Nuuskommentaar: Polarisasie en perspektiewe

Dié voorval het ‘n ontsaglike stroom kommentaar op die sosiale netwerke ontlok, wat ‘n verwagte, maar ontstellende prentjie van polarisasie skep. Aan die een kant is daar ‘n stroom deelnemers wat meen dis jammer die boer het nie al vyf in die stof laat byt nie. Aan die ander kant mense wat dié deelnemers vir hul bloeddorstigheid verkwalik en meen die nodige geweld is vir selfverdediging gebruik.

Baie van die deelnemers is bekommerd dat die boer, wanneer hy genoegsaam herstel het, gearresteer en van moord aangekla gaan word. Ongelukkig was daar al gevalle waar mense, ook boere, onder soortgelyke omstandighede gearresteer is en moordossiere geopen is, hoewel blykbaar min van hierdie sake die howe haal. Die gewone publiek tref egter nie die onderskeid tussen ‘n formele verhoor en die aanvanklike arrestasie nie.

Wat sake in hierdie geval meer tot die punt dryf, is dat die Wetsontwerp op gevaarlike wapens slegs ‘n kort blootstelling vir openbare kommentaar gehad het. Dit skep die indruk dat die owerheid hierdie wet wil stoomroller. Dié persepsie word versterk deurdat die publiek vroeër, toe begin is om die wetsontwerp op te stel, geleentheid vir inspraak gehad het – inspraak wat skynbaar volledig geïgnoreer is.

Dit volg ook kort op die hakke van die uitspraak in die Julius Malema-haatspraakverhoor.

Uit Sondagaand se Kommentaar op RSG was dit ook duidelik dat baie politieke ontleders erg onthuts is met ‘n ANC-faksie se houding dat die grondwet ‘n struikelblok is om ‘n meerderheidswil afgedwing te kry, en dat die grondwet al meer uitgedaag en selfs geïgnoreer word. In ‘n heterogene samelewing is dit nie iets wat ligtelik mee omgegaan kan word nie.

Uit ‘n skripsie van ‘n Stellenbosse student blyk dit voorts hoe gepolariseerd menings in die land is. Op die vraag of gemeen word dat blankes swart mense se grond gesteel het, het by verre die meeste swart respondente ja gesê, en baie hiervan het baie sterk ja gestem. Dit geld in ‘n wisselende mate al swart volksgroepe in die land. Die by verre die meeste Afrikaans- en Engelssprekendes meen egter dit is nie so nie, hoewel diegene wat saam met die stelling stem oor tyd ook meer word. Ironies, voor die Malema-verhoor begin het, het meer as sestig persent swart mense volgens ‘n peiling gemeen Malema se sing van die omstrede liedjie is haatspraak en verkeerd.

Verskillende weergawes van dieselfde werklikhede is lank reeds in die land in omloop, en dit gaan ook nie oornag verander nie. In die internet-era is dit ook nie so maklik om mense se verwysingsraamwerke eenvormig te maak nie. En selfs al sou dit tegnies moontlik wees om op die internet en in die ander media dieselfde weergawes voor te hou, is daar nie soos die vroeëre Sjinese gebruik ‘n tradisie van boekverbranding wanneer een dinastie ‘n ander opvolg, en die geskiedenis as’t ware opnuut begin nie.

Die werklikheid is dat ‘n reuse diversiteit van inligting die publiek bereik, en selfs elke groep sogenaamde ontkenners, hetsy oor klimaatsverandering, die oorsaak van Vigs en ‘n magdom ander sake, sy eie webwerwe en ondersteuners het. Die vlakke van onverdraagsaamheid is ontsaglik, die riooltaal wat selfs Christene onderling teen mekaar gebruik, walglik. Die komende twee weke vind verskeie sinodes plaas, en in elk het die gewone gemeentelede kommer oor die verwagte polarisasie. Die Hervormde Kerk se spesiale Algemene Kerkvergadering oor die sogenaamde apartheidsbesluit gaan weer emosies opjaag. Die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat se sinode staan in die skadu van verskeie sake wat nog na die onmin met die VGK herlei kan word. Die NG kerk sal op sy sinode ‘n goue weg moet vind oor verskeie kwessies waaroor verskillende lidmate sterk opponerende standpunte huldig.

Kerkverbande is veronderstel om Christene wat betreklik eendersdenkend is te groepeer. As dit daar so gaan, lyk dit na ‘n byna onbegonne taak in die politiek waar verskillende groepe nie eens oor ‘n vaste stel feite soos historiese gebeure min of meer dieselfde weergawe het nie.

Dit sou al baie beteken het as die regering konsekwent die boodskap van regeer in algemene belang uitgedra het. Faksiegevegte binne die ANC maak dit egter baie moeilik, en die howe sal klaarblyklik baie besig gehou word om die grondwet gehandhaaf te hou.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae