Nuuskommentaar: Boere stel visiere in op grondgryp sonder vergoeding

(Argieffoto: Meerfout Films)

Die regering en vennote bly die “reset”-knoppie druk om reeds bewese leuens af te stof en as die waarheid op te dis – die boere word steeds as kwaadwillig voorgehou en ’n narratief gevoed wat van die land se landbouers die varke in die verhaal maak. In skerp teenstelling met die mikpunt om elke krieseltjie van die rugby-euforie tot die been te benut, stuur die proses om die Grondwet te wysig wat grondonteiening sonder vergoeding sal wettig, af op ’n presedent van polarisering sonder gelyke.

Die duidelikste boodskap kom van TLU SA wat met ’n fonds begin het om die kwessie hof toe te sleep. Dit, en gemeenskapsdruk, is al wat die ANC nog tot ander insigte kan dwing, aldus die president van TLU SA, Louis Meintjes.

“TLU SA maak gereed om grondeienaars by te staan in sake rakende onteiening sonder vergoeding. Dit volg ná vandag se samesprekings met die ad hoc-komitee wat deur die parlement aangestel is om voorstelle in te dien oor hoe artikel 25 van die Grondwet – wat handel oor onteiening sonder vergoeding – aangepas moet word.

“Dit is duidelik dat die komitee se fokus uitsluitlik is hóé die wet gewysig moet word, en nie wat die gevolge van die wysigings sal wees nie. Enige insette van belanghebbende rolspelers wat landbouers verteenwoordig, is telkens eenvoudig afgemaak as irrelevant.”

Louis Meintjes, president van TLU SA. (Foto: Reint Dykema)

Agri SA het self met die vuiste van werklikheidskwessies ingespring. Die bekende Annelize Crosby het dit duidelik gemaak: Agri SA se enigste mandaat was om die wysiging van artikel 25 van die Grondwet te verwerp.

TLU SA én Agri SA het na onder meer die rol van korrupsie verwys as grondoorsaak van hoekom grondhervorming tot dusver misluk het. Crosby het dit so gestel: “Die mislukking van grondhervorming het te make met mislukte inwerkingstelling, korrupsie, ’n gebrek aan politieke wil en onvoldoende finansiering.”

Meintjes het dit op sy beurt so bewoord: “Die enigste saak van belang is dat grond onteien moet word ondanks meervuldige voorbeelde van hoe dit weens korrupsie, onkunde en gierigheid misluk het. Dit is nie tot die voordeel van Suid-Afrika nie.”

Joernaliste wat landbousake volg sedert die totstandkoming van die departement van grondsake, se ore het die afgelope twee dekades gereeld getuit oor hoe getuienis oor korrupsie aan die kant van amptenare positiewe uitreiking van landbou-organisasies keer op keer in die wiele gery het. Dieselfde verhale, met enkele variasies, is op elke vlak, van boerevereniging tot studiegroep, tot spesialisverenigings tot provinsiale en nasionale vlak gehoor.

Hoewel die regering deurgaans opsigtelik toondoof hiervoor was, en eerder die skuld op die boere gepak het – steeds die fokuspunt van dié narratief – het die waarheid ook nie die politici ontgaan nie. Tydens ’n sogenaamde drie-in-een-beraad in Bloemfontein het die destydse adjunkminister van landbou en grondsake, Dirk du Toit, dit selfs teenoor die boere erken, en omdat dit vir hom moeilik sou wees om aan te raak, gevra dat die boere saamstaan en gesamentlik sou versoek dat sy departement ’n klagtedirektoraat moet instel. Hy self kon eenvoudig nie byhou met al die klagtes oor korrupsie nie. Dit was duidelik hy wou dit vertroulik hou. Toe hy ’n rukkie later die TV-kameras buite aandurf, het hy weer ’n heel ander deuntjie gesing.

Die waarheid het egter nie binne die narratief gepas nie, terwyl slawe van politieke korrektheid die waarheid ook verswyg het. Nasionale berade oor grondhervorming is skaamteloos aangebied as “moker die boere”-geleenthede en het min verskil van nasionale berade waar die amptelike tema dit duidelik gemaak het dis nog ’n geleentheid waar die boere met mening bygedam moet word.

En uiteenlopende narratiewe was nie altyd die rede vir die uitlooi van die boere nie. Verskeie kere is die aanklaers en slae-uitdelers vir blatante liegstories uitgevang. Seker die bekendste was destydse min. Lulu Xingwana se opsweping op Kerkplein waarin boere van gereelde aanranding en verkragting van werkers beskuldig is. Dit het geblyk dat dit gegrond was op ’n enkele geval, waar die klaagster tot bekering gekom het, die boer om verskoning gevra het en erken het sy het die storie opgemaak.

