Nuuskommentaar: Twis oor renosterstropery

Foto: www.rhinoconservation.org

Die ANC-Jeugliga se kritiek op die Nasionale Persklub oor die aanwysing van die renoster as nuusmaker van die jaar steek ‘n perdebynes oop. Dit herinner aan pres. Jacob Zuma se kritiek oor “die witmense” se manier om siek diere veearts toe te neem.

In beide gevalle het dit gegaan oor die stel van diere teenoor mense, veral arm en andersins weerlose mense. Die swart man agter op die bakkie, terwyl Woef voor in die kajuit saam met sy baas ry.

Of, soos in die geval van die renoster as nuusmaker, die stel van die lot van die renoster teenoor die menseslagting by Marikana (wat die ander finalis vir nuusmaker van die jaar was), die skoolkinders sonder handboeke in Limpopo, en ander voorvalle waar mense die lydendes was.

Of die persklub dit so bedoel het of nie, die keuse het twee uiteenlopende uitgangspunte teenoor mekaar gestel – een waar die mense sy Skeppingsopdrag sinvol probeer uitleef, teenoor een waar die mens self sy planeet onbewoonbaar maak, onder meer deur onbeheersd aan te was.

Die renosterspesies van die wêreld word almal deur uitwissing bedreig, en sommige spesies soos die Javaanse en die swartrenoster is erg bedreig. Van die subspesies is nog net in museums te siene, terwyl elke lewende renoster van ‘n baie skaars subspesie witrenoster in Kenia deur ‘n span wagte opgepas word, en die renosters boonop onthoring is.

Die renoster en die ysbeer het internasionaal met die reuse panda begin meeding as simbool van bedreigde spesie. Hulle is lank nie al nie.

En terwyl Suid-Afrika waarskynlik al land ter wêreld is wat nog lewensvatbare bevolkings swart- en witrenosters oor het, maar die land die afgelope jaar ‘n nuwe rekord renosterstropings van 668 beleef het, en die slagting onverpoosd voortduur,  sou dit bisar wees as die renoster nie minstens ‘n sterk aanspraakmaker sou wees as nuusmaker van die jaar nie.

Terwyl daar internasionaal groot kommer is oor die voortbestaan van die renoster, en die WWF Suid-Afrika verlede jaar vir sy bewaringspoging ‘n geelkaart gegee het, is die wêreld ewe bekommerd oor die menslike aanwas in Afrika suid van die Sahara. In die proses is daar ‘n groot kommer oor ‘n potensiële hongersnood te midde van klimaatonbestendigheid wat sy kloue wêreldwyd inslaan.

Te midde hiervan meen Zuma dit is vroue se taak om kinders in die wêreld te bring en te leer om ma’s te wees. Die broodnoodsaaklike gesinsbeplanningsvoorligting het as besprekingspunt erg politiek inkorrek geword.  Die patroon kan duidelik uit koerante se argiewe oor jare gesien word waar die kwessie van gesinsbeplanning nou byna uitsluitlik in briewe na koerante genoem word, of opposisiepartye in reaksie op Suid-Afrika se skrikwekkende aborsiesyfers daarna verwys.

Dit is immers moeilik om die kwessie behoorlik aan te spreek as die president meer as twintig kinders binne en buite die eg verwek het.

Suid-Afrika word internasionaal as ‘n muishondland vir CO2-vrystelling in die atmosfeer beskou. Die vernaamste vlieg in die salf is die twee nuwe makro–kragsentrales wat nou inderhaas gebou word, selfs al span hulle moderne tegnologie in om hulle minder skadelik te maak.

Klimaatsgewys dui die tendens daarop dat Suid-Afrika it die weste droër en warmer word, wat dit nie net bitter moeilik vir bestaande boere in daardie dele maak nie, maar enorme druk op die grondhervormingsplanne plaas om geskikte grond te vind en die nuwelingboer nie aan ‘n verskriklike lot uit te lewer nie – al sou die staat sy ondersteuning merkwaardig opknap.

Hoofstroomwetenskaplikes is dit nou min of meer eens dat die klimaat aan die warmer word is, dat die vrystelling van CO2 ‘n groot rol speel, en dat menslike aktiwiteite ‘n aandeel het daarin. Tog, terwyl ontkenners steeds raas, is daar onder hoofstroomwetenskaplikes nie presiese eenstemmigheid oor die verskillende komponente nie, en dus wat dit die mens gaan kos om dit aan te spreek nie. (Die hoofelemente van die debat word in ‘n artikel hier bespreek).

Die Nederlandse minister van ekonomiese sake het nou die voet dwars neergesit – om ekonomies te beplan, moet hy syfers hê.

En nou verskil die syfers oor hoe om die mens se koolstofvoetspoor teen te werk nog gans te veel – dit wissel $20 tot $270 per ton CO2 wat die mens in die atmosfeer uitstoot.

Wêreldwyd is inisiatiewe om die mens se koolstofvoetspoor te verminder. Talle projekte is reeds van stapel gestuur om ‘n ander broeikasgas, metaangas, uit die atmosfeer te haal. Metaangas, anders as byvoorbeeld olie en steenkool, brand byna skoon. ‘n Maatskappy in Skotland het nou ‘n proses ontwikkel om CO2 ook uit die atmosfeer te haal, en in skoon petroleum om te skakel. Die groot probleem is dat die proses steeds enorme hoeveelhede energie verg om ‘n byna onuitputlike bron van skoon energie te skep.

Elektriese motorvoertuie kom nog stadig uit die blokke en die Suid-Afrikaanse Joule het in die stof gebyt. Dit lyk ironies of die lande aan die bopunt van ekonomiese vryheid en mededingendheid soos Australië en Finland die voorkeurlande is vir die bou hiervan, met byvoorbeeld Amerikaanse vervaardigers wat dié bedrywe na Finland skuif. Suid-Afrika vaar egter power op al wat indeks is.

Die hibridemotors is volgens syfers besig om vinnig veld te wen namate die keusevryheid groter word, ook die vervaardigers van luukse sedanmotors hierin begin belê en meer bekostigbare modelle op die mark verskyn. ‘n Britse projeksie dui daarop dat die verkoop van hibridemotors wêreldwyd teen 19 persent per jaar sal toeneem, van 800 000 verkope per jaar nou tot  1,8 miljoen per jaar in 2015.

In Europese koerante is projekte vir skoon, hernubare energie groot nuus en sommige koerante plaas daagliks verslae oor die uitbreidingsplanne van sonkrag en windkragprojekte, asook ander projekte vir hernubare energie. Pas is berig dat die groterwordende aandeel van wind- en sonkrag-elektrisiteit in Duitsland en Frankryk kragpryse tot rekordvlakke afgedwing het.

Hoofstroomwetenskaplikes is dit eens dat die mens self besig is om sy planeet onbewoonbaar te maak, al behels dit bloot dat die impak van natuurlike siklusse soos sonaktiwiteit en die aarde se as-inklinasie versnel word. Al hoe meer ongewone natuurrampe soos die storm Sandy, en rekorddroogtes en -hitte in die wêreld se kosmandjie is die gevolge. Verlede jaar het natuurrampe wêreldwyd 9 500 lewens geëis en skade van sowat $160 miljard aangerig, aldus die Duitse herversekeraar, München Re. Veral die VSA het infrastrukturele skade gely, waar die orkaan Sandy skade van sowat $18 miljard aangerig het.

Die vorige jaar was wel rampspoediger, maar hoofsaaklik weens natuurrampe wat nie met die klimaat verband hou nie, soos die Japannese tsunami en die aardbewings van Japan en Christchurch in Nieu-Seeland.

En as die mens nie briek aandraai nie, sal die klimaatsverwante natuurrampe net meer word en groter eise aan die mensdom stel, meer lewens verwoes en meer mense aan hongersnood blootstel.

As ‘n mens deur die bril van sy Skeppingsopdrag kyk, hoe die mens die verantwoordelikheid wat in sy hande geplaas is op ‘n verantwoordelike manier en in die langtermynbelang van die aarde en sy bewoners, mens, dier en plant moet opneem, dan is die keuse van die renoster as nuusmaker uiters gepas as alarm vir wat die mens met sy planeet aanvang. Die renoster is ‘n goeie simbool van wat gebeur as die mens nie verantwoordelik heers nie, maar by die punt verby aanwas waar die aarde gevul is, en bly verteer en verwoes. Al hoe meer inligting word beskikbaar hoe Mars eens gelyk het teenoor hoe dit nou daaruit sien, en hoe die ander planeet in die sogenaamde Goue Lokkie-sone, Venus, daaruit sien.

Nee, Zuma was nie eens op een van daardie planete president nie, en die ANC-jeugliga het nooit daar moles gemaak nie, maar daardie planete spreek hard tot ons as voorbeelde van waarheen dinge kan gaan as die mens nié sy omgewing begin oppas nie.

Die aarde is op daardie punt waar die mensdom se beste belang gedien word deur die natuur mooi op te pas.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Leslie ·

Ongelukkig vir hulle, dit is my voertuig en my hond wat as beskeremer op tree , ek kan dan net so wel die voertuig se alarem diskonnekteer, dit is snaaks dat hulle nie daar oor klae nie. hulle vra vir my werk en ek aan vaar dit as ek werk het, hulle dan in my diens, hulle is onder geen verpligting om die werk te aan vaar nie as ook die beloning wat aangebied word wat normaal weg eers bespreek word
ek sal ook nooit weer mense van die straat af gebruik nie want ek was beroof en toe sonder hond
Ek neem now net blankes in diens

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.