glad nie ‘n verrassing nie. Die cANCer is bly by uitstek ‘n terroriste organisasie; hoekom sou hulle nie terroriste aanstel om hulle posisie verder in die belastingbetalers se geld koffers in te verstewig nie?

Mckayline ·

Die feit van die saak is, hy bly ‘n koelbloedige moordenaar.

AmY ·

Nee kyk, die kammarade kyk darem maar mooi na mekaar. Jy krap my agterwêreld en môre doen ek dit weer vir jou. Flippen korrupte spul!!!

Cyberjerk Ingram ·

As die ANC Zuma met 760 aanklagte van bedrog; Mal-emma wat openlik tesame met Zuma moord teen Boere op openbare verhoë propageer, en die Afrikaner mense soos die FW de Grieke in hul geledere het, is enigiets seker moontlik.

Pieter ·

Hierdie ou is ‘n Mandela luitenant en het siviele teikens en vrouens opgeblaas met Mandela se wete en goedkeuring.

Jasper ·

Almal mis die groot grap. Kyk watter lande is tot die VN se Menseregteraad verkies en ons teken petisies om ons saak voor hulle te gaan stel.

Bernard K Hellberg ·

Net ‘n vinnige regstellinkie – MacBride was ‘m bomplanter – dit sou te veel ‘moed’ geverg het om sy slagoffers in die oë te kyk

cs ·

Eendag lank, baie lank gelede was daar die eerbare man genaamd Piet Retief. Hy het bewys dat vertroue jou grafsteen verseker. Vir die wat sukkel om te verstaan, bel my !

Meisie ·

Kyk , daar is net een manier om dit te beskryf , sonder om doekies om te draai….. Ons land is in sy m@#$r!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.