Nuuskommentaar: Die koning leef, maar gaan hy lank leef?

Prins William en Kate Middleton

Maande ná koningin Beatrix van Nederland ten gunste van haar seun geabdikeer het, het die Belgiese monarg ook so gemaak.

Benewens aantreklike koninginne aan die sy van die twee konings, is daar min verdere ooreenkomste.

België het byna 200 jaar gelede ‘n onafhanklike land geword, met nie veel meer nie as ‘n gedeelde Rooms-Katolieke geloof wat die land as eenheid laat funksioneer het. In die proses is verskeie provinsies tussen Nederland en die noordelike Vlaandere deur die middel gesny, en dit is betreklik onlangs nog as faktor genoem hoekom Nederland en Vlaandere eendag saamgevoeg kan word. Dit sou egter die verdeling van België tussen sy Frans- en Nederlandssprekendes beteken.

Baie van die verdelende faktore tussen Nederland en Vlaandere het ook min of meer verdamp. Kerkbywoning het beide het skerp afgeneem, sodat die kloof tussen Katoliek en Protestant nie meer so pertinent is nie. Beide is lede van die Nederlandse Taalunie, wat toesien dat Standaard-Nederlands behoorlik beslag kry. Vir die Vlaminge was die migrasie uit ‘n hele aantal dialekte na dié vorm van Nederlands oor die algemeen groter as vir die Nederlanders, waar die moderne Nederlands tot ‘n groot mate uit die Hollands van die hoër klasse ontwikkel het.

In België self het die proses van staatkundige desentralisasie voortgegaan. Die Vlaminge het die meer welvarende deel van die bevolking geword, en moet die armer Franssprekende Wallonië jaarliks met miljarde euro’s subsidieer. Onder hierdie warm kombers wat die ywerige Vlaminge vir hulle bied, toon die Wale min sin vir vlyt en neig om vir hulle – en vir België, sosialistiese partye aan bewind te stel.

Byna alle Vlaminge is tweetalig, maar die Wale – wat die minderheid uitmaak, neig om nie net erg eentalig te wees nie, maar waak jaloers daaroor dat die Vlaminge nie dalk hul verpligte tweetaligheid inboet nie. Toe Vlaandere oorweeg om Engels ook as opsionele tweede taal op skool te laat aanbied, was daar heftige protes uit die Franssprekende gemeenskap.

‘n Maklike verdeling van België is daar ook nie – die grootliks Franssprekende hoofstad Brussels, is ‘n enklawe binne Vlaandere. En hier is die koningshuis ook gesetel.

Die koningshuis word sterk met die Franssprekende gemeenskap geassosieer. Tog het die nuwe koning Philippe die aand se verrigtinge afgesluit met die tweetalige: “Vive la Belgique! Leve Belgie!”

Kort voor sy kroning is ook goedkeuring verleen dat die nuwe koning die Franstalige tekste van amptelike dokumente met die Franse naam, Philippe kan onderteken, en die Vlaamse dokumente as Fillip.

Philippe het ‘n gedugte tak voor om eenheid te bewaar in ‘n land wat al hoe meer verdeeld raak. Die Vlaminge, oor die algemeen, neig tot die republikeinse regeringsvorm, veral as Vlaandere van Wallonië sou afskei. Trouens, dit is moontlik een van die hoofoorwegings hoekom Vlaandere nie maklik by Nederland, ‘n monargie, sal aansluit nie.

Die Wale, selfs saam met die klein Duitse gemeenskap, sou beswaarlik as onafhanklike landjie kon voortbestaan. Maar aansluiting by Frankryk, is geen eenvoudige taak nie. Eers twee jaar gelede het ‘n Franse peiling aangedui dat ‘n meerderheid Franse die insluiting van Wallonië sou goedkeur, maar die Franse is vuriglik republikeins, en plek vir ‘n monargie in sy geledere is moeilik om in te dink.

Die koningshuis het om ander redes ook ander druk gekom. Na die vorige verkiesing het dit 541 dae geneem om ‘n koalisieregering te vorm. In ‘n stadium is die koning eenvoudig van sy vakansie in die buiteland terug ontbied om sy grondwetlike rol in die proses te kom volvoer en is dit duidelik gemaak dat hy te veel vakansie hou. Die koning se broer, prins Laurent, het mettertyd ‘n wandelende verleentheid geword, en met die koning se abdikasie verbeur hy nou sekere voorregte, soos sy setel in die senaat.

Of die 53-jarige Philippe opgewasse is vir die koningskap, veral in die verdeelde België, sal net die tyd leer. Die geabdikeerde Albert reken wel so, maar Philippe se persoonlikheid tot dusver boesem nie veel vertroue in nie.

Hy het al te dikwels as broos voorgekom, en sy gesig is al as “biltongagtig” beskryf. En oor ‘n jaar is dit weer algemene verkiesing, en moet die koning weer een van sy min werklike rolle vertolk – om die proses van koalisievorming te genereer en te stimuleer.

Maar ook hier kyk die Vlaminge oorkant die grens waar die Nederlanders pas die monarg van hierdie taak gestroop het – en die daar is die koningshuis gewild.

Soos en Vlaamse politikus met die kroning van Philippe opgemerk het: “Die koningshuis hoort net op een plek, en dis in feëverhale.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Helene Cloete ·

Ek kan nie help om te wonder nie: Wat het die Hertog en Hertogin van Cambridge met dié storie te doen?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.