Nuuskommentaar: Baie joernaliste sterf sodat dat ons kan weet

Argieffoto

Argieffoto

Terwyl baie van ons regmaak om vanaand om ’n pak geskenke as gesinne en as nabye familielede bymekaar te kom, en môre die Kersdiens by te woon, en daarna die kalkoen vir middagete te neem, is daar ook baie wat nié in hierdie voorreg kan deel nie. Mense in die veiligheidsdienste, in sleutelposte, of mense wat vereensaam het, het nie die voorreg nie.

Sekere beroepe word hard geslaan. Onder die wêreld se nuusverslaggewers is ’n besonder hoë prys betaal. Volgens die jongste syfers van Verslaggewers Sonder Grense is 66 joernaliste vanjaar reeds vermoor. Dit beteken 720 joernaliste is die afgelope tien jaar vermoor.

Wêreldwyd is vanjaar 119 verslaggewers ontvoer, waarvan 40 steeds as gyselaars aangehou word. Dit is 35% meer as verlede jaar. Altesaam 178 joernaliste het vanjaar in die uitvoering van hul werk agter tralies beland.

Nie almal wat ontvoer of vermoor is, was op avontuurlustige sendings na gevaarlike lande nie. In ’n stadium was dit gevaarlik om bloot ’n joernalis in Meksiko te wees, veral as die blinde oog nie op die dwelmkartelle se sake gewerp is nie.

Oor die algemeen volg die moorde en die ontvoerings die verslaggewers na lande waar konflik heers; lande soos Sirië, Irak en Libië, terwyl die aanhoudings veral plaasvind in lande soos China, Eritrea en Iran – lande wat nie weet hoe om persvryheid te spel nie, en dikwels ook maar stief met demokratiese toegewings is.

Hoewel joernaliste in Suid-Afrika in die onlangse verlede al onaangename ondervindings – ook kortliks agter tralies – beleef het, lyk die prentjie in die geheel eintlik heel goed. Op die oog af.

Van die land se voorste verslaggewers kan nie werk as joernaliste kry nie, bloot omdat hul senioriteit (vermoedelik) ’n te groot aanspraak op fondse gaan hê. Die nuwe generasie bloedjong hoofredaksielede is ook nie lus dat ander redaksielede dalk uit hul wye ervaring met hul werkwyse kan foutvind en dalk nog kan reg wees ook nie.

Velkleur speel ook ʼn belangrike rol. Die dae is lank verby dat die enkele bruin verslaggewer wat bekom is om die “Ekstra” se berigte te skryf, in ʼn klein vertrekkie agter die biblioteek moes nesskop – ver van die res van die redaksie.

Kortom, die politiek-getinte instruksies waaronder verslaggewers in eie geledere onder druk geplaas word, het in Suid-Afrika dikwels ’n groter impak om die land se posisie op die persvryheidsindeks, as wat die owerhede of misdadigers het. Verslaggewers Sonder Grense is byvoorbeeld baie gesteld daarop dat die media die land se politieke diversiteit (as klankbord vir gesonde demokrasie) moet weergee – iets wat bitter selde gebeur. Trouens, die redakteur van ’n groot koerant het in ’n radioprogram gesê hy stel eenvoudig nie belang wat die klein partye te sê het nie. Dit druis regstreeks teen die basiese grondslae van demokrasie in, en laat die rooi ligte by VSG afgaan. VSG span jaarliks sy net wyd en intensief om die stand van persvryheid te meet, en die vraelyste wat medewerkers moet invul is baie lywig.

Maar is die owerheid sodanig onskuldig dat Suid-Afrika nie watwonders op die persvryheidsindeks vaar nie? Verskeie Afrikalande is immers nou al jare meer persvry as Suid-Afrika. Die ANC het die sogenaamde snoerwet deurgestoomroller en dit wag nou vir pres. Jacob Zuma se ondertekening. Die volharding hiervan het waarskynlik meer as enigiets anders, soos die dreigemente van advertensies slegs vir positiewe nuus oor die regering, ʼn moontlike mediatribunaal, Julius Malema se optrede teen ’n BBC-joernalis en die Guptas se mediatoetrede, die land se posisie op die indeks geskaad.

’n Vrye media is al dikwels as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie beskryf.

As u die nuus lees, luister of kyk, neem in ag dat ’n deel daarvan onder baie gevaarlike omstandighede bekom is. Dink vir ʼn oomblik aan hulle wat hiervoor nooit weer Kersfees saam met hul gesinne sal kan vier nie, en aan hulle wat die Kersfees as aangehoudenes of gyselaars gaan deurbring.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae