Nuuskommentaar: Plase die slagveld van waarheid en leuen

Argieffoto

Argieffoto

Plase moet voedselsekuriteit verleen – nie die slagveld word waar ideologieë en persepsies uitgewoed word nie. Persepsies van die werklikheid, eerder as die werklikheid self, skets die “vyand” wat ’n les geleer moet word.

Die boer op sy plaas wat sy aandag aan boerdery kan skenk, word ’n bedreigde spesie. Dit is daardie landmanne wat, sou hulle hul grond en bates verkoop en die opbrengs elders belê het, ’n veel hoër inkomste sou kon genereer sonder vrese dat droogtes, veldbrande, veediefstal, gewasdiefstal, die diefstal van implemente en gereedskap enige dag die mat onder hul ekonomiese voortbestaan sou kon uitruk. Waar die neem van sowat 2% wins uit die omset as betreklik veilig gereken is.

Om van plaasaanvalle en plaasmoorde nie te praat nie.

Nou moet ʼn boer nie net ’n wetenskaplike,  sakeman en bestuurder wees nie, hy moet ook ’n kundige van arbeidsverhoudinge en veral die arbeidsreg wees. Sy aandag verskuif van boer wees na burokraat wees om te midde van ’n magdom smorende wetgewing kop bo water te hou. Intussen moet hy soldaat vir sy gesin se veiligheid wees.

Hierdie skraal prentjie word gekoppel daaraan dat die grootste deel van die land as marginaal beskou word. Dis ’n land waar die hoogste reënvalgebiede in Suid-Afrika met die wêreld se gemiddeld vergelyk, en waar groot dele van die hoogste reënvalgebiede, volgens rëenval-isotoopkaarte,  tradisioneel vir bestaansboerdery benut word. Die wêreld se gemiddelde reënval oor land is 715 mm per jaar. Ander bronne gee dit as 860 mm aan. Suid-Afrika se gemiddelde reënval is 450 mm per jaar. Sowat 65% van die land se reënval is minder as 500 mm per jaar wat as die minimum vir droëlandbewerking beskou word. In baie lande waar die boerdery-omstandighede veel gunstiger is, word landbou gesubsidieer.

Tog word gereeld uit regeringskringe gehoor grondhervorming moet plaasvind om landelike welvaart te skep. Plase moet verdeel word, en kleiner boerdery-eenhede word gereeld bepleit, of andersins ’n beperking op die hoeveelheid landbougrond wat een eienaar mag besit. Ook pres. Jacob Zuma het die bewese kluitjie geopper dat dit histories so is dat die swakste landbougrond met die laagste reënval in swart besit is.

Uit die data van die meestersverhandeling van die Matie, Charl Swart, blyk dat sowat 85% van die swart mense glo witmense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Die “ander kant” beskou dit as ʼn groot leuen. Toe dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus in die parlement ʼn geskiedenisles oor die werklike toedrag van sake wou lewer, is hy erg verkwalik, van die president self tot die DA.

Die Kaapse kletsrymgroep Dookoom se liedjie, “Larney jou p***”, stel ’n wye reeks opvattings oor wantoestande op die plase aan die orde. Die Kaapse analis, dr. Christi van der Westhuizen, noem hierdie wantoestande die “materiële werklikheid”. Sy word oor haar artikel erg in die sosiale media gestriem.

Die land se post ’94-geskiedenis is swaar gelaai met pogings van die georganiseerde landbou om ’n ander werklikheid tot die land se kollektiewe bewussyn te laat deurdring, maar die “geveg” is teen ’n oormag van gevestigde persepsies en vooroordele. Daar is talle voorbeelde waar ondersoeke ten duurste gedoen is, en die bevindings eenvoudig onder die tafel ingevee is omdat dit nie die algemene persepsie pas nie. Die bekendste hiervan is die peperduur ondersoek deur ’n vorige premier van die Vrystaat, Winkie Direko, waar plaaswerkers van heinde en verre aangery is om oor die wantoestande te kom getuig. Die land wag nog op die verslag.

In die Wes-Kaap is meer as 80 sake van beweerde wantoestande of onwettige optredes deur boere gesamentlik deur Agri Wes-Kaap en die regering ondersoek, drie sake het voor die howe beland, maar uiteindelik is almal as vals bevind. Weke later is presies dieselfde sake by ʼn regeringsberaad in Gauteng geopper asof dit feite is.

Op Kerkplein het die destydse minister Lulu Xinwana tydens ’n saamtrek gal gebraak oor boere wat hul werkers sou verkrag en op ander maniere wreed behandel. Dit het later geblyk dat sy een voorbeeld gebruik het om te veralgemeen. In daardie stadium was dit egter reeds bekend aan die regering (wat die verslag vir die opposisie probeer geheim hou het) dat die saak deur die Onafhanklike Klagtedirektoraat ondersoek, en vals bevind is. Die klaagster, wat intussen tot bekering gekom het, het die boer om verskoning gevra. Tony Ehenreich en ander vuur-aanblasers het baie langtand aan hierdie verwikkeling gesluk.

Die jongste aanslag teen landbou is ’n vendetta oor “onwettige” plaasafsettings. Toe Agri Wes-Kaap te hard vir bewyse druk, het die deuntjie gaandeweg verander na afsettings in die algemeen, ongeag of dit wettig is of nie. Wettige afsettings word in terme van die Esta-wetgewing om goeie redes toegelaat.

Vanoggend berig RSG dat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti,  ’n span regs- en bemiddellingskundiges aangestel het om die onwettige uitsetting van plaaswerkers dwarsoor die land te beëindig. Dit volg na berigte, aldus RSG, van uitsettings in veral KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Wes-Kaap. ’n Woordvoerder van die departement sê die meeste uitsettings kom op die oomblik in KwaZulu-Natal voor. Sy sê gratis bemiddelings- en regsdienste sal verskaf word.

Maar Donderdag het dieselfde minister, aldus die Landbouweekblad, tydens Agri SA se kongres, die volgende gesê: “Ek het hierheen gekom om julle te oortuig om in te koop in die program van grondhervorming. Noudat ek gehoor het hoe ver julle beplanning al gevorder het, skaam ek my. Ek het niks om vir julle te sê nie.”

Dit herinner aan die woorde van ’n vorige minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, tydens ʼn vroeëre kongres van Agri SA dat daar ’n houdingsverandering van die regering teenoor kommersiële boere ingetree het. Waar die boere voorheen as ’n vyand beskou is, word hulle nou (van toe af) as vennote beskou.

Toe nou nie. Iemand het net die “reset”-knoppie gedruk.

Dit blyk by herhaling dat die amptenary binne veral die departement van landelike ontwikkeling (voorheen grondsake) met persepsies eerder as die werklikheid werk. As burokrate steur hulle hul ook nie veel aan werklike verwikkelinge nie. So het daar effektief dadels gekom van die landboustrategie wat Agri SA opgestel, en wat deur die destydse pres. Thabo Mbeki self onderteken is – na hy nog sekere aspekte met die unie uitgeklaar het. Dit sluit die protokol vir plaastoegang in.

Trouens, die burokrate se optrede het dikwels eintlik op minagting van die politici neergekom, maar ook dit vertel ’n verhaal oor die kwaliteit van die politici.

Deur die hele proses het die georganiseerde landbou hard probeer om na die regering uit te reik, en aan beraad op beraad wat deur die regering belê is deelgeneem. In minstens een geval het Agri SA uitgestap. Ook die TLU SA het al stem dik gemaak oor vordering wat ’n ruk later net nie meer bestaan nie.

Dit is doodgewoon ’n skande dat die minister nou Agri SA se kongres bygewoon het sonder dat sy amptenare hom vooraf op die hoogte van sake gebring het. Dit staaf die vermoede dat daardie amptenare ’n politieke agenda bedryf waar daar geen ruimte vir die werklikheid is nie.

In ’n land soos Suid-Afrika is daar min ruimte vir persepsies, stereotipering en blote historiese opvattings wat nie met die werklikheid steek hou nie. Voeg hierby ’n rasbeheptheid wat in talle wette en regulasies in stand gehou en verskerp word.

Dit verhinder die land om vorentoe te beweeg en mededingend te bly.

Uit dure ondervinding sal die landbougemeenskap ook nou die asem ophou dat iemand nie die minister se “reset”-knoppie druk en die situasie na “normaal” terugkeer waar die boer die vyand, en sy grond die slagveld word nie. Ongelukkig kos dit dikwels net een vrot appel om die vinger op die “reset”-knoppie te laat beland.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Leendert van Oostrum ·

BAIE goeie ontleding.

Die toestand in die onderwys is waarskynlik nog erger – daar is die gewete van die kind die slagveld.

Die Boere sal (hopelik voor dit te laat is) eendag leer wat “NDR” (die “National Democratic Revolution”) beteken en hoe dit die “reset”-knoppie permanent ingedruk hou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.