Nuuskommentaar: ANC se utopiese denke sy achilleshiel

Foto: Hush Naidoo/Unsplash

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het Donderdag ʼn omvattende kosteverslag oor die regering se beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bekendgestel. Dié verslag het ontstaan uit ʼn wesenlike leemte wat tot dusver in dié opsig bestaan het. (Die regering self het nooit die moeite gedoen om te gaan kyk of hulle dit sal kan bekostig nie – wat nog van of dit werklik die gewenste uitwerking in gesondheidsorg sal hê.)

Solidariteit bevind in sy verslag dat die inwerkingstelling van die NGV ʼn begrotingstekort van minstens R112 miljard tot gevolg sal hê. Dít wesende ʼn konserwatiewe beraming. Die tekort is meer as die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jaarlikse begroting. Dit is ook genoeg om vir elke liewe mens in ʼn vol Loftus Versveld meer as R2 miljoen te gee.

Die gevolgtrekking van die verslag is dan nou uiteraard dat Suid-Afrika hoegenaamd nie die inwerkingstelling van die NGV kan bekostig nie. Dit is veral in die lig daarvan dat Suid-Afrika reeds ʼn begrotingstekort van 14% het. Tog was en is niemand eintlik werklik verbaas oor die feit dat die ANC hiermee voortploeter nie – selfs al staan ʼn mens verdwaas oor die besluit.

Thomas Sowell, Amerikaanse politieke kommentator, beskryf in sy boek A Conflict of Visions dit wat hy beskou as die twee teenstrydige lewensuitkykvorme wat mense oor die algemeen het – veral wanneer dit kom by die politiek. Hy probeer verklaar waarom dieselfde mense geneig is om politieke teenstanders te wees – wanneer twee mense oor een bepaalde kwessie aan verskillende kante van die politieke spektrum is, sal hulle byna vir seker oor ander kwessies ook verskil.

In die boek benoem hy die twee teenstrydige lewensuitkyke die utopiese (unconstrained) en die tragiese (constrained) uitkykvorme.

Eersgenoemde is vas oortuig daarvan dat die mens inherent goed en edel is. Aanhangers hiervan glo ook dat daar ideale oplossings vir alles is wat perfek ingestel kan word. Indien daar skade in die proses aangerig word, is dit net klein pryse wat betaal moet word op die pad na utopie. Die mens is uiteindelik moreel vervolmaakbaar. Hierdie lewensuitkyk maak juis nie voorsiening vir die gebrokenheid van die mens nie, maar probeer eerder om dit met ongenaakbare prosesse en reëls uit die mens te werk.

Hierdie lewensuitkyk onderskep alle politieke oortuigings wat utopies is – waaronder Marxisme in al sy vorme waarskynlik die mees prominente.

Die sogenaamde tragiese (constrained) visie of uitkyk is presies in teenstelling hiermee. Aanhangers hiervan meen weer dat daar geen perfekte, utopiese en ideale oplossing vir enige probleem is nie – juis omdat die mens nie vervolmaakbaar en moreel standaardiseerbaar is nie. Hierdie uitkyk hou eerder voor dat sistematiese prosesse van oppergesag van die reg en die ervaring van tradisie voorop moet staan. Strukture, idees en gebruike wat die toets van die tyd oorleef het en as suksesse in die praktyk bewys is, moet eerder bevorder word.

Hierdie lewensuitkyk word veral gedeel deur mense wat meer in die konserwatiewe tradisie verkeer.

Sowell probeer hiermee juis toon dat politieke oortuigings en standpunte keer op keer uit hierdie fundamentele lewensuitkyk vloei. Dit is waarom diegene wat gratis nasionale gesondheidsorg voorstaan, waarskynlik ook ʼn samelewing voorstaan waar almal presiese gelykheid van uitkomste bereik.

Dit verduidelik ook waarom die ANC ondanks alle beskikbare bewyse steeds wil voortgaan met iets soos die NGV. Hierdie soort beleid is iets wat baie meer met die utopiese visie as met die tragiese visie strook. Dit verduidelik ook waarom die ANC steeds presies dieselfde beleid aanhang as wat Suid-Afrika se huidige probleme in die eerste plek veroorsaak het.

