Nuuskommentaar: Daai Engelse ope brief

‘n Skermskoot van die brief soos dit in gister se Volksblad verskyn het.

’n Ope brief op sy tyd is soos brood en konfyt, en as dit nog korrupsie en wanbestuur aan die kaak stel, en die konfyt vir die droogmakers soos kasterolie proe wat hulle tot vloermoere dryf, dan moet ’n koerant of ander instansie weet hy het sy werk gedoen en demokrasie gedien.

Hy is nie groot of fris nie. Nie luidrugtig of bombasties nie. Hy gooi nie vloermoer op vloermoer nie. Tog druk hy sy stempel deeglik af, al is dit nie so maklik nie as jou deugde jou oor heel knap seniors laat uitstyg het nie. Nee, hy moes met die pen, ’n skerp brein en baie gebalanseerde persoonlikheid die ding doen.

Dit is Gert Coetzee, redakteur van Volksblad. Voor sy aanstelling as redakteur moes Coetzee en sy jong Turke waarneem, en het hulle soos taks as formidabele mediakenners die wa nie net deur die drif getrek nie, maar tot op die beste beskikbare pad gesleep.

As Coetzee sy hand aan die kuberpen slaan, dan tref die vermoë om die styl en trant by die behoefte te laat pas, maar hy domineer nie die koerant se skryfwerk nie, nie eens dit wat tradisioneel in die redakteur en hoofredaksie se hande is nie. Volksblad het skitterende skrywers, met die nuushoof, Charles Smith, seker die bekendste. En hierdie hedendaagse Midasse tref met byna elke skryfpoging goud.

Maar gister het iets gebeur wat nie aldag gebeur nie. Die redakteur skryf ’n ope brief en plaas dit in Engels. Dis eintlik vir die oë van die premier en die burgemeester van Mangaung se oë bedoel. Die immer taktvolle Coetzee kon sekerlik ook nie anders nie – sy koerant en verslaggewers is nou net te veel deur amptenare sleg gesê, vals beskuldig en ’n senior vrouejoernalis is selfs aangerand. Dit was tyd dat Coetzee onbeskroomd voorloop vir sy soldate wat met penne gewapen is en duidelik en onverskrokke vir hulle in die bresse tree. Sy eie pen word diep in die ink – nie gal nie – gedruk en gedoen wat koerante moet doen – om as waghond op te tree. Dié waghond se byte is beskaafd en afgemete en daar word presies op plekke gebyt waar gebyt moes word.

Veral die een boodskap is duidelik. In ’n demokrasie mag die publiek weet wat aangaan, veral met hul belastinggeld. En as daar geswyg word, en veral nog op onreëlmatige wyse ’n deksel op ’n op die oog af onheilige brousel vasgedruk word, is dit die media se werk om die deksel oop te wring en die onheilighede na die oopte te bring sodat korrupsie nie onbepaald kan gedy nie. Die vyeblaartjie van swart ekonomiese bemagtiging kan nie bedek as dit blyk één persoon kan miljoene in sy sak steek om as tussenganger voertuie vir die Mangaung-vloot te voorsien nie.

Nie as die ouditeur-generaal vir die metro én sy elektrisiteitsliggaam pas gekwalifiseerde verslae uitgereik het, en die metro boonop onder administrasie geplaas is nie. Dis immers ’n provinsie met Eisj, en buite die ANC maak dit omtrent almal wantrouig. ’n Stad en provinsie wat ekonomies noustrop trek en waar werkloosheid hoogty vier, maar waaragtig kaviaar vir ’n geselligheid bestel is. En hoe kan die stad (en provinsie) se rioolprobleme beter gedemonstreer word as wanneer die kelder van die gebou waarin die wetgewer se personeel gehuisves word, deur riool oorstroom word.

Piesangrepubliek staan breed geskryf oor ’n provinsie waar die destydse premier, Comrade Eisj, ’n Pierneef-skildery wat amptelik aan die provinsie behoort, uit sy kluis haal en vir ’n personeellid present gee.

’n Stad en provinsie waar prestasies (in die regte rigting) so skaars begin word het dat daar selde meer van die kersie op die koek gepraat kan word – al is die Oos-Vrystaat kersiewêreld, en in die plek daarvan eerder gepraat moet word van die d*&l in die drinkwater. (Jammer Gert, hierdie taalgebruik is jou nie waardig nie, maar die uwe het net nie jou beskaafde finesse nie.)

Baie dankie aan jou en Volksblad wat so manhaftig die septiese sere takel, maar met ’n waardigheid wat selfs die eertydse modelrepubliek eer sou aandoen. Laat daar sommer nog baie sulke ope briewe kom, en al word geskree, gedreig en gekerm, hou vol tot die korrupsiespoke hul ry kry – verkieslik in oranje oorpakke agterin polisievangwaens na tronke vir geharde misdadigers.

Laat die vingers oor die goue toetse rol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gypsygirl ·

Herman ek hou van jou manier van n ding se. Geniet altyd jou skrywe.

Jacobus ·

Kan maar net byvoeg vir die betrokke joernaliste: “Well done!”
Komplimente vir joernaliste is deesdae maar skraps (meesal hulle eie toedoen).
En dankie vir Herman wat die positiewe nog kan raaksien tussen al die fophede (as daar so ‘n woord bestaan).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.