Nuuskommentaar: ‘As ons almal sinies is, is ons verlore’

Claudia de Breij. Foto: Facebook

Hoe moet ons onsself toerus om ’n positiewe bydrae tot 2019 te maak? Die bekende Nederlandse kabaretster Claudia de Breij meen ’n mens moenie sinies wees nie, en met liefde en lig die lewe ingaan. Die nuuskommentaarskrywer, Herman Toerien, meen die waarheid moet bygevoeg word, en naïwiteit moet die plek van sinisme inneem.

 Is ons ewige optimiste, of is ons pessimisties of ‘net’ sinies?

Word die oorgrote deel van leserskommentare onderaan berigte, rubrieke en artikels in die kuberruim gelees, lyk dit of die optimiste in Suid-Afrika dun gesaai is. En is iemand optimisties, dikwels danksy sy / haar belewenis van sy / haar Christelike geloof, kap die ander kant en beskou die optimis as naïef. Ja, die naïewes is daar, soos diegene wat amper met trots verkondig hulle lees nie meer koerant nie, en hulle luister of kyk nie meer die nuus nie omdat daar soveel slegte nuus is en hulle negatief stem. Met volstruispolitiek sit hulle dan gereeld met ’n bek vol tande in geselskappe, of slaan hul naam met ’n plank deur heeltemal onbewus te wees van wat in die openbare diskoers groot nuus is.

So is die ou fopnuus-SMS oor die reuse aardbewing wat op Kersnag sou toeslaan, en dat mense dié nag hul elektriese en elektroniese toerusting ver van hulle moet hou om die allerverskriklike bestraling te voorkom, weer uitgestuur asof die nuwe “nuus” is. Net ’n klein bietjie blootstelling aan algemene kennis en die hoofstroom-nuus sou dié self-bolliemakery voorkom het.

Die opmerking, “As ons almal sinies word, is ons verlore” kom van die Nederlandse kabaretster Claudia de Breij. Die koerant Trouw het met haar ’n onderhoud gevoer oor ’n gedig wat sy geskryf het (onderaan die rubriek).

Die beste kabaretsterre is gewoonlik baie goed ingelig. Hulle laat die gehoor aan hul lippe hang deur skerp ontledend na die werklikheid wat mense pla, te kyk dat die gehoor in wese lag vir die swaarmoedige wyse waarop hulle die werklikheid self beoordeel het. (Met die woord kabaret word hier na die tweede kunsvorm wat dit aangeneem het verwys, naamlik die lewering van sosio-politieke kommentaar, en nie die danspassies van skamel-geklede danseresse nie.)  De Breij word as komediant, sanger en radio-aanbieder beskryf, en het ook reeds die Poelifinario-prys vir beste komediant verower. In ’n ander brondokument word sy as skrywer en aktrise beskryf.

De Breij verwys self in die onderhoud daarna dat sy dikwels as naïef beskou word, maar sy beskou haarself as verby daardie punt – die teenoorgestelde is waar. Sy meen die geskiedenis is nie iets wat die mens oorkom nie, maar iets wat mense doen. Sy oordeel dat ons in gevaarlike tye leef.

Haar uitkyk is een van liefde en lig, en daarom vind sy soveel waarde in die Kersverhaal en sy simbole. “Want het maakt me niet uit vanuit welke gedachtengang je beschaafd en liefdevol de wereld in gaat, als het maar beschaafd en liefdevol is. Dat is wat ik in dat gedicht heb geprobeerd te vangen.” (Uit die konteks lyk dit of sy meen dit maak nie saak of iemand Christen-gelowig is of nie, solank hy of sy die lewe beskaafd en liefdevol ingaan.)

In die nagloed van Kersfees en kort voor die aanbreek van die nuwe jaar, is dit heel gepas dat besin word oor wat dit gaan kos om ’n bydrae tot ’n beter land te maak.

Sal De Breij na ’n besoek aan Suid-Afrika steeds voel dat om nie sinies te wees nie, en met liefde en lig deur die lewe te reis, genoeg is? In alle billikheid, Google bring aan die lig dat sy al heelwat blootstelling aan Suid-Afrika gehad het, en onder meer by geleentheid 4 000 euro’s ten bate van kinders in Suid-Afrika ingesamel het.

Om nie sinies te wees nie, en met lig en liefde die lewe aan te pak is uitstekend, maar is die ontbrekende woord in haar voorbehoud vir ’n positiewe bydrae nie “waarheid” nie? Die Bybel stel dit immers dat die waarheid iemand vrymaak – Johannes 8: 32. (Die waarheid hier, verwys na die waarheid van God.)

Waar sou Suid-Afrika nou gewees het as ondersoekende joernaliste en skrywers soos Jacques Pauw nie die waarheid oor staatskaping en korrupsie aan die groot klok gehang het nie?

Is dit nie nodig dat Suid-Afrikaners die waarheid ken oor die ekonomiese rampspoedige gevolge van grondgryp sonder vergoeding nie? Is die eufemistiese verwysing na grondhervorming nie ’n wanvoorstelling van die waarheid nie? Is die stiksienige miskyk van die rol van die owerheid en korrupsie om grondhervormingsplanne tot dusver te laat misluk nie die verkragting van die waarheid nie?

Gaan die waarheid nie helderder skyn as die waarheid help om te keer dat die duisternis dit oorweldig nie?

Is daar iets soos gesonde sinisme? Soos om sinies te wees oor bekpraatjies van veral sekere politici? Soos wanneer sinisme iemand dryf om die waarheid oop te vlek?

Is naïwiteit nie ’n groter probleem as ’n gesonde skoot sinisme nie?

Kan ons dan sê ons kan ’n positiewe bydrae tot die land lewer deur idealisties te wees, en met objektiewe inligting en die waarheid die toekoms in te gaan om die lig en die liefde te laat gedy?

Môre verskyn die laaste gewone nuuskommentaar van die jaar. Van Vrydag tot Maandag, Oujaarsdag, volg dan ’n jaaroorsig wat in vier daaglikse rubrieke saamgevat word.

Liefde (’n Kersgedig)

In mijn kamer staat een blauwspar stilletjes te sterven
dankzij een paar Germanen met een oeroud ritueel
dat zo goed aansloeg dat de kerk de pret niet wou bederven
en de zonnewende niet verbood, maar meenam in ’t geheel. . .

In mijn kamer zingt een zanger over een White Christmas
In Rusland stond de wieg van dit Amerikaans refrein
want Israel Beilin kwam uit Siberië en wist dus
hoe koud de winters van een joodse jongen kunnen zijn

Hij vertrok vol hoop met een boot naar een beter leven
en als Amerikaan heeft die Irving Berlin verwoord
wat ieder mens bij de gourmet met tantes, vaders, neven
naast All I want for christmas toch het liefste hoort

In mijn kamer staat een stal met een plastic kindje
Hij straalt en ik aanbid hem met zijn lachende gezicht
omdat hij mij laat zien: het maakt niet uit. Al vind je
dit alles onzin –

Het gaat altijd over liefde. Het gaat altijd over licht.

– Claudia de Breij

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae