Nuuskommentaar: ANC nie die pad byster, maar op pad van noodwendige ideologiese lot

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die afgelope naweek het die ANC tydens ʼn herdenkingsgeleentheid van Chris Hani, voormalige leier van die SAKP, se dood weer voortgegaan met faksiegevegte.

Pres. Cyril Ramaphosa het oor Hani gesê dat hy die belange van mense asook die belange van die ANC bo sy eie gestel het. Hani was nie die soort leier wat deur swak selfdissipline en selfdienende optrede die beweging sou verdeel en die nasie polariseer nie. Verskeie ander sprekers het ook ʼn beroep op eenheid in die ANC gedoen.

Sodoende het dié geleentheid soortgelyk uitgespeel aan die gedenklesing van Charlotte Maxeke verlede week – albei geleenthede het uiteindelik in subtiele faksiegevegte ontaard. By albei geleenthede het Ramaphosa wesenlik Magashule en trawante teen vorige ANC-helde opgeweeg en telkens te lig bevind.

Ramaphosa impliseer in al sy onlangse toesprake dat die ANC die pad byster geraak het, vergeet het wie die party is, ANC-welstand en die land begin afskeep het. Dit alles verwysend na die stelselmatige korrupsie waarin die party verval het. Daarom moet die ANC gereinig word van diegene wat begin afwyk het van die ware en oorspronklike ANC.

Dit laat jou egter wonder oor hoe ver presies die ANC werklik van sy aanvanklike idees en aard afgewyk het om te wees waar hy nou is – indien hy enigsins afgewyk het. Is die korrupte, oorgrote, patronaatagtige en ondoeltreffende regering wat hy tans bedryf werklik ʼn fundamentele afwyking van die aanvanklike? Is dit nie dalk juis die noodwendige uiteinde van die aanvanklike ANC-beleid en -idees nie?

Die ANC het natuurlik meer korrup en ondoeltreffend geraak namate die tyd verloop het – dit is waarskynlik nie iets wat hy beplan het om te doen nie. Ramaphosa laat dit egter klink asof die ANC in sy huidige toestand is omdat die lede van koers afgewyk het, eerder as om daarby te hou. Tog het die ANC nog nooit werklik in beleidsrigting, ideologie of idees afgewyk van die aanvanklike ANC nie.

Lede het nog nooit hul fundamentele idees van die nasionale demokratiese rewolusie – wat insluit ʼn allesomvattende staatsdiens, kaderontplooiing en rasse-Marxisme – afgewyk nie. Wat definitief waar is, is dat die ANC se oogmerke en uitkomste al hoe verder van mekaar beweeg het. Hoe meer die party sy idees toegepas het, hoe verder het hy van die beoogde utopie beweeg.

Dit is waarskynlik ook waarna Ramaphosa verwys. Hy het nog nooit regtig in woord of daad radikale ANC-beleid verwerp nie. Dit waarvan hy nie hou nie, is eerder die noodwendige gevolge van hierdie selfde beleid wat hy steeds aanhang. Hy glo regtig dat daar net teruggekeer moet word na die aanvanklike ANC van Hani, Maxeke en Mandela. Wat hy egter nie verstaan nie, is dat dit presies daardie ANC se idees is wat die huidige ANC gevorm het.

Sodoende het die ANC nog nooit van sy ware aard afgewyk nie, maar in der waarheid eintlik net nader aan die gevolge van sy slegte idees beweeg.

Idees en beleid moet nie aan bedoelings beoordeel word nie, maar eerder aan uitkomste. Ongeag die goeie bedoelings wat dalk agter die ANC se aanvanklike aard, beleid en idees was, is dit die uiteindelik uitkomste wat saak maak.

Indien die uitkomste al hoe slegter raak hoe meer jy jou beleid toepas en hoe nader jy aan jou idees beweeg, hoe slegter is die idees waarskynlik om mee te begin. Indien die uitkomste al hoe beter raak hoe meer jy beleid toepas en hoe nader jy aan idees beweeg, hoe beter is die idees waarskynlik.

(Argieffoto)

Die ANC en Suid-Afrika is in dié slegte toestand omdat die ANC al hoe nader aan hul idees en ideale beweeg het, nie omdat lede daarvan afgewyk het nie. Almal maak natuurlik foute langs die pad. Ook is almal in die ANC nie inherent boos en kwaadwillig nie. Lede se idees is egter so sleg dat dit noodwendig, ongeag bedoelings of selfs toepassing, slegte uitkomste gaan hê. Hul idees van ʼn allesomvattende staat, kaderontplooiing en rasse-Marxisme sal elke keer ʼn korrupte, patronaatagtige, ondoeltreffende en uiteindelik verswakte staat tot gevolg hê.

Wanneer slegte idees slegte uitkomste oplewer, is dit gewoonlik omdat die idees fundamenteel sleg is – dit is meestal idees wat die werklikheid en die menslike toestand sleg verstaan, beskryf en daarom sleg voorspel. Wanneer goeie idees nie perfekte wêrelde oplewer nie, is dit nie omdat dit fundamenteel sleg is nie, maar eerder omdat die idees altyd in uitkomste beperk word deur die gebroke menslike toestand.

Net omdat utopieë onhaalbaar is, beteken dit egter nie dat alle idees ewe goed en/of ewe sleg is nie. Goeie idees verstaan, beskryf en voorspel die dieperliggende menslike toestand die beste – dit is waarom dit goeie, eerder as slegte, idees is. Dit is idees wat die beste van die mens uitlig, beloon en bevorder en die slegste van die mens sover moontlik probeer beperk of ten minste ontmoedig.