Die saak is ook deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek, en die uitslag net aan ANC-lede van die Wes-Kaapse parlement versprei, maar het op die lappe gekom toe ’n lid van die DA per ongeluk ook ’n kopie ontvang het. (Lees hier.) In hierdie nuuskommentaar van Maroela Media in 2014, “Plase die slagveld van die waarheid en leuen”, is die skynbaar regeringsgesanksioneerde “boere-bashing” wydlopend aan die hand van skokkende voorbeelde bespreek. As die geskiedenis hiervan na vandag deurgetrek word, het min verander en is die “reset”-knoppie eerder gereeld gedruk.

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Met die jongste verwikkelinge het TLU SA en Agri SA uitgewys dat die ad hoc-komitee van die regering oor grondonteiening nié die nodige aandag geskenk het aan die skade wat dit aan die ekonomie, die land se gradering en buitelandse beeld aangerig het nie.

Dit laat onwillekeurig die vraag: Hoe suksesvol kon pres. Cyril Ramaphosa se beleggingskonferensie nie dalk gewees het nie, was dit nie vir die voortslepende grondgryp-kwessie nie? Die rugby-euforie is wel ’n welkome toevalligheid wat sekerlik baie voornemende beleggers sou aanspoor, maar dit kon soveel beter gewees het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hoe nou dan?? ·

‘n Week terug het die einste boere die anc kwota bok span ondersteun. Nou dat dieselfde anc grond in hulle visier het word daar hard planne gemaak. Dis dieselfde system. Hou op kla en aanvaar die verandering of staan op waarin jy glo.

daniel ·

Ek dink die onteining van grond SONDER vergoeding is bloot n manier om die korrupsie monster te voed aangesien ander geleenthede opgedroog het weens die land se amper bankrotskap.
Die insluiting van verbeterings in die maligheid dui daarop dat die hele proses net blote poging van diefstal is.

chris ·

Ons beweeg op n tydstip in ons land se geskiedenis dat as daar van die politisie nie duidelike leiding kom tov strukturele verandering nie ons oor die afgrond gaan beweeg Die regering sal baie ernstige aandag moet gee aan die waarskuwing van die burgerlike organisasies en akademisie se waarskuwings oor die gevolge van grondvergryp en onteining die tyd loop uit

Petrus ·

Ons is klaar oor die afgrond. Ryk boere drink nou wyn en bier saam met die ANC en vergeet van die wat swaar trek. Gewone boere is in vir onnugtering.

Gaitsigubib ·

Petrus jy is so 90% in die kol. Ek se dis die ryk boer, ANC/ Agri SA meelopers, wat sit en kuier saam met die anc, wat in is vir n verrassing. Hulle verwag hul kruipery gaan hulle iets in die sak bring en waarskynlik sal dit vir n ruk lank werk dan is hulle maar net volgende aan die beurt.

Toemaar ·

Ag, moet nou nie skuldig voel omdat jy vir die bontspan skree terwyl jy met die regering handjies vashou nie, toe. Gaan spring op jou reënboogvlag trekker.

Siener ·

Toemaar jy laat my nou lag, Mooi man. Jy het van sy toyota hilux met die JDeer sticker vergeet. Daai een waarop hy nog 70 x paaiemente op skuld

Hoe dan nou?? ·

@CR—Jy is duidelik ‘n rugby kenner wat lekker kan sing. Sing gou saam.—“Hier kom die bokke en daar gaan my grond.” Man ‘n bietjie up en staan waarin jy glo of sing die lietjie weer totdat jy dit verstaan.

cr ·

“hoe dan nou” Dit is vir my duidelik jy gooi handoek in voordat jy baklei waarin jy glo en wat reg is. Dit kan net sowel jou grond ook wees. Baie dankie vir TLU en Agri SA wat baie vir ons boere doen.

Hoe dan nou?? ·

‘n Boer moet nie wag dat iemand anders sy faait vir hom baklei nie. Hy moet self sy hande vuilmaak en die bul by die horings vat en dinge maak laat werk. Dis waarom ons BOERE genoem word. Om vir TLU en Agri Sa te wag om namens die boer te praat en besluite te maak is is en was nogaltyd rampspoedig.

Feite ·

Daar was genoeg gepraat en ongelukkig nie genoeg gedoen om die beste strategie te volg. Al wat nou oorbly is wag en sien wat gebeur, want die howe, gemeenskapsdruk en wetstoepassing gaan 100 keer sterker van die anderkant af kom!

James ·

Boere sal nou moet begin immegreer anders het hul niks. New Zealand soek graag boere. Tyd loop uit en hulle sal moet begin gaan voordat alles gevat word .

???? leser ·

hoeveel sukses verhale kan bewys word met land wat reeds weggegee is om bewerk te word, min, weinig

Hagar ·

“Hoe dan nou” waarvan praat jy? Ek het al hoeveel maal dit ervaar dat die sg. dapper manne eenvoudig weg krummel wanneer dit op die herrie afkom en nie die piep van n muis uit kry nie. Sommiges sal wel met groot agressie en brawde hul saak aanpak en hulself daardeur in die voet skiet.

DMC de Koker ·

Moet maar nie vir Agri SA te veel vertrou nie.
Hulle praat eintlik maar uit twee monde uit afhangende wie is hulle gehoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.