Nuuskommentaar: Burgeroorlog en persepsies oor grondhervorming, kolonialisme en ander

Pieter Groenewald tydens ‘n vorige toespraak in die parlement. Foto: Twitter

Dit is nog onduidelik of die huidige reaksie op die Vryheidsfront Plus-leier se waarskuwing in die parlement ’n soortgelyke storm as die Zille-twiet gaan oplewer, naamlik dat die wyse waarop onteiening sonder vergoeding nou as deel van die debat oor grondhervorming gedryf word, by gepoogde implementering op die tender vir ’n burgeroorlog gaan neerkom. Tog wys hierdie insidente op die belangrikheid dat die gaping tussen persepsies en werklikheid in hierdie land as voorkeursaak uitgepluis moet word.

Daar is vele lesse vir die huidige emosionele gronddebat te leer uit die stel wat die DA met Helen Zillle se twiet oor kolonialisme afgetrap het. Die tyd sal leer of die pleistertjie wat die DA opgeplak het gaan hou, onder meer teen die aanslag van die ANC en veral die EFF om dit af te ruk.

Maar intussen laai spanning in die gronddebat op en dit lyk nie of daar pleistertjies in die omtrek is nie. Inteendeel, die woord “burgeroorlog” oor dié kwessie het in die parlement ter sprake gekom en ’n groot storm ontketen. Deur dié opmerking en die sensitiwiteit daaromheen buite konteks te sensasionaliseer sal neerkom op die speel met vuur.

Nee, eie aan die aard van die landbougemeenskap is daar wel talle oplossings aangebied en ter hand – rasionele oplossings geskoei op die werklike geskiedenis, op die werklike boerdery-omstandighede, hulp van kommersiële boere aan nuwelingboere (aangebied en in sommige gevalle in weerwil van ’n koue skouer van die regering, geïmplementeer), beweerde korrupsie en menige bewyse van onbevoegdheid in die departement wat grondhervorming teen ’n slakkegang laat plaasvind en vele ander realiteite.

Maar, so het die Zille-insident geleer, in sekere kontekste tel die werklikheid niks, en is persepsies alles.

So word die groot leuen, soos die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit dit beskryf het, gewoon lewend gehou dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. In reaksie hierop het die TLU-SA ’n groot kontantprys uitgeloof vir elke geval van grondroof wat bewys kan word.

Die persepsie dat wit mense die grond gesteel het, word ook deur niemand minder nie as die president self lewend gehou, en het hom trouens ’n paar klagtes van haatspraak op die lyf laat loop – klagtes wat weer eens oor persepsies oor wie nou almal rassiste kan wees en wie nie – uiters onewehandig hanteer word en uiteindelik maar vir die doofpot bestem is. Hierdie soort uitlatings is in ieder geval ’n skending van die president se grondwetlike ampseed.

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Hierby aansluitend het Zuma by geleentheid gesê, en dis op TV uitgesaai, swart mense in die land het oor die algemeen die droër en onvrugbaarder dele van die land gekry. Reënvalkaarte vertel die teenoorgestelde verhaal. Indien so iets die president ontstel, moet hy gerus kyk waar lê die grootste landelike grondgebied van die nageslagte van die KhoiSan as hy wil kyk wie droë grond gekry het – gebiede soos Mier, die Richtersveld, Oppermansgronde, en ander, met Genadendal, Thaba Patchoa en ander waar dit natter is wat maar ’n klein deel van die totaal uitmaak.

Die konteks van die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, se opmerking oor burgeroorlog is dat die EFF en die ANC nou met radikale uitsprake oor grondonteiening om kiesersteun meeding. Die kwessie van onteiening sonder vergoeding roei die emosies.

Boonop is daar op die oomblik, weens die uitmergelende droogte, 20 000 plase teen gemiddeld 20% onder markwaarde in die mark – dit bied ’n gulde geleentheid om grondhervorming ’n hupstoot te gee en nié die beginsel van vrywillige verkoper, vrywillige koper, te blameer nie. As so ’n geleentheid misluk is dit moeilik om iets anders as die spoke wat die departement lamlê, te blameer.

Volgens die mediaverklaring van die Vryheidsfront Plus het Groenewald gesê: “(Dit is) uiters gevaarlik en onverantwoordelik om te dreig dat grond sonder vergoeding van wettige eienaars afgevat kan word aangesien so ʼn situasie selfs tot ʼn burgeroorlog kan lei.”

As Christene glo ons nie daar is so iets soos toeval nie. Dit is tog opvallend dat ’n artikel van die Amerikaanse ontleder Patrick J. Buchanan met die titel, “Are we nearing a civil war?” juis vandag saam met die jongste peilings van die agentskap Rasmussen versprei word. Wat Buchanan beskryf kom eerder ooreen met plaaslike pogings om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak deur na die aanslae teen pres. Donald Trump, ook vanuit sy eie administrasie, te verwys.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Hoewel hy wel geweld in die prentjie inbring, handel sy stuk nou eerder oor die opstel van die situasie wat tot burgeroorlog kan lei. Tog skryf hy die volgende: “To prevail, Trump will have to campaign across this country and wage guerrilla war in this capital, using the legal and political weapons at his disposal to ferret out the enemies within his own government. Not only is this battle essential, if Trump hopes to realize his agenda, it is winnable.”

Is dit moontlik om ’n burgeroorlog in die vorm van ’n koue oorlog te voer?

Afhangende van die definisies kan daar wel ’n saak uitgemaak word dat so ’n koue oorlog reeds woed, en nou deur veral die Zuma-faksie gestook word in ’n poging om sy eie magsbasis onder swart kiesers te probeer versterk. Soos met ’n koue oorlog is daar inderdaad ook “warm” konflik teenwoordig soos in die vorm van plaasaanvalle, en die regering se lamlendige, indien nie erg bevooroordeelde nie, reaksie daarop.

Die probleem met ’n koue oorlog is dat dit bloot ’n misverstand en die druk van ’n knoppie kan kos om ’n verwoestende “warm oorlog” te ontketen. Die posisie rondom die Oekraïne, en die Baltiese lande, Estland, Letland en Litaue, toon hoe kwesbaar die handhawing van die grens tussen ’n koue en warm oorlog is.

En weer eens die kwessie van realistiese versoening – ook geopper van die kant van Groenewald: “Boere is bereid om met die proses te help. Hulle is bereid om mentorskap te gee en hulle doen dit reeds. Daar word egter nie gebruik gemaak van hierdie welwillendheid van die boere in besonder waar dit gaan oor landbougrond nie.”

Thomas Walters, DA-LP, het aldus Media24 in sy spreekbeurt gesê hy hoop geen politieke party probeer stemme werf deur “populistiese oorlogspraatjies” nie. “Dit is goedkoop en onverantwoordelik.”

Begrip vir realiteit blyk uit Media24 se berig hieroor grootliks by LP’s afwesig te wees. Suiwer persepsie spreek uit die volgende: Sibusiso Mncwabe, NFP-LP, wat die debat aangevra het, het aan Groenewald gesê hy moet “wedergebore word”.

“Jy kan nie hierheen kom en sê ons vra vir ’n burgeroorlog nie. Ons voorvaders het vir die grond gesterf. As jy praat van burgeroorlog, is ons nie bang nie. Ons is gereed. Ons moet agbare lede daaraan herinner dat ons op en af in die gange van mag beweeg, maar (weens die feit) dat ons nog nie aandag gegee het aan die grondkwessie nie, huil die bloed en beendere van ons voorvaders steeds.” (Die NFP is nou in wese ’n surrogaatpartytjie van die ANC.)

Die tyd sal leer of Groenewald ’n striemende aanslag, soortgelyk aan dié wat Zille beleef het, op die lyf gaan loop, en of hy in soortgelyke styl in die parlement gedwing gaan word om sy stelling terug te trek (en om verskoning te vra). Dit is egter met onwilligheid dat ’n mens onthou hoe ’n ANC-LP (glo ’n adjunk-minister) in die debat oor plaasaanvale buite spreekbeurt uitgeroep het: “Begrawe hulle (die boere) lewend.” Geen stappe is so ver bekend teen dié LP gedoen nie … en is dit nie veel meer aanhitsend tot die potensiële uitbreek van ʼn burgeroorlog, as ’n waarskuwing dat aanhitsende uitsprake en optredes tot ’n burgeroorlog kan lei nie?

Maroela Media het oor die afgelope aantal dae in nuuskommentare gemaan dat die DA-situasie so opgelos moet word dat dit nie die problematiek in Suid-Afrika verdiep nie. Die opvatting (soms in die onlangse literatuur Afrika-nasionalisme genoem) dat persepsie (van die meerderheid) volledig in die plek van werklike feite aangebied word, is net pleistertjies oorplak. Zille se saak het oor ’n gebeure uit die verlede gehandel – dus ’n grootliks afgehandelde kwessie. Die verlede en die skadelike spore wat daaruit voortstu, kan nie heeltemal vergelyk word met ’n kwessie van grondbesit wat weliswaar sy oorsprong deels in die verlede het, maar NOU aktief die hede kan omsukkel en spanning langs rassegrense tot die uiterstes kan voer nie.

Kortom, die kolonialisme-kwessie kan grootliks vermy word – mits almal saamwerk. Dit help niks as die president vir Jan van Riebeeck van alles wat in die land verkeerd gegaan het beskuldig, en daarby ’n vals utopie skets van hoe vreedsaam swart mense in die land geleef het, en baie pret gehad het voor Van Riebeeck aangeland het, maar “die ander kant” mag nie eens die werklikheid noem nie.

En hoe moet ’n boer voel wat geld geleen het om grond te koop, jare hard gewerk het om dit op te bou, deur droogtes en ander rampe noustrop getrek het, om nou te verneem sy grond moet sonder kompensasie onteien word omdat dit van swart mense gesteel sou wees?

Almal in Suid-Afrika moet besin oor die stremmende uitwerking van persepsies teen werklikheid, en die kwessie uiters sensitief aanspreek. Anders, al kom daar nie ’n burgeroorlog nie, kom daar groot gemors soos die algehele ineenstorting van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

56 Kommentare

jongste oudste gewildste
wdp

Die VF+ het darem ruggraad en sal nie soos die DA terug kruip om tog net polities korrek te wees nie

PJ

Dan nou die dag gelees afgetrede Konstitusionele Hof Regter Albie Sachs gesè daar bestaan nie so n ding soos onteining sonder vergoeding in die Grondwet nie ? Seker maar weer tegniese punte

Jacques Venter

Beide Zuma en Groenewalt probeer munt slaan uit die grond kwessie. Sprake van oorlog en burgeroorlog is gewoon onverantwoordelik en ondeurdag.
n Plofbare situasie word deur selfsugtige politici uitgebuit ten koste van dieland en sy mense.
Probleme soos grond besit kan beste op grondvlak opgelos word. Politici moet asb nie die probleem uitbuit vir goedkoop gewin nie. Suid Afrika behoort aan almal nie net aan die politici nie

Jacques Venter

Die VF+ het niks om Suid Afrika te bied nie. Hulle Volkstaat droom is al lank gelede in die kelders van vergetenheid gebêre

JP Engelbrecht

Ons kan net saam staan deur gebed dat god die land sal red van die bose