Dit is waarom dit so ongelooflik belangrik is om oor die idee-oorlog om te gee. Hoewel die politiek nogal uitputtend kan raak, is dit nie regtig meer opsioneel om daaroor om te gee nie – veral nie in Suid-Afrika en die huidige Westerse kultuuroorlog tussen links en regs nie. Dié stryd van waardes en idees staan direk aan die stuur van ʼn samelewing. Die kant wat wen, het wesenlike en verreikende gevolge vir die toekoms en welstand van ʼn land. Indien jy ʼn beter werklikheid wil sien, móét jy dus slegte idees met goeies teenstaan.

Die ANC gaan waarskynlik voortgaan op sy pad van slegte idees. Die party is vas oortuig dat sy idees reg is, maar dat die toepassing net ietwat skeefgeloop het. Dit is daarom elkeen van ons se plig om beter idees na die tafel te bring of ten minste diegene te ondersteun wat aktief in dié idee-oorlog betrokke is. Indien ons nie beter idees en oplossings na die tafel gaan bring as wat die ANC doen nie, gaan sy idees by verstek wen. Indien ons nie ook deur die party se slegte idees verswelg wil word nie, moet ons die moeite doen om beter alternatiewe te bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Genis ·

Kom ons wees eerlik CR, dis anders om iets te werk, as om n BEEE Direkteur, Chairmen, Board member, noem dit wees, en verryk word… Dis mos hoe jy jou geld gemaak het… Nie n dag se werk gedoen net, net Geld ontvang, ander het die taak verrig…

Pieter ·

Julle ANC was nog nooit op die regte pad nie julle is een groot sirkus dit is al

JohanR ·

Suid Afrika gee rerig nie meer om nie. As julle oornag verdwyn sal ons net voortgaan en aangaan!

SomeOne ·

ek kan net lag vir die party, geen benul wat in hul geledere aangaan nie, almal ewe blind vir hul eie streke

Jakes ·

Die kommentaar is baie goed uiteengesit en dit is n feit dat n koninkryk of n ideologie wat verdeeld is nie volhoubaar kan voortbestaan nie.

Kokerboom ·

Mens kan ideologies so lieg vir jouself dat jy jouself begin glo.

Pieter ·

Die ANC het nooit Apartheid wesenlik wil beveg nie. Dit klink humanisties beter. Hulle pas self Apartheid toe. Hul eintlike doel is om Suid Afrika te plunder dit is immers ‘n ryk hulpbronland. Pres. Kruger het immers vir Lord Milner gese: Dit gaan nie oor stemreg nie, julle wil my land he. Verwysende na die ryk goudvoorkomste rond Pelgrimsrus, Barberton en die Witwatersrand asook diamante in Wes Transvaal. Die geskiedenis herhaal sigself met waarskynlik dieselfde rolspelers as in Pres. Kruger se tyd. Dit is my pond vleis.

Adam Adriaan ·

The folks who are getting free stuff, don’t like the folks who are paying for the free stuff, because the folks who are paying for the free stuff, can no longer afford to pay for both the free stuff and their own stuff. And, the folks who are paying for the free stuff, want the free stuff to stop. And the folks who are getting the free stuff, want even MORE free stuff on top of the free stuff they’re already getting!
Now, the people who are forcing the people who PAY for the free stuff, have told the people who are RECEIVING the free stuff, that the people who are PAYING for the free stuff, are being mean, prejudiced, and racist. So, the people who are GETTING the free stuff, have been convinced they need to HATE the people who are PAYING for the free stuff by the people who are forcing the people who are PAYING for the free stuff and GIVING them the free stuff in the first place.

gatgogga ·

Miskien is dit Ramaphosa wat van die ANC se beleidsrigting afwyk.
Hoe dit ookal sy, Ramaphosa se nalatingskap sal die volgende insluit:
1 Hy het die ANC laat verbrokkel.
2 Hy het rassisme weer aangewakker.
3 Hy het ons ekonomie verwoes.

Pikkie ·

Ag asb. man ”DIE ANC REGERING SE MISSIE VAN DIE BEGIN TOE HULLE DIE PARLIAMENT BETREE!! EN HULLE SIEN HOEVEEL GELD DAAR REGTIG IN DIE ”STAATSKAS IS” HET HULLE DAT AS HULLE, HULLE SELF NOU GAAN HELP NIE EN DAAI KANS VERBY VERBY LAAT GAAN !! HULLE NOOIT WEER SO N’KANS KRY NIE!! EN SO-DOENDE HULLE SELF VERGRYP AAN DIE SELF VERRYKING EN KORRUPTE DIENS EN KWOTASIES WAT GELAAI WORD. CHEERS.

gehasie ·

Die feit dat hy daarna verwys spreek boekdele! “The man doth protest too much” ….

Nie Verbaas ·

ANC kan nie meer omgedraai word van korrupsie nie meneer CR. Die meerderheid is verrot en loop nog steeds vry. Lee woorde CR.

Ria ·

Vir hoe lank herdenk mens die dood van iemand. Ons het belangriker sake om aan aandag te gee

Carina ·

Ek dink ook dat as, onderliggend aan jou idees, iets soos ’n spies in ’n aggressiewe houding, asook ’n leuse wat dieselfde uitbeeld, deel van jou denkraamwerk is, jy nooit by dieselfde vlak van idees sal uitkom as wanneer jy tot in jou murg opbouend dink nie.

Regverdigheid ·

Lagwekend regte pad seker hel toe ja, groot sirkus ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.