Die ANC as party is daarom die absolute perfekte vergestalting en voorbeeld van dit wat Sowell beskryf – die lewensuitkyk wat jy huldig, is die fondamente waaruit die besluite wat jy neem, vloei. Dit is waarom die ANC steeds beleidsbesluite neem wat lyk asof dit hoegenaamd nie in die werklikheid gegrond is nie – dit is nie, maar hoef ook nie noodwendig te wees nie. Die lewensvatbaarheid van die beleid is nie naastenby so belangrik soos die utopiese bedoelings daarvan nie. Die bedoelings agter die NGV is ook nog vreeslik edel – al wat die ANC wil doen, is om die gehalte en toegang van gesondheidsorg vir arm mense te verbeter.

Diegene met die sogenaamde tragiese uitkyk word ook herhaaldelik met presies hierdie morele stok geslaan – omdat hulle nie die ANC se utopiese beleid voorstaan nie, gee hulle vanselfsprekend nie om vir arm mense nie. Die kritiek uit konserwatiewe kringe handel egter nie met die bedoelings nie, maar met die uitkomste en lewensvatbaarheid van die beleid.

(Argieffoto)

Die ANC leef die stelling wat lui “Dit was nie ware kommunisme nie”. Hulle is regtig daarop uit om die gebrokenheid van die werklikheid en die mensdom reg te reguleer. Die moontlike skade wat in die proses verrig word – soos wat die Sowjetunie ook gewys het – is ʼn klein prys om te betaal in die najaag van dié utopie.

Die oomblik dat ʼn mens dit besef, word jy tot groot mate bevry van die ANC en die hoop wat sy visie en droom dalk eens op ʼn tyd voorgestel het. Dit bevestig dat die ANC nie sommer sal verander nie, juis vanweë sy lewensuitkyk. Die lede is onrehabiliteerbare utopiste.

Die oomblik dat ʼn mense vrede maak hiermee, verander die mooi beloftes wat die ANC voorhou skielik in desperate onhaalbare drome. Dit is juis diegene wat nog in die beloftes gló wat daardeur teleurgestel word. Diegene wat dit as onhaalbare drome beskou, het nooit hulle hoop en lot in die eerste plek daaraan gekoppel nie. Dit is waarom ʼn bevryding van ANC-beloftes en -idees in der waarheid ʼn instaatstelling en vrymaking is.

Die oomblik dat die ANC se idees gedefinieer word as die lugkastele wat dit is, kan gewone mense die nodige grondvlakwerklikhede opbou waarna hulle op soek is. Die mislukking van die sogenaamde utopiese visie moet nie beskou word as ʼn verlies nie, maar eerder ʼn geleentheid vir ʼn ander siening van die wêreld om die leemtes te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Die kaders moet skep!

Willem

Hulle dink aan niks anders as hul eie sakke

Hennie J

NUUSBERIG : Die kaders van luthulihuis (dis nou die wat nie oor ete dut nie) neem met kommer kennis van n ongegronde,bevooroordeelde,rassistiese,skeefgetrekte verslag van die solidariteitsbeweging oor die haalbaarheid van die NGV . Die kaders wys daarop dat die verslag saamgestel is deur duistere magte wat niks weet van ekonomiese beginsels of plundering voordele nie en wat nie n idee het van affirmative shopping nie. Hierdie verslag word met minagting op dieselfde graad as ace en carl (outhouse) verwerp.

Filistyn

Pie in the sky. Totaal onrealistiese konsep. Kan nie werk nie.

Eragrostis

Dis ń uitstekende artikel, MM. Wat die ANC se uitkyk vererger, is eerstens dat die ANC nie uit hul foute kan leer nie, en tweedens dat hulle nie oor die nodige wiskundige vaardigheid beskik om basiese hoofrekene te doen nie, soos hier uitgewys. Dankie vir organisasies, soos Solidariteit, met visie en insig.