Nuuskommentaar: Beteken ’n regstaat hofsaak op hofsaak of is ons net ’n grondwetlike demokrasie?

hof-hamer

Argieffoto

Met al die berigte oor bekendes, van oudpres. Jacob Zuma tot Springbok Eben Etzebeth wat in die howe boer of weg probeer bly, laat dit ’n mens wonder of die begrippe regstaat en grondwetlike demokrasie nie inhou dat boer in die howe ’n lewenswyse gaan word nie.

Dit klink nou na die era van die howe. Oudpres. Jacob Zuma sit sy veldtog voor om deur die inspan van die howe nie by sy dag in die hof te kom nie, pogings word aangewend om die Guptas terug te bring om in die howe verantwoording te doen, Eben Etzebeth wil die Menseregtekommissie hof toe sleep … Dit lyk of die oumense se wysheid dat die hof ’n gawe plek is om te makeer, vergete is.

Maar impliseer die terme regstaat en grondwetlike demokrasie nie dat die howe en die inspan van regsgeleerdes nie vanselfsprekend is nie? Moet ons dan nie almal ’n vorm van regsopleiding hê om ons in staat te stel om in ’n regstaat te kan funksioneer nie, en vereis ’n grondwetlike demokrasie nie dat almal hul regte soos regsgeleerdes moet ken om veilig te wees nie?

Dit klink soms asof sekere mediese spesialisrigtings behoort te vereis dat die spesialis behalwe sy mediese opleiding ook oor ’n LLB moet beskik om nie kaal uitgetrek te word nie.

In die oorgangsgrondwet is Suid-Afrika as regstaat en as grondwetlike demokrasie beskryf, maar in die finale Grondwet is regstaat uitgehaal. Maar is daar dan ’n verskil tussen die twee terme? In die praktyk maak dit nie saak nie, tensy daar waarheid in sou steek dat dit doelbewus gedoen is om ’n leemte te skep om vorentoe iewers ’n beplande aanslag aan te wend om die Grondwet te verkrag.

Dié vraag oor die onderskeid is op 16 Januarie vanjaar op Maroela Media breedvoerig in ’n nuuskommentaar onder die loep geneem. Ja, daar is inderdaad formeel ’n verskil, maar vir alle praktiese doeleindes kan dit as sinonieme beskou word. Dit lyk of die grondwetlike demokrasie die aksent laat val op die bestaan van ’n grondwet wat die regering in geheel bepaal en beperk en die regstaat die klem op die regering se gebondenheid aan die grondwet bepaal.

Wat laasgenoemde geval betref, was oudpres. Jacob Zuma ’n uitsonderlike swak voorbeeld. Hy was, volgens sy eie uitsprake, selfs onbewus van die verskil tussen die begrippe “demokrasie” (regeer in algemene belang) en die diktatuur van die meerderheid (regeer in die belang van die meerderheid), wat insluit om die kaders met staatsposte vir hul dienste en lojaliteit te beloon.

Die pikante aspek is dat Zuma steeds sy regskoste laat oploop, selfs nadat die hof besluit het dit is onwettig dat die staat vir sy regskoste moet instaan in sake waar Zuma se beweerde en bewese misstappe niks te make gehad het met sake wat nie met ampsuitvoering in verband staan nie.

Dit blyk dat Zuma nog nie ’n sent van hierdie uitstaande regskoste betaal het nie. Maar Zuma wend hom nie net tot die howe om klarigheid oor sake te kry wat sy ampsuitoefening raak nie. Die gebruik van die howe hiervoor is inbegrepe omdat die finale Grondwet, anders as die oorgangsgrondwet, ’n tipe regsraamwerk is waar minder aandag aan die fynskrif gegee word, en meer aandag aan regsbeginsels. Die detail word dan grootliks deur hofuitsprake “ingekleur” deur die presedentereg uit te bou. Dit is ideaal vir ’n ontwikkelde land om so natuurlike regverdigheid oor die hele juridiese landskap te vestig.

In lande waar dit nog nie so mooi ontwikkel is nie, is dit ’n proses van vele slaggate, veral as die uitvoerende gesag se regsbegrip nie verder as ’n wettiese vertolking strek nie.

In ’n regstaat is die audi altaram partem-beginsel vanselfsprekend. Dit is die reg vir al die partye om gehoor te word. Dit het onder meer deur die sogenaamde Traub-appèlhofsaak in ons regspraak beslag gekry. Dit maak ook een van die belangrike hoekstene van die Springbokslot Eben Etzebeth se voorgenome saak teen die Menseregtekommissie uit. Solidariteit doen ook aansoek om as vriend tot die hof tot die saak toe te tree.

Heel moontlik sal die saak nog ’n regspresedent vir sake van hierdie aard toets, naamlik die Konstitusionele Hof se meerderheidsuitspraak in die saak van City Council of Pretoria vs Waker and Others. Mag iemand en selfs die staat die grondwetlike bepaling van gelykheid voor die reg so vertolk dat iemand se ras die graad van gelykheid in sy status bepaal? Die voorsitter van die MRK het dit byvoorbeeld baie duidelik gemaak dat Etzebeth weens sy witheid anders as swart beskuldigdes hanteer word weens die verskille in hantering wat wit, swart en Indiër onder apartheid ervaar het. Die Walkersaak het egter met ’n meerderheidsuitspraak onder meer weggedoen met die destydse praktyk om wit mense gemeterde tariewe te laat betaal, en swart mense sogenaamde “flat rates”.

Gedagte vir die dag:

1 Timoteus 2:1-2: Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jerry ·

Ons is reeds in die era van boer in die howe en die rede daarvoor is nie die gronwetlike demokrasie nie, die rede is n “failed state”. Wanneer die howe nie meer onafhanklik van die ANC regering en staat staan nie (hulle is reeds ideologies sterk oppad daarheen) dan sal die einde van die era vir boer (en die boer) in die howe aanbreek, omrede uitsprake die “failed state” ten gunste sal wees al is SA steeds n grondwetlike demokrasie waar dit die wil en ideologie van die meerderheid is, wat sal geld!

Vaalseun ·

Herman, soos jy gister uitgewys het, is “die waarheid” nie noodwendig geliefd nie. En dit geld nie net vir politici nie. Ook in sport (verbasing?), besigheid, finansiële dienste, die staatsdiens, onderwys en akademie, ens. voer “die waarheid” maar dikwels ‘n eensame en opdraande stryd.

Begrippe soos “regstaat” en “grondwetlike demokrasie” bring ‘n flikkering van hoop dat besluite geneem en uitgevoer sal word volgens ooreengekome riglyne en verwagte etiese beginsels. En dan wanneer die hoop beskaam, is dit onder andere die rol van die regstelsel om “die waarheid” vas te stel.

Dikwels kom “die waarheid” vanself te voorskyn. En wag ons almal (soms vergeefs) dat die regstelsel die skuldiges/oortreders tot verantwoording bring en reg laat geskied.

Ongelukkig word die regstelsel self beman/bevrou deur persone met varieërende vermoëns, insigte en lojaliteite. So, ontwyking en manipulasie om vervolging te ontduik is ‘n gegewe.

Sukses dat reg altyd sal geskied is derhalwe nie gewaarborg nie. Dis waarom demokrasie sy rol en verantwoordelikheid as die draer van vryheid van spraak, kritiek en opposisie moet vervul. Dit kan sien en hoor waar die hof nie kan sien en hoor nie. Die media se rol hierin is onmisbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.