Nuuskommentaar: Wingerdstaking

Die beplande staking in die Boland word vandag voortgesit nadat onderhandelinge tussen verskeie rolspelers om dit af te weer, gisteraand laat op ‘n dooiepunt uitgeloop het.

Na tien weke waarin die koel koppe weer aangeskroef kon word en besin kon word oor oorsake, en misverstande uit die weg geruim kon word, lyk dit of die slagordes weer opgestel is.

Die vorige staking het op heelwat geweld, intimidasie en vandalisme uitgeloop. Minstens een mens is dood en dit het die landboubedryf sowat R120 miljoen gekos.

Baie besondere uiteenlopende gemeenskapspersepsies in die Wes-Kaap oor toestande in die landbou, leen hierdie sektor daartoe om vir politieke agendas uitgebuit te word. Dit lyk taamlik opsigtelik of heethoofde die situasie wil uitbuit om bruin vervreemding van die ANC om te keer, en om dan in ‘n volgende verkiesing, die Wes-Kaap, soos dit gestel word, van die DA te bevry. Veral Cosatu se absurde grondhervormingseise klink baie na ‘n blote verskoning soek om met die staking voort te gaan.

Die siening dat die situasie vir politieke doeleindes uitgebuit, en teen die DA gemik is, word goed verwoord deur die ekonoom Chris Hart van Investment Solutions. Die Burger haal hom soos volg aan: “(Dit is) duidelik dat partye wat by die staking betrokke is, probeer om die DA (wat in die Wes-Kaap regeer) aan ongelykheid en armoede te koppel”.

Van vandag af sal egter ook gesien word of die tien weke blaaskans goed benut is om deur behoorlike kommunikasie die diepgewortelde persepsies aan te spreek. Op plaasvlak was daar tyd om plaaslike knelpunte aan te spreek indien dit finansieel haalbaar was.

In dié stadium lyk dit of die landbou oor die algemeen sy huis in orde het, maar intimidasie van buite en genoeg opsweping kan emosies laat opvlam, en ’n herhaling van laat verlede jaar se probleme kan nie uitgesluit word nie. Die elemente, soos werkloses buite die landbou, kan steeds baie ontwrigting veroorsaak deur onder meer hoofpaaie te versper.

Dit wat anderkant die wingerdgordyn geskied, staan egter nie in isolasie nie.

Suid-Afrika beklee die wêreld se topposisie wat inkomstegaping betref. Dat dit vanuit ‘n suiwer ekonomiese hoek beskou selfs voordelig  kan wees sou daar ‘n behoorlike vryemarkstelsel wees, word meer as geneutraliseer deur die feit dat daar reuse werkloosheid is, en dat die inkomstegaping steeds in ‘n groot mate langs rasselyne loop .

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid aan Tuks meen die landbou betaal hongerlone aan hul arbeid omdat dié sektor al lank afhanklik is van goedkoop arbeid. Die persepsies wat met dié soort inligting gevorm word, veral as dit buite konteks geskied, skep die potensiaal dat die probleme landswyd kan uitbrei.

Vanuit ander instansies en die georganiseerde landbou is daar weer ander perspektiewe. Suid-Afrika is ‘n marginale landbouland wat sonder subsidies met hoogs-gesubsideerde landboubedrywe elders in die wêreld moet kompeteer.

Suid-Afrika se hoogste reënvalgebiede se neerslag vergelyk min of meer met die wêreldgemiddeld. Terwyl sommige boere welaf is, is daar weekliks plase wat in die mark kom van boere wat dit nie maak nie. Boonop is boere aan plaasaanvale en plaasmoorde blootgestel, en ly jaarliks miljarde rande se verliese weens veediefstal, diefstal van gewasse, weidingdiefstal, die diefstal van implemente en gereedskap en  brandstigting.

Die landbou staan ook nie in isolasie nie. Talle gemeenskappe is afhanklik van die primêre en sekondêre landbousektor, en die uitgebreide landbousektor het ‘n groot aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie, naamlik sowat 14,5 persent. ‘n Ontwrigting hiervan sal elkeen in die land negatief raak.

Dit hou ongelukkig ook die potensiaal in dat stakings en arbeidsgeweld weer in die mynbousektor en ander sektore kan ontbrand.

Die toon van die jaar vir vrede of geweld kan vandag ingelui word. Die politici het reeds getoon dat hulle vanjaar nie met ‘n wag voor die mond gaan aanpak nie en blaam gaan verplaas, terwyl die renosterstropers ook reeds getoon het 2013 hou nie vir hulle ander weë in nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae