Nuuskommentaar: Die boer en grond(wet)

Argieffoto

Argieffoto

Grondhervorming bly ‘n baie sensitiewe kwessie, en die openbare debat gaan gewoonlik oor die vinnigste manier waarop landbougrond in wit besit aan swart mense, “beginnerboere” om polities korrek te wees, oorgedra kan word.

In werklikheid gaan dit oor eiendomsreg.

Dat die grondwet, nogal in die Handves van Menseregte, eiendomsreg waarborg, blyk al lank nie meer so gerusstellend te wees as wat dit was nie. Die manier waarop die staat minerale regte (in die handel en wandel as ondergrond bekend), met die seën van die appèlhof en die grondwetlike hof kon vervreem, het die regskonteks in ‘n heel ander wentelbaan geplaas.

Op die politieke terrein is sake nie minder kommerwekkend nie. Woensdag, by ‘n beraad oor eiendomsreg wat die FW de Klerkstigting, die Konrad-Adenauer-Stiftung en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge saam aangebied het, het oud-pres. FW de Klerk die ANC daarvan beskuldig dat hulle nie hul langtermyn ideologiese doelwitte tydens die Kodesa-onderhandelinge openbaar het nie. Hy lig ‘n aantal wette uit wat eiendomsreg kan ondermyn.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, skryf op Politicsweb onder meer die volgende: “South Africa’s present and future food production and food security needs can be met, if (we) are able to deal with our past and build on it the future envisaged in the Freedom Charter. Land reform is about dealing with our ugly past and trying to build a future for all the people of South Africa.”

Hoewel hy na die Vryheidsmanifes verwys (wat in wese nasionalisering voorstaan) verwys hy geensins na die grondwet nie. Mantashe toon veral in die jongste verlede min respek of begrip vir die grondwet, soos sy aanvalle op die Openbare Beskermer getuig. Dit het hom Donderdag via AfriForum ‘n klag by die polisie op die lyf laat loop.

In Mantashe se skryfsel word teruggeval op geykte, propagandistiese stellings oor die geskiedenis van grondbesit, wat geen basis vir goeie gesindhede bied nie. Ook tree hy die blanke boere aan om onder meer met mentorprogramme deel van die proses te word. Enige persoon wat net vaagweg met die landbou te make het, sal egter kan skets hoe die landbou – georganiseerd en individueel – al twee dekades lank (en eintlik daarvoor) aanbiedinge van gestruktureerde mentorprogramme gemaak het, maar strykdeur die koue skouer van regering en dikwels ook opkomende boere gekry het.
‘n Voorbeeld wat graag gebruik word is om die vraag aan ‘n verbruiker te vra wanneer laas hy ‘n Katrivier-lemoen gesien het? Dit het aan opkomende boere gegaan, en toe bure sien hoe die boorde tot niet gaan, het hulle aangebied om te help. Die hulp is van die hand gewys. Geen Katrivier-lemoene meer nie.

Hierdie soort verhale is volop, maar vind geen neerslag in Mantashe en kie se wêrelde nie.

Maar terug na die konferensie oor eiendomsreg. ‘n Algemene tema was dat die ANC net lippediens aan die Nasionale Ontwikkelingsplan betoon, en eerder die agenda van die nasionale demokratiese rewolusie dien.

Grondbesit word gereeld, ook deur pres. Jacob Zuma, met die verligting van landelike armoede in verband gebring. Zuma het ook reeds die kluitjies verkoop dat bestaande swart grondbesit hoofsaaklik tot die droër en onvrugbaarder dele van die land beperk is.

Die idee van die versnippering van landbou-eenhede in klein plasies – terwyl die land se werklikhede die teenoorgestelde tendens openbaar – het nog nie gaan lê nie. Elke jaar boer talle boere in Suid-Afrika uit, en die aantal kommersiële landbouers word al minder. Projeksies oor klimaatverandering in Suid-Afrika, veral die westelike dele van die land, is nie rooskleurig nie.

Die dele van Suid-Afrika met die hoogste reënval is ongeveer gelykstaande aan die wêreld se gemiddelde reënval. Die reënval-isotoop waar droëlandverbouing streng gesproke nie moontlik is nie, sny groot dele van die land uit. Hierdie isotoop val ook ooreen met die land se oorspronklike vestigingspatrone.

Om nuwelingboere op onlewensvatbare eenhede in marginale landboutoestande te vestig is ‘n resep vir armoede, veral as die land nie soortgelyke hulp aan boere bied as wat in groot dele van die wêreld soos Europa en die VSA gebied word nie.

Kortom, die grondhervormingsprogram, en veral die wyses waarop dit tot dusver bedryf is, is so riskant dat dit herbesin behoort te word.

Dit word al hoe meer ‘n pikante werklikheid dat diegene wat die huidige grondwet opgestel het, hulle die minste daaraan steur. Dit geld eintlik oor ‘n wye spektrum, van die ANC tot linkse kommentators wat onder meer Steve Hofmeyr se “draadjie geknip” wil sien.

Transformasieprogramme op universiteite lewer gereeld bitterbek-kommentaar van die drywers daarvan op wanneer ander die “grondwet misbruik” om die transformasiedoelwitte op die sinkplaatpad te laat beland.

Aan die ander kant bevind diegene wat nie juis die nuwe grondwet entoesiasties omarm nie, hulle in die posisie dat hulle moet klou en selfs howe toe moet gaan om daardie dele van die grondwet wat hul regte en belange beskerm, te kan opeis.

Dit lyk of dieselfde met eiendomsreg gaan gebeur wanneer nuwe wetgewing grondwetlik getoets sal moet word